Sunday, July 30, 2006

'n Ander nasie



Die Japannese is nou maar net anders as enigiemand anders, hulle sien die wereld net heel anders - hierdie is een van die snaaksste videos wat ek in 'n ruk gesien het. Dis hulle idee van Candid Camera. Moenie kyk as jy sensitief is vir toilethumor nie. Maar nie a la Leon Schuster nie, baie snaakser.

Wat is die waarheid?

Ek is een van daai water-van'n-eend-se-rug-mense. Dinge ontstel my gewoonlik nie, ek is nooit 'n fighter nie, ek (glo) ek verstaan die wereld soos hy is, so dinge pla my nie. Ek stel gesond belang, ja, maar dis dit. Maar vandag het ek my moer behoorlik gestrip vir die klomp malles wat besig is om websites te skep om vir die wereld te vertel hoe sleg Suid-Afrika is. Ek praat van die versekeringsmakelaar Neil Watson, in Kampsbaai nogal (SKATRYK uit Suid-Afrika dus), en nog 'n ander site, www.southafricaiscrap.blogspot.com. Daar was vandag 'n artikel in die Argus oor hierdie twee, en nog een of twee. Dit pla my dat mense wat eintlik erg oningelig is, besig is om die hele wereld, wat maar net so oningelig is, nonsens oor SA te vertel. Ek het op my onlangse reis regtig baie mense ontmoet wie se eerste vraag was of SA dan nie gevaarlik is nie. Interessant genoeg was hulle almal van Europa, Amerika, Kanada, Nieu-Seeland of Australie. Die Asiers self het nie gevra nie, hulle stel nie belang in ander lande se probleme nie, hulle het hul eie, veel erger soms. En ek verstout my om te dink die ander het by Suid-Afrikaners wat in hul lande woon, gehoor hoe gevaarlik dit kastig hier is.
Maar dit is my punt, die wereld is nie 'n volmaakte plek nie, daar is oral probleme, mense wat nou gaan staan en websites skep oor SA wat so die slegste in die wereld is, is bloot oningelig. Daar is nie plek vir sulke denke in hierdie dag en tyd nie. Ek weet ons het voorheen op pienkzuit 'n gesprek hieroor gehad en dit het soms warm geraak. Ek is die eerste een om te erken dat geweldsmisdaad in SA dalk die ergste in die wereld is, wat ons van weet. Ons weet nie wat gebeur in Brasilie, Argentinie, Indie, China - lande op dieselfde vlak van ontwikkeling as ons, met veel meer mense as ons, maar geen stats nie - maar, ja, misdaad is sleg hier. Dis ook sleg op ander plekke. Ons kan nie probeer maak of ons Kanada of Nieu-Seeland is nie. So leef in die werklikheid, dis eintlik al wat ek vra. En probeer op jou klein manier om dinge beter te maak.
In elk geval, die klomp neo-Nazi het my so vies gemaak (nadat ek die Argus-storie gelees en toe soos 'n dwaas na die websites gaan kyk het) dat ek 'n ietwat kwaai brief geskryf het vir albei sites. Ek sal nogal wil sien of hulle dit publiseer. Ek dink ons as Bloggers kan probeer om die southafricaiscrap-site toe te maak deur Blogger se admin-mense te bombardeer met briewe oor die rassistiese aard van die site. Gaan kyk maar, dis eintlik 'n plek vir white supremacists. Ek glo in elke moontlike vorm van vryheid van spraak, maar nie haatspraak nie.
O, nog iets, Neil Watson van crimexpouthafrica het allerhande SMS-peilings op sy site teen R3 per SMS. Ek wonder of hy die geld gebruik om misdaad te bestry.
Hier is die brief wat ek geskryf het (met skuilnaam, ek wil nie my naam op daai site sien nie)
Sir,
I dare you to publish this letter on you website, as I find it very interesting that the only options for comments or votes you leave on your website are for people to agree with you. Vote for Neil to expose crime, vote for Neil to prepare a class action etc. Register as an ordinary South African to expose the truth (your truth?) etc. Were you well trained by the previous white government in SA? Sounds like it.
Maybe some day you guys (and girls) will wake up to the real world. There is no room in this world for utopian visions of safe, white societies (except maybe in some Nazi colony in the Chilean mountains, they exist, check them out, you might like them). There is no safe place anywhere, the world is full of fallible people, everyone has problems. I am a white South African, quite happy here, the opportunities are endless.
There are places with worse crime (there are more house break ins in Canada than here, check it out on the UN website), and most places we should compare ourselves to don't have stats. Face it, this is not Australia or Switzerland, in what world do you live?
You need to wake up and face the facts that you are not happy here, so leave then. Go to some so called safe place like New Zealand and start writing about the crime there if you have nothing better to do, trust me it exists, in same cases worse than here.
Maybe the moon is an option for you.
May you find peace somewhere,
Jacques
PS What do you do with the proceeds of all those expensive vote SMS's that people send you?

