Thursday, August 31, 2006

Hou my warm


Dit is koud in Roodepoort. Binne dae is ek hier, waar dit warm is.

Waarheen gaan jy

Dit was 'n hartseer twee weke, en eintlik twee maande, vir die Gouws-gesin. My tannie is sowat twee maande gelede dood, my niggie (haar kind) verlede week en my ouma vandeesweek. Daar is mos mense wat se^ sulke dinge gebeur in driee". My ouma was baie oud en het 'n lang lewe gehad, dis maar die verloop van die lewe. My niggie was so oud soos ek, en dis nogal 'n skok. Mens besef maar net weer dat jy nie tyd het om te mors op hierdie aarde nie, die lewe is kosbaar en daar is nie tyd vir nonsens nie. Ek het baie gedink na my niggie se dood, mens wonder mos maar altyd wat doen jy nou eintlik hier en waarheen gaan jy. Sal jy ooit weet as jy veronderstel is om nou tevrede te wees, of is daar maar altyd iets meer en beter wat jy soek?

Waar kom jy vandaan


Wie was jou oupa?

Ek is soms graag 'n toeris in my eie land. Ek was nou 'n paar dae in Roodepoort, vlieg more na Bangkok. Toe ek nog 'n klein seuntjie was en met verwondering in my oe" gedroom het oor al die verre lande, het baie mense my erg kwaad gevra of ek darem my eie land ken. Ek is baie trots om te erken dat ek waarskynlik al meer van my eie land gesien het as die meeste mense. Die noorde van KwaZulu-Natal is omtrent die grootste uitsondering, verder was ek al van Thohoyandou tot Hermanus, Kokstad tot Springbok, Matatiele tot Uniondale en so gaan dit aan.
Vandag het ek Maropeng, die nuwe besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom, net buite Krugersdorp, besoek. Dit is ook die deel van die land waar ek grootgeword het.
En wat 'n wonderlike ervaring was dit nie. Daar is geen plek op hierdie hele aardbol wat kan spog dat hy die beginpunt van die mens soos ons hom vandag ken, was nie, behalwe hier net buite my grootword-plek. Omtrent 200 000 jaar gelede het die eerste moderne mense hier gewoon. Dis die plek met die meeste geskiedenis ter wereld.
Ek was al baie in die Sterkfontein-grot (Mev. Ples se huis), en ook by Kromdraai se Wondergrot, waar nog fossielvondste gedoen is. Maar Maropeng is nuut. Die Wieg van die Mensdom is 'n Werelderfenisgebied (in my skooldae was daai die omgewing waar die maplotters gewoon en mekaar gedonner het as hulle lus kry, maar dinge verander . . . )
Nou (die maplotters is nog daar, so effentjies) is daar 'n skouspelagtige nuwe besoekersentrum op die rand van die Magaliesberge. Toe ons vandag soontoe ry, was die gras vaal en die lug vol stof, tipiese Hoeveldse wintersdag, maar allerhande ou herinneringe het vir my teruggekom. Daar is darem net iets spesiaal aan hierdie soort dae. Ek het sommer weer gedink aan al die drome van 'n jong seun, wat daarvan waar geword het en waaroor ek steeds droom, dit alles danksy die skerp wintersluggie en die stof wat oor die berge gewaai het.
En toe kom ons by Maropeng, wat 'n meesterstuk van SA argitektuur is. Van ver lyk dit soos niks, 'n vaal grasheuwel, maar die sentrum is so gebou dat dit inpas by die omgewing, grotendeels ondergronds en wat bogronds is, pas goed in. Binne is wonderlike uitstallings oor evolusie, wat jy bereik deur met 'n bootjie op 'n ondergrondse meer te vaar, met donderweer wat klap en bliksemstrale wat blits. Alles baie opwindend.
My ma was bietjie ontsteld oor die hele evolusie-ding, want waar pas die Bybel dan in, wou sy weet. Ek het nie lus gehad vir 'n lang, filosofiese gesprek daaroor nie, maar my verduideliking was bloot dat selfs die Big Bang gesien kan word as die skepping, en vandaar het ons as mense ontwikkel. Soos toe die Hemel en Aarde geskei is, vra sy toe. Netso! Sy was tevrede daarmee.


Die Maropeng-sentrum se ingang. Dit lyk asof dit net 'n grasheuwel is. Die mure van die koepel daar voor is inderdaad met gras beplant.


En wanneer jy al die ondergrondse tonnels bekyk het, dan kom jy hier uit, met 'n uitsig van die Magaliesberge voor jou en hierdie baie aardse gebou agter jou. Dis mos slim, relevante bouwerk hierdie, g'n Toskaanse twak nie.


