Thursday, November 30, 2006

Pluimpie

Ek kan nie anders nie, ek moet 'n pluimpie hier gee vir die SA Poskantoor (wat my al soveel hoofbrekens in die verlede gegee het). Ek pos gister, om 13:30, 'n 'Fastmail'-brief met belangrike dokumente (vir die oordrag van my huis in die Karoo) na Hopetown (so 200km suid van Kimberley). Die brief is in Roggebaai, Kaapstad, gepos. Vandag om 12:21 ontvang ek e-pos van die prokureur op Hopetown dat hy my dokumente gekry het. Minder as 24 uur later! Ek is verstom. Die poskantoor het of die brief gistermiddag opgevlieg Kimberley toe en toe per pad na Hopetown gevat, of gister baie kort nadat ek die brief gepos het, dit op 'n trokkie na die Noord-Kaap gelaai. Wys jou net, dit kan gedoen word.

Tuesday, November 28, 2006

Daar is net niks


Ek gaan Februarie hiernatoe en probeer al die afgelope week of wat om 'n guide book oor die plek te koop. Nie dat ek ooit die guide book se praktiese wenke gebruik nie (in my ondervinding is hulle byna altyd verkeerd) maar wel vir agtergrondinligting, geskiedenis ens. Maar daar is wraggies geen boekwinkel in die Kaap wat enigiets oor hierdie plek het nie (wel, snaaks genoeg, oor sy meer ongewilde buurman). Ek was by al die Exclusive Books-takke (Tygervallei, Waterfront, Stellenbosch, Kloof, Somerset Mall) en vele ander boekwinkels, ook tweedehandse boekwinkels van Observatory tot Stellenbosch. Maar, helaas. Dit maak my natuurlik net meer lus om te gaan. Duidelik is dit wel nie 'n baie geiwlde bestemming vir SA mense nie. Wie kan raai? Dis nie so obvious as wat dit dalk uit die foto lyk nie.

Tuesday, November 21, 2006

Dis my huis


Ek het hom toe gekoop. Eintlik al twee weke gelede, maar dinge beweeg stadig op die platteland. Die agent het Vrydag eers vir my gese^ my aanbod is aanvaar, nadat ek haar gebel het. Dis die laaste goedkoop huis op die SA platteland. Verder ondertoe is bietjie meer oor die dorp.

Dis my land (finaal)


Die laaste paar foto's van my blitsreis deur die land. Vissers by Vishoek (waar anders?)


Een pikkewyn in die suidpool, aan die Kaapse Waterfront. (Die nuwe yskroeg daar is 'n interessante gedagte, maar vir die prys kan jy eintlik maar vir 'n rukkie in enige drankwinkel se koelkas gaan staan, dit voel en ruik dieselfde.)


En een pikkewyn by Boulders in Simonstad.


Sononder in Afrika. Die foto se naam is 'Touch the Sky'.


Alml wou graag die besonderse sonsondergang by Clifton vasvang.


Koebaai Jeff. My vriend is terug na Kuala Lumpur, maar ek is oortuig daarvan hy gaan met nuwe kennis oor SA terug en sal beslis weer hier 'n draai kom maak. En ek sal natuurlik gou weer soontoe gaan, sy land is vir my so spesiaal soos my land vir hom is.

Friday, November 17, 2006

Dis my land (3)

Hierdie reeks gaan nog 'n rukkie aanhou, want nou dek ek eers die Kruger-wildtuin en dit was aan die begin van my blitsreis deur die land om my Maleisiese vriend in te lyf in die wondere van Afrika. Die Kaap kom nog. Pienk Zuit was ook onlangs in 'n nasionale park, Addo, en ons is albei van mening dat SA se nasionale parke tops is. Die geriewe is wonderlik, die pryse is goed en wat jy daar beleef, kan jy op min ander plekke beleef. Ek was diep beindruk met Kruger, ek was meer as ses jaar gelede daar en dis net so wonderlik soos altyd. Daai grootsheid en die wildheid is darem net spesiaal. En my Oosterse vriend het ook so gedink.


Jeff iewers langs die pad tussen Orpen en Satara. Hier mag jy uit die kar klim, ek onthou baie goed 'n paar jaar gelede toe 'n Taiwannese toeris opgevreet is toe hy voor 'n leeumannetjie gepose het vir 'n foto . . .


Kuiergaste by die tent, elke oggend en elke aand.


Hierdie wonderlike tent is baie billik geprys en heerlik! Binne het ek gevoel of ek eintlik in 'n luukse safarioord is en nie in 'n nasionale park nie.


Maar selfs in die Kruger wink die nagliggies soms . . .


Hoe dan nou anders as die amperse volmaan ons geselskap hou.


Nou wat staan nou weer op hierdie bottel geskryf . . .

Tuesday, November 14, 2006

Dis my land (2)


Pelgrimsrus het 'n besige klein plekkie geword sedert ek laas, baie, baie jare gelede, daar was. Die strate wemel van mense en daar is nou selfs modelle waar jy kan poseer vir 'n foto, teen 'n fooitjie natuurlik.


God's Window in Mpumalanga. Enough said.


Dis nie die Jakarandastad nie, maar dis die eintlike Jakarandastad. Hoeveel mense weet dat Johannesburg die grootste mensgemaakte woud in die wereld is?