Saturday, July 29, 2006

'n Huis vol musiek


Ek is nou nie 'n man wat spog oor dinge nie, maar ek het vandag vir my 'n Ipod-HiFi gekoop en ek dink dis min of meer die beste ding wat ek nog ooit gekoop het. Dit kos 'n paar rand, maar daar was 'n special by Incredible Connection sodat dit eintlik net omtrent R200 meer kos as wat dit by die Apple-winkels in Amerika kos, dus was dit die enigste verskoning wat ek nodig gehad het, want vandat ek begin lees het oor die ding wou ek hom he^. Dis ONGELOOFLIK!!!! Jammer dat ek skreeu. Dis 'n kleinerige speaker, dis eintlik al, baie swaar en gepak met tegnologie. Ek het hom nog nie eens op sy hardste gespeel nie, ek is bang die bure hier in Welgevonden kla. Wat hy ook doen, ek weet nie hoe Apple dit reggekry het nie, die musiek is letterlik die hele huis vol. Dit klink asof daar in elke kamer 'n speaker is (toegegee die huis is kleinerig). En dit klink nie soos 'n stereo in 'n ander kamer wat te hard is nie, dit klink asof die stereo in die kamer is waar jy is. Die ding staan bo, maar as ek afloop ondertoe, is die klank net so helder, skerp en in stereo. En byvoorbeeld in die woonkamer waar ek nou sit, die klank is oral om my, uit daai kleinerige dingetjie. Dit omring jou, soos 'n stel baie goeie oorfone. Ek is nou vir ewig 'n Apple-fan (ek doen mos nou al lank reklame vir hulle!). As enigiemand die kans kry om iewers die Ipod-Hifi te toets, doen dit, jy sal nie glo wat jy hoor nie. Ek is regtig tevrede. Ons praat nie hier van gewone ou rekenaarspeakertjies nie, dis so goed soos 'n topklas en baie duur stereo-stelsel, en soveel eenvoudiger en kompakter.

Wednesday, July 26, 2006

Winter in die bos


Die naweek se reen het opgehou, dit was baie nat en koud hier in Stellenbosch. Toe ek gister werk toe ry (ek doen op die oomblik vryskut-subwerk vir Wegbreek) was die Boland net so pragtig. Jy kan die vorige nag se reen nog sien blink op die gras, maar die lug is helder en blou en skoongewas.


En net so 'n entjie verder het die son agter hierdie bospaadjie opgekom. Dit het my laat dink aan The Unbearable Lightness of Being.

Monday, July 24, 2006

Slagter van Kambodja

Aangesien ek in September teruggaan na Kambodja met die plan om 'n huis te soek wat ek kan huur en gebruik as gastehuis, volg ek nou die nuus van daardie deel van die wereld met meer aandag as gewoonlik. Interessant is dat omtrent drie dekades nadat die Khmer Rouge uitgeskop is, nadat hulle miljoene mense doodgemaak het, is niemand nog in 'n hof verhoor vir die slagting nie. Een van die groot slagters is pas dood, en ek lees op die BBC daar is steeds mense wat hom as 'n held beskou. Die hofsake teen die oorblywende Khmer Rouge-leiers begin dalk volgende jaar (dan sal ek van daar kan berig!) Maar ek kan byna nie glo dat mense, na soveel lyding, steeds iemand wat sonder om te skroom mense afgemaai het, 'n heldebegrafnis kan gee nie. Ek sien hulle gaan ook 'n monument vir hom oprig. As jy baie arm is en die Khmer Rouge het jou toe gehelp, vergeet jy seker van die swaarkry in vergelyking met nou se swaarkry.
Die BBC skryf:
Hundreds of Cambodians have paid their respects to Ta Mok, a former Khmer Rouge leader nicknamed "The Butcher".
In a traditional Buddhist funeral ceremony, incense was burned and prayers recited over Ta Mok's body, which was daubed with white powder.
The ceremony took place in Ta Mok's former stronghold of Anlong Veng, in the north of Cambodia.
Ta Mok, who died on Friday, was the regime's military commander and linked to many atrocities of the 1970s.
About 1.7 million people died under the Khmer Rouge, through a combination of starvation, disease and execution.
Ta Mok was the only Khmer Rouge leader who refused to bargain with authorities following the collapse of the regime, and he was arrested in 1999 near the Thai border.
Hier is 'n storie van die BBC oor wat hy gedoen het en wie hy was.

Saturday, July 22, 2006

Sneeu op die berge


Daar is vandag so 'n dun lagie sneeu op die Bolandse berge hier net buite Stellenbosch. Dis regtig koud. Hier waai so 'n snerpende wind wat klink asof dit die dak gaan afwaai. As ek mooi foto's kry sal ek dit wys, maar hier is 'n kouefoto van my uit Nieu-Seeland, op 'n gletser. Soos julle kan sien, al sit ek op 'n soliede stuk ys, dra ek 'n kortbroek want ek ek kry nie so koud soos ek vandag in Stellenbosch kry nie. Verstaan dit nie eintlik nie.

Tegnovrate

Podcast101

Miskien preek ek vir die converted. Dit gaan steeds oor podcasts. Ek was eens op 'n tyd regtig nie 'n groot fan van Apple en die ipod nie, ek het een gekoop en was aanvanklik bietjie teleurgesteld - nou kan ek met skaamte erken dis omdat ek net doodeenvoudig dom was en die ding nie ten volle benut het nie. Ek het selfs toe 'n ander MP3-speler gekoop, wat aanvanklik vir my makliker was om te gebruik, maar nou is ek weer terug by Apple. Dit is darem net regtig so eenvoudig, nadat jy itunes afgelaai het, is daar niks meer om te doen nie, hy laai elke keer self alles wat nuut is.
Maar eintlik wil ek skryf oor Indiefeed, dis een van die podcasts wat jy op itunes kry, dis musiek. Gratis! Jy kan verskeie soorte musiek kies, soos folk, electronic, alternative rock en so aan. Dis nie eintlik mainstream nie, en is waarskynlik juis daaroor wonderlik. Ek laai byna daagliks 'n nuwe folk song af, en as daar genoeg is, kan jy 'n CD maak van al die nuwe liedjies, vir niks geld nie. Die hele doelwit met hierdie spesifieke podcasts is om die kunstenaars aan 'n wyer gehoor bekend te stel, en dit werk soos 'n bom.
Jy kan waarskynlik Indiefeed se podcasts aflaai op ander soorte MP3-spelers ook. Maar as jy 'n tegnofoob is soos sekere mense wat ek ken en nie hier gaan identifiseer nie, is die maklike oplossing om itunes af te laai en dit te gebruik, want die program doen alles vir jou. (Ek weet podcasts is nie eksklusief 'n Apple-ding nie.)
Maar, al het jy nie 'n ipod nie, kan jy steeds itunes aflaai van die internet af (gratis) en dan ook inteken op enige van hulle derduisende podcasts, wat jy op jou rekenaar kan aflaai en kan brand op CD. Ek dink dis ongetwyfeld die maklikste manier. Jy sal dit waarskynlik nie kan aflaai op 'n ander soort MP3 nie, want AAC-files (Apple se musiekfile) kan meestal nie op enige ander speler gespeel word nie. Maar jy kan wel luister op jou rekenaar.
Ek sien daar is nou 'n hofsaak in Frankryk aan die gang, een of ander drukgroep wil Apple dwing om itunes beskikbaar te maak as enige soort musiekfile, dat jy dit dus op enige speler kan speel. Interessante kwessie, want Apple het itunes geskep om 'n eksklusiewe produk te skep wat jy net op die ipod kan speel, dus moet jy die ipod koop en Apple maak geld want itunes is so wonderlik dat almal 'n ipod wil he^. Dis seker die redenasie gewees.
Dit was, moet ek bieg, aanvanklik een ding wat my gepla het van die ipod, jy kan nie eintlik eingiets anders doen met jou musiek behalwe dit op die ipod speel nie. Maar nou het ek uitgevind jy kan wel CD's brand, en jy kan natuurlik dit as jou default-speler op jou rekenaar gebruik, wat tog lekker is, want dis 'n baie gerieflike program.
Dat ek nou so oop en bloot loop en vir Apple adverteer! Mens sou dink ek word betaal daarvoor. Ek sal graag wil weet hoeveel mense is ipod-ondersteuners en hoeveel gebruik ander soorte MP3-spelers (Windows-gebaseer), want jy kan nie eintlik albei gebruik nie - dis net te veel moeite. Watter een is die beste? Kom ons stem!