Die agterkant van die sentrum kyk uit oor die Magaliesberge, daar is 'n restaurant, skemerkelk-kroeg en ontspannings-'lounge' waarvandaan jy oor die berge kan tuur. En die hele gebou smelt saam met die omgewing.

Tuesday, August 29, 2006

Dis daar


Sommige mense het my al gevra presies waar is Kambodja dan. Hier is 'n kaart om hulle te help.

Sunday, August 27, 2006

Al die veld is vrolik


Ek het hierdie naweek die pad gevat na die Overberg, so 'n vinnige draai gaan maak op Teslaarsdal en toe Hermanus aangedoen. Soos jy oor Sir Lowry's ry, ontvou die een ongelooflike toneel na die ander, daar is plate en plate blomme, soos hierdie, en die koringlande is lowergroen.


Ek was meer as agt maande laas op my plasie by Teslaarsdal, en wou net graag weer gaan kyk hoe lyk dit en op my stukkie Afrika-grond staan voordat ek weer hierdie week Kambodja toe gaan. Daar was al voorheen prentjies hier van my grond, hier is dit uit 'n ander hoek, vanaf die grensdraad.


En so lyk die huise in Teslaarsdal self. My grond is net langs die dorp.


So een en 'n half kilometer aan die ander kant van die dorp, op die Hermanus-pad, het ek hierdie foto geneem. Teslaarsdal is 34 km van Caledon en 39 km van Hermanus. Jy kan net met 'n grondpad soontoe ry, en ek het byna vasgeval hierdie naweek, maar gelukkige het my (antieke) BMW 4x4-funksies en ek het gemaklik elke slaggat en donga gekruis. Toe ek op Hermanus aankom, toe lyk dit wraggies of ek ge4x4 het.

Friday, August 25, 2006

Sonja, Sonja!


Ek het gisteraand na hierdie show gaan kyk. En, ja, ek is nie eens skaam om dit hier te erken nie. Ek het bietjie gesukkel om iemand te kry om saam met my te gaan, mense wat hulle neuse optrek vir wat ek reken een van Suid-Afrika se beste sangers is. Daar is geen twyfel nie, in die meeste mense se koppe is Sonja Heroldt nog dieselfde vrou wat met 'n piepstemmetjie twintig jaar gelede allerhande ligsinnige liedjies gesing het (daar is 'n tyd en plek vir alles). Hiedie show van haar is net eenvoudig fantasties. Sy het die laaste jare regtig gegroei as kunstenaar (in 'n rigting wat ek van hou) en ek dink sy is wonderlik. Baie van haar ou songs is steeds fantasties, sy het dit net effens verwerk en gemoderniseer (dis op haar CD Reconstructing Alice). Sy het een deel van gisteraand se show in 'n Che Guevara-T-hemp gedoen. Wonderlik! Dis regtig 'n goeie vertoning, Sarah Theron is ook daarin, en dis baie modern en hip. Dis nie die Sonja wat die meeste mense ken nie, maar dit is wel die liedjies wat jou terugvoer na 'n ander tyd. Ek dink sy is soos Abba, tydloos.

Wednesday, August 23, 2006

Lees dit ook


Lammervanger het by my onderste post navraag gedoen oor die woord wat hy geskep het toe ek gehelp het om Wegbreek te sub. Die uitgawe is vandeesmaand op die rakke (dis die September-uitgawe en lyk soos op die prentjie hierbo), en as jy daardeur lees, sal jy onder meer afkom op 'n foto van die uwe waar ek in Nieu-Seeland op 'n gletser sit, my 'medewerkers'-foto vir die maand, en dan is daar 'n artikel waar die woord 'skoffelsnoetakkedis' verskyn - dis lammervanger doer in Australie se skepping gewees! Augustus was vir my 'n besige vryskutmaand, dinge raak nou stiller, en oor 'n week is ek op pad terug na die wonderlike Verre Ooste waar ek my hart verloor het.

Tuesday, August 22, 2006

Lees dit


Hierdie is nie net 'n baie insiggewende tydskrif wat onlangs 'n verjongingskuur ondergaan het en nou baie lekker lees nie, maar hierdie maand (September-uitgawe) verskyn daar ook 'n kort artikel deur die uwe oor Kandy in Sri Lanka. Koop die tydskrif en lees my artikel dus!

Saturday, August 19, 2006

Die donker land wink


Ek lees op die oomblik hierdie boek. Die skrywer vertel onder meer daarin hoedat die Khmer Rouge in Kambodja sommige mense vermoor het deur hul koppe met 'coconut crushers' stukkend te druk totdat dit oopbars. Dink jou dit in . . .
Ek vertrek oor twee weke weer soontoe, dus hou gerus hier dop vir al die jongste nuus oor rondloper se gastehuisplanne in Kambodja. Dan gaan ek ook 'n draai in Borneo maak om te ontspan na die intensiewe soektog na 'n gepaste huis in Kambodja.

Nuwe buurman


In my laaste jaar of wat by Die Burger was ek die sterreman, ek het allerhande artikels geskryf oor die sterre en planete, meer uit belangstelling as noodwendig indiepte kennis, maar ek het dit vreeslik geniet en gevolglik ook 'n gesonde, voortdurende belangstelling in die diepste buitenste ruimte opgetel. (My belangstelling het natuurlik voortgevloei uit my gastehuis op Sutherland, ek moes darem my gaste beindruk met my kennis, en my teleskoop soortvan kon gebruik). In elk geval, nou lees ek die laaste paar dae in die koerante daar gaan moontlik binnekort twaalf planete (in ons Melkweg) wees, en nie net nege nie.
Fassinerend, dink ek. Ek wonder hoe die skrywers van die sterre voorspel dit gaan hanteer?
Ek het destyds by die koerant baie graag Nasa se webwerf hier en die Europese Suidelike Sterrewag se webwerf hier besoek, veral die ESO se webwerf is wonderlik, daar is pragtige foto's van dinge wat mens nie aldag sien nie. Ek sien ook vandeesweek SALT (die Sutherlandse groot teleskoop) het 'n groot ontdekking gemaak, maar daar is geen foto's op SALT se webwerf nie! Vir wat nie? SALT is veronderstel om netso goed of beter as die ESO se groot teleskoop te wees, dan moet hulle dit mos wys op hul webwerf dink ek.
Vir diegene wat kinders op skool het en nie die koerantartikels naby het nie, hier is die twaalf nuwe planete, van naaste aan die son tot verste: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Ceres, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus, Pluto, Charon en 2003 UB313 (miskien sal hulle die laaste een Xena noem). Dis nog nie amptelik nie, teen 26 Augustus sal ons weet of ons nou nog 'n buurman gekry het, net anderkant Mars (dit sal Ceres wees). Die ander nuwe planete is te ver weg om te dink aan kuiertjies daar.

Monday, August 14, 2006

Sterre en so

My kop werk oortyd na aanleiding van 'n baie interessante gesprek op slapendehonde oor Buck Rogers en toe lei dit tot 'n vraag oor die TV-program Interster. Ek onthou die program baie goed, dit was marionette (baie gevorderd) wat altyd met hul ruimtetuie uit die Kaap vertrek het om mense te gaan red. Maar toe raak ek verward, want daar was ook Redding Internasionaal, wat die Afrikaanse weergawe van die Britse Thunderbirds was. Die twee (Interster en Redding Internasionaal) is amper presies dieselfde wat karakters aanbetref. Ek het onlangs, ek dink dalk in Thailand, 'n paar episodes van Thunderbirds gesien en dit het my heeltemal verwar, want ek het onthou dit speel af in die Kaap, maar Thunderbirds doen nie, en ek het nie dadelik besef dit was twee verskillende programme nie. Nou na aanleiding van die bogenoemde blog-gesprek het ek besluit hierop wil ek 'n antwoord he^.
Na deeglik navorsing, het ek tot die volgende gevolgtrekking gekom. Ek dink Interster was 'n skaamtelose nabootsing van Thunderbirds, omdat die SAUK in daai jare (laat 70's en vroee 80's) skielik nie meer Britse reekse kon bekom oor die Equity-verbod nie.
Dit werk so: Thunderbirds is in die 1960's begin, die SAUK het eers in 1976 met TV-uitsendings begin.
In 1972 en veral in 1976 het die Equity-verbod stewig ingeskop. Nou ek raai dat die SAUK dalk een of twee reekse van Thunderbirds gekoop het voor die verbod, dit vertaal en gewys het, en dit was uiters gewild. Toe raak dinge moeilik, en wat moet hulle nou se^ vir al die Afrikaanse kindertjies wat graag wil sien wat die manne van Redding Internasionaal doen?
Maak 'n nabootsing! En Interster is in die laat 1970's en vroee 1980's uitgesaai, die datums maak vir my sin. Volgens sommige webwerwe 1983.
Ek dink dus dit is wat gebeur het, en toe raak Interster sommer baie gewild, ek is een wat regtig graag daarna gekyk het. En as jongeling was Interster en Redding Internasionaal vir my dieselfde program - die base by die SAUK het daarin geslaag om vir die wit jeug te wys daar is niks fout in die we^reld nie, terwyl Soweto brand en die we^reld al meer sanksies toegepas het, het ons kalm lewens ongestoord voortgegaan. Sommige websites beweer Interster was vol politieke boodskappe, maar ek kan dit nie meer onthou nie.
My inligting kom veral van Wikipedia en allerhande gespreksforums.

Altyd 'n eerste keer


Ek is besig om geleidelik my nuwe dorp bietjie meer my eie te maak. Ek bly darem nou al meer as 'n maand hier, maar vir iemand wat nooit hier (dis nou op Stellenbosch) geswot het nie (en dus in baie mense se oe" nie volledig mens is nie), en eintlik die plekkie nie baie goed ken nie, is dit nogal 'n heel nuwe (aangename) ondervinding om hier te woon. Al is dit dan bloot tydelik. Ek het die naweek vir die eerste keer in my lewe Jonkershoek toe gegaan, wat 'n prettige uitstappie was dit nie. En toe het die dag, soos seker maar tradisie is, ontaard in 'n Akker-kuier en later het ons selfs Stones gaan uitprobeer, wat verfrissend anders en merkbaar meer multikultureel is. My kuiermaat onthou heelwat minder van die aand as ek.

Friday, August 11, 2006

Sou jy?


Ek het mos al voorheen beweer die Japannese is bietjie anders as die res van die mensdom. (Maar natuurlik hou ek, om daai rede, baie van al die Japannese wat ek al ontmoet het, dis soos 'n vars briesie in 'n wereld van konformiteit.) Nou wat presies probeer hierdie advertensie se^? Wens ek het die taal gepraat, want ek sou baie graag wou weet wat nou eintlik die boodskap is. Sou jy, as jy hierdie advertensie volgende week in die Huisgenoot sien, die selfoon koop?

Tuesday, August 08, 2006

Waarheen gaan die mensdom?


Aangesien ek nie 'n TV het nie, en soms my koerante bietjie laat lees (ek het eers vandag die Sondagkoerante gelees), tref dinge my soms 'n paar dae laat. Maar hierdie massa-hondemoorde wat nou in China aangaan is net te verskriklik vir woorde. Blykbaar gryp hulle sommer jou hond van jou af as jy gaan loop met hulle. En slaan die hond dan net daar voor jou dood. Dit het verlede week in een stad gebeur (dis nou glo om hondsdolheid te bekamp), 50 000 honde is doodgemaak, en nou gebeur dit in nog 'n ander stad ook. Wat kan 'n mens se^ oor sulke dinge? Hondsdolheid maak mense dood, ja, maar daar is ander maniere om die probleem op te los, soos ent die honde in daarteen.
Hier's iets wat CNN berig, oor die eerste slagting, die volledige artikel is hier.
SHANGHAI, China (AP) - A county in southwestern China has killed as many as 50,000 dogs in a government-ordered campaign following the deaths of three local people from rabies, official media reported on Tuesday.
The five-day massacre in Yunnan province's Mouding county spared only military guard dogs and police canine units, the Shanghai Daily reported, citing local media.
Dogs being walked were taken from their owners and beaten to death on the spot, it said. Other killing teams entered villages at night creating noise to get dogs barking, then homing in on their prey.
About 360 of the county's 200,000 residents suffered dog bites this year, with three reported deaths, including a 4-year-old girl, the report said.

Sunday, August 06, 2006

Vrydagaand


Ek het hierdie DVD in Phnom Penh gekoop. Daar is 'n DVD-winkel net so naby die Onafhanklikheidsmonument op 'n groot, besige straat, van buite lyk dit baie indrukwekkend en groot, en above board. Maar die DVD's kos almal net $2 een, en vir elke vyf wat jy koop, kry jy een gratis. So dis seker alles fakes. Maar dis iets vir 'n ander post. Interessant genoeg was daar natuurlik DVD's soos The Killing Fields, hierdie een, en ook baie prominent uitgestal was Hotel Rwanda. As jou eie land 'n volkslagting beleef het, voel jy seker 'n mate van belangstelling of selfs aangerokkenheid tot 'n ander plek waar dit ook gebeur het.
In elk geval, gisteraand begin kyk daarna (ja, as ander mense op Vrydae-aande aan die kuier raak, sit ek by die huis en kyk dokumentere programme. Wel, minstens hierdie naweek, ek is in 'n cocooning-bui). So, die video is ongelooflik intens.
Dis 'n klompie oudsoldate van die Khmer Rouge en twee van hul gevangenes wat oorleef het (net omdat hulle gevange geneem is enkele dae voordat Vietnam Phnom Penh bevry het) en die groepie ontmoet by die Tuol Sleng-tronk (nou 'n museum, alles is letterlik netso gelos deur die Vietnamese, as herinnering aan wat gebeur het) en dan herskep die deelnemers wat daar gebeur het. Vir my wat baie vreemd was, is dat nie een van die oud-Khmersoldate ooit erken hulle was verkeerd nie. En die ironie is dat daar letterlik nog tienduisende van hulle vry in Kambodja rondloop. Logies ook, want almal wat nie Khmer Rouge-ondersteuners was nie, is doodgemaak. Tussen 2 en 3 miljoen van hulle. Ek dink net dit moet verskriklik wees vir 'n nasie om te weet die kans is goed dat die mens wat langs jou op die bus ry, waarskynlik 'n massamoordenaar was. Ek weet hulle beplan hofsake vir van die leiers van die Khmer Rouge wat nog oor is, maar of dit ooit gaan gebeur, sal mens maar moet sien. Ek vra myself die vraag, hoe gebeur dit dat mense skielik in diere verander en hul eie broers en susters (letterlik, of selfs ouers) vermoor ter wille van Die Party. Dis wat daar gebeur het.
Ek dink nie mens sal ooit weet wat in die mense se koppe aangegaan het nie, dit interesseer my baie. Toe ek nog op skool was, het ek een keer 'n roman deur PJ Haasbroek, 'Die Jaar Nul' gelees. Dis gebaseer op Kambodja, dit het my vreeslik geruk al was dit bloot 'n storie (gebaseer op die waarheid). Ek het baie jonger Kambodjane ontmoet wat natuurlik eers na die Khmer Rouge se tyd gebore is, hulle praat nie oor wat gebeur het nie. Ek was saam met 'n Kambodjaan by een van die Killing Fields, hy het ons rondgewys, maar toe later tjoepstil geraak en op pad terug niks gepraat nie. Ek dink dan dat iets soos die WVK wat ons hier gehad het, regtig tog nodig was, en baie goed gedoen het. Mens wil minstens bietjie huil en skreeu oor wat verkeerd was, en die ou wat verkeerd gedoen het hoor erken dat hy verkeerd was, en dan gaan jy aan. Maar in Kambodja is daar bloot stilte. En dit fassineer my.

Friday, August 04, 2006

Nog weernuus


Vir mense wat dalk nog nie die foto's gesien het nie. SA is die afgelope paar dae geteister deur verwoede storms wat kuslangs 'n klomp huise vernietig het en baie oorstromings veroorsaak het, en in die binneland het dit sneeu gebring, selfs 'n bietjie in Johannesburg waar dit laas gesneeu het toe ek in graad twee was (ons is toe almal vroeg huis toe, die stad is heeltemal bedek deur 'n wit sneeukombers, dit was in September, een week voor my verjaardag!). Hierdie foto is van Sutherland, waar die sneeu baie diep is. Dis voor die munisipaliteit se gebou. Die kerksaal steek net-net agter uit, en my gastehuis was (wel, is, hy is nog daar maar nie meer myne nie) net agter die kerk.

Tuesday, August 01, 2006

Bo-aards


Hierdie foto's van die eienaardige, pragtige wolke is nou op die web te sien, is dit nie pragtig nie? Dis hier op ons eie planeet al lyk dit so bonatuurlik. Dat so 'n natuurverskynsel eintlik moeilikheid voorspel...
Hier's 'n verduideliking van Reuters waaroor dit gaan:
Extreme weather conditions have produced a rare cloud formation over Australia's Mawson station in Antarctica.
Meteorological officer Renae Baker captured spectacular images of the nacreous clouds, otherwise known as polar stratospheric clouds, late last month.
Reflecting like an airborne mother-of-pearl shell, the cloud colours are produced when fading light at sunset passes through water-ice crystals blown along a strong jet of stratospheric air more than 10 kilometres above the ground.
A weather balloon measured temperatures down to minus 87 degrees when the photographs were taken.
Australian Antarctic Division atmospheric scientist Andrew Klekociuk said the clouds were seldom seen but could have long-ranging effects.
"These clouds are more than just a curiosity," he said.
"They reveal extreme conditions in the atmosphere and promote chemical changes that lead to destruction of vital stratospheric ozone."
Eintlik beteken dit dus dat global warming besig is om al erger te raak. Kyk nou maar na Europa wat so warm is hierdie somer, en hier by ons in SA sneeu dit in Bloemfontein en Johannesburg - die weer, soos altyd, is vol uiterstes.