Goa het my in 'n vreeslike kontemplatiewe bui gesit - plekke soos Tibet en Israel het 'n spiritualiteit wat heeltemal anders is as enige plek waar ek al was, Goa het iets anders. Dis soos 'n tussen-in fase, as ek 'n mistikus was, sou ek dit beskryf het as die plek waar jou siel tussen we^relde sweef, maar ek is nie 'n mistikus nie. Dit is asof ek hier in die middel van 'n groot leegheid was - nie op 'n slegte manier nie, maar op 'n goeie manier. Ek het vreeslik baie gedink, miskien was dit ook vanwee" die boeke wat ek gelees het - ek het Ursula le Guin se kortveraalbundel The Birthday of the World klaargemaak, en ook The Dispossed. Dankie Johannes en Hanlie dat julle my aan haar voorgestel het, ek is lankal verslaaf. Miskien vir my is dit omdat sy graag skryf oor loners, nie eensame mense nie, net loners, mense wat lewenswyses kies wat hulle noodwendig op enkelpaadjies sit. En sy bevraagteken alles. Sy hou byvoorbeeld daarvan om 'n eenvoudige gedagte, soos die kommunisme en kapitalisme, te vat en heel om te swaai. In The Dispossed is die kommuniste vry. Hulle leef in 'n armoedige land, maar hulle het baie meer vryheid as die kapitaliste, wat sentraal deur die staat beheer word.
Altyd vrae. Dis seker wat ons bevoorregte klasse aan die gang hou.
Ek is besig om oral waar ek gaan inkopies te doen vir die winkeltjie wat ek gaan oopmaak wanneer ek terug is in SA, ek is ook besig om idees te kry vir my gastehuis in Teslaarsdal (wat ongelukkig baie lank gaan vat om te realiseer - daar is skielik so baie belangstelling in Teslaarsdal dat die munisipaliteit alle onderverdeling en hersonering gestaak het tot tyd en wyl hulle 'n grondgebruikplan opgestel het). So ek het vooruitsigte wanneer ek terug is. Maar ek wonder skielik oor sulke onbenullighede soos 'n eie besigheid. Ek het nou 'n groot deel van die wereld gesien, dit het my soveel so gestimuleer dat ek meer wil sien, maar ook nogal een groot vraag laat opkom: Ek het in plekke soos Kuala Lumpur en hier in Indie", en baie ander plekke, mense ontmoet wat geen moontlikheid het om soos ek die we^reld vol te reis nie. Mense wat soms letterlik twaalf tot veertien uur per dag, sewe dae per week, werk vir minder as 'n paar honderd rand per maand (min geld enige plek in die we^reld). Maar oor die algemeen kla hulle nie, hulle werk so hard, want hulle moet, dit gaan bloot oor oorlewing. Dis wat hulle aan die gang hou. Natuurlik geld dieselfde vir Suid-Afrika. Nou weet ek dit geld waarskynlik vir meer as die helfte van die mense van die wereld. (Lees Of Human Bondage deur W. Somerset Maugham vir die beste beskrywing ooit oor die arm klasse en hul rede vir bestaan.) Hoekom is mens dan soms nooit tevrede nie, wil altyd meer he^. As al wat nodig is, eintlik 'n bord kos, blyplek en dalk bietjie stimulasie vir jou brein is. Anyway, dis Goa wat my so laat dink. Tussen-in-fase. Ek moet binnekort terug huis toe.
Sunday, May 21, 2006
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
6 comments:
Haai Driesie, ek gaan vir jou 'n lekker koppie tee en 'n bord vol spaghetti bolognaise maak sodra jy weer in die republiek is, so lekker dat jy nooit weer sal wil reis nie.
Ek sien vreeslik baie uit daarna.
Ek sal vir jou 'n pot lensiesop maak as jy terug in die republiek is maar wel bereid is om in Oktober saam met my en Eth en haar suster die profeet Ethiopie toe te gaan.
Daarna kan jy bietjie stilsit tot Februarie.
Hoe meer mens sien, hoe meer wil mens sien. Ons wat baie reis, sal nooit net gelukkig ons voete in die lug kan laat rus nie, daardie mense wat niks sien nie en soms niks wil sien nie, het op 'n manier 'n meer salige bestaan. Ek bedoel nie om so hard te werk nie, maar om nie te wonder en kriewelrig te raak oor wat anderkant die grens aangaan nie. Ek lees jou blog en raak baie jaloers omdat ek op die oomblik stilsit.
Nou is ek in 'n moeilike posisie . . .
Daar moet seker 'n rede wees hoekom Esau sy geboortereg vir lensiesop verkoop het, en nie spaghetti bolognaise nie. So as dit jou dalk kan help met jou besluit...
Post a Comment