Hoekom

Die Chinese vertel:
Hoekom raas krieke so?
Want hulle wil graag vir ons (as mense) 'n baie mooi storie vertel, maar ons verstaan nie hulle taal nie. Maar hulle wil regtig die storie vertel, want dis belangrik, so hulle hou aan en aan om te probeer.
Mooi, of hoe?

Thursday, November 09, 2006

Dis my land

Ek het pas teruggekom van 'n heerlike blitstoer deur ons pragtige land (hierdie post se datum is verkeerd, ek het die foto's Donderdag gelaai, maar nie tyd gehad om verder te post nie. Dis nou Sondag.) Ek is steeds in ekstase. Daar is darem nie nog so 'n mooi plek nie. Ek gaan nog 'n paar keer post oor die plekke wat ek saam met Jeff, my Maleisiese vriend wat vir my kom kuier het, gesien het. Dit was baie interessant om 'n reis saam met 'n buitelander deur my eie land mee te maak, ek sien dinge wat ek dalk sou gemis het. Iets wat my onmiddellik opgeval het op hierdie trip is dat toeriste in SA nie meer plaaslike mense is nie - al die plekke waar ons was, was meestal vol buitelanders, in sommige gevalle was ek die enigste SA mens. Dit is seker ook omdat dit nie nou vakansietyd is nie, maar ek onthou nog die dae toe mens buiteseisoen in SA gereis het en jy byna geen siel gesien het nie, beslis nie buitelanders nie. Dit voorspel baie goeie dinge vir die bedryf en die land.


Ons het 'n lekker Opel Corsa Sport, splinternuut, gehuur vir die trippie af wildtuin toe. Jeff is 'n Chinese Maleisier en baie, baie lief vir die kamera. Hy neem alles af. Dis op die tweede dag in die ooptes van Mpumalanga daar by Witbank se wereld, wat selfs vir hom mooi was omdat dit so oop is, al is dit darem nou regtig nie die mooiste plek in die land nie.


By die Old Transvaal Inn op Dullstroom, waar Jeff braaf genoeg was om pap en wors en potjiekos te probeer. Hy het gese^hy is nou in SA, en wil SA kos eet. Nogal anders as party ander Oosterlinge saam met wie ek al gereis het, wat net hul eie land se kos wil eet, come hell or high water. O, die Chinese lyk almal so jonk.


Toe ons oor die platorand daar by Pelgrimsrus se wereld ry, wou Jeff net foto's neem. Hy het dit "Broken Mountain" genoem. Hy het gese^ my land is so rustig en so mooi, hy kan nie verstaan waarom ek graag in Asie wil gaan werk nie.


Die Blyderivier-canyon. Ekself was baie lanklaas hier en dit was net eenvoudig skouspelagtig. Ek wil graag vir die Kapenaars wat reken dat die beskaafde wereld duskant Worcester ophou se^: julle mis uit! Ek was baie, baie lanklaas in Mpumalanga en het nie besef wat ek gemis het nie. Die berge, die uitsigte, die vars, blou lug. Die grootsheid van dit alles.

Friday, November 03, 2006

Wys hom alles


Volgende week loop rondloper weer rond. Jippieee! Ek kry 'n besoeker van Kuala Lumpur en dan gaan ek hom op 'n blitstoer deur die land vat. Ongelukkig kom hy net 'n week, maar ek gaan hom die beste van SA wys. Ons gaan Krugerwildtuin (ek moet hom darem wilde Afrika wys) toe, via Mpumalanga en die Blyderivier-canyon, en dan vinnig afvlieg Kaap toe vir 'n paar dae hier. Meer kan jy nie in so 'n kort tyd sien nie, en beter ook nie. In Kruger gaan ons in een van die safaritente soos op die foto hierbo bly, in Tamboti-kamp. Ek was lanklaas daar, kan nie wag nie.

Drama


Toe ek 'n kind was in Roodepoort het ek hierdie op kasset gehad, 'n copy van 'n copy en die klank was maar power. (Dis natuurlik die oorspronklike teks se weergawe, nie die Tom Cruise-ding van onlangs nie.) Vandag loop ek in Look and Listen in Canal Walk rond en wat 'n verrassing, die War of the Worlds musiekblyspel op CD verwerk in 'n pragtige houer met 'n lekker dik boekie by. Koop, koop! Ek is vanaand baie gelukkig, dis heerlike musiek. En tog so dramaties. Vat my ver terug.

Thursday, November 02, 2006

Halfwegstop


Ek gaan binne die volgende twee dae besluit of ek wel hier, Strydenburg in die Karoo, 780 km van Kaapstad en omtrent dieselfde afstand van Johannesburg, minder as twee uur van Kimberley, 'n vakansiehuis wil koop. Die dorp is bekend vir die groot pan (regs op die foto as jy mooi kyk, maar dis nou droog) wat nadat dit gereen het 'n see van pienk flaminke word.


Straattoneel. Karoo-huisies en grondpaaie. Die Karoo is besig om groot te raak, maar hier is dit nog baie goedkoop.


Daar is heelparty huise op die mark. Hierdie is een van die twee waaruit ek wil kies. Spotgoedkoop. Kort aandag.


Hierdie is die tweede opsie. Dubbel die prys van die vorige een, groter, baie netjies, maar ongelukkig binne 'gemoderniseer'. Al die karakter, soos die houtvloere en mooi, ou deure is uitgehaal en vervang met nuwerwetse dinge. Maar wel baie netjies.

Wednesday, November 01, 2006

Spesiaal vir Willem


Ek is nou 'n vryskutwerker hier.