Sunday, July 16, 2006

Uit ons argiewe


By een van die tempels in die Angkor Wat-kompleks by Siem Reap in Kambodja. Met hindsight besef ek net weer eens watse ongelooflike plek dit is. Ek gaan September weer soontoe, dan sal ek daarna kan berig oor waar en of my beplande gastehuis in Kambodja gaan gebeur. Ek oorweeg ook van die kleiner, minder ontdekte dorpies, maar sal die besluit neem wanneer ek terug is daar.


Ek is besig om al my baie foto's uit te sorteer. Een ongelukkige insident, een van die CD's wat ek in Indie laat sny het, het 'n virus op, dus sukkel ek my dood om daardie foto's oop te kry. En honderde ander klante van dieselfde winkel sukkel nou ook seker. Ek vorder daarmee, maar dit vat lank. Nou krap ek af en toe ander foto's uit. Hier is 'n polisieman op een van die vele ou Portugese stadspleine in Macau, onder die stad se sestiende-eeuse katedraal.

Teslaarsdal ontdek


Ek en my blog en my plasie in Afrika was gister 'n eregas op RSG se reisprogram! Ongelukkig het ek die program gemis, dit was bietjie vroeg (my ma het my sewe-uur die oggend gebel om te vertel dat ek moet luister) maar toe het ek nog vas geslaap. Jy kan my nie so vroeg op 'n Saterdagoggend bel nie, veral nie as ek die vorige aand saam met my vriend positiewedenke in Die Akker gekuier het nie. Maar blykbaar was dit 'n reisprogram en die aanbieder was vreeslik opgewonde oor die wonderlike nuwe plekkie wat hy ontdek het: Teslaarsdal. Dis so 30km buite Caledon op die Hemel en Aarde-pad uit vir diegene wat nie weet nie. En die aanbieder vertel hoe hy op die internet gesoek het vir inligting oor Teslaarsdal, daar is min beskikbaar, en wat hy gekry het was my blog en my vorige post oor die plek. Hy het my geidentifiseer as die 'outjie' wat so die hele we^reld vol toer en wat 'n plasie in Teslaarsdal besit. Hy het hom sterk uitgelaat teen my planne om die grond te onderverdeel, maar wat hy natuurlik nie besef nie is dat die meeste stukke grond daar te klein is om ekonomies op te boer, dus as mens die omgewing bietjie wil laat ontwikkel, is die beste uitweg om van die grond te onderverdeel vir residensiele doeleindes, dan kan mense byvoorbeeld naweekhuisies daar opsit, wat sal lei tot 'n kleinerige toerismebedryf. Maar ek dink die plek is nou ontdek. Eiendom is steeds goedkoperig daar, spring dus gou as jy belangstel (dis baie naby aan Hermanus en ook Greyton na die ander kant toe, plekke waar eiendom reeds onbekostigbaar duur is).

Dalk ou nuus, maar nie vir my nie

Ek besef dis waarskynlik nie nuut vir enigeen wat my blog lees nie, maar ek het met 'n passie podcasts ontdek. Ek het geen TV nie, ek luister graag nuus op die radio of lees baie koerante, maar podcasts is net die beste ding ooit. Toe ek nog 'n klein skoolseuntjie was, het ek altyd saans wanneer al die ander mense in die huis slaap met my kortgolfradio gespeel en tussen al die statika deur allerhande wonderlike stasies opgevang. Vir my was dit amper asof ek besig was om iets stouts aan te vang, want ek het graag geluister na Radio Moskou, Radio Pyongyang, een of ander stasie uit Oos-Berlyn en so aan, alles eintlik erg verbode in daai jare (ek praat nou van diep in die apartheidsjare en 'Rooi Gevaar'-tyd). Dan het ek vir hulle geskryf met 'n verslaggie oor wat ek gehoor het, dan stuur hulle altyd vir jou 'n poskaart of 'n geskenkie, ek was baie trots op my briewe uit Moskou (so ene uit vier het aangekom, die res vermoed ek het die geheime polisie in Pretoria onderskep). In elk geval, podcasts is vir my die moderne weergawe daarvan, ek kan kies presies watter soort nuus of inligting ek soek, dit eenvoudig aflaai en daar gaat jy, jy kan luister wanneer en waar jy wil. Ek was altyd en sal altyd bly 'n groot fan van die BBC, dus het ek reeds ingeskryf op 'n klomp van hulle podcasts, wonderlike dokumentere programme wat mens nie eintlik hier by ons op die radio hoor of op die TV sien nie. Tensy jy natuurlik 'n dstv-intekenaar is, wat ek eens op 'n tyd was en toe kom ek agter alles word oor en oor en oor herhaal, jaar na jaar, toe los ek dit maar. Apple se itunes het klaar al die moeite gedoen en lang lyste saamgestel van sommige van die beste podcasts beskikbaar. (Ons wat in SA woon kan mos nie musiek aflaai van itunes nie, maar die podcasts kan ons wel aflaai, en dis gratis). Jy teken in op die wat jy wil luister en elke keer as jy jou ipod inplug dan laai itunes self al die jongste episodes af. Wonderlik! Die wereld gaan nooit meer dieselfde wees nie.

Friday, July 14, 2006

Jy mag nie jou TV verkoop nie

Ek is jammer ek was so stil. Sedert ek terug is in SA was ek net te besig vir woorde - met persoonlike administratiewe rompslomp of met werk, ek is in die gelukkige posisie dat ek sommer 'n klomp vryskutwerk gekry het omtrent die oomblik toe ek van die vliegtuig afgeklim het.
Maar nou gaan ek kla oor die geheel en al onbeholpe SAUK. Voordat ek weg is (Januarie), het ek my TV verkoop en die SAUK gebel om my lisensie te kanselleer. Anders land jy sommer op 'n swartlys. Om 'n TV-lisiensie in SA te kanselleer moet jy na die polisie gaan, waar jy 'n beedigde verklaring moet afle^ dat jy nie meer die trotse eienaar van 'n TV is nie, en jy moet ook die naam van die koper van jou TV gee, sodat die SABC hom kan gaan opskroef.
Dan moet jy die verklaring faks na die SABC, en jou lisensie is gekanselleer. In 'n droomwereld ja.
So kom ek na ses maande terug in die land, nadat ek al bogenoemde gedoen het, net om twee dreigbriewe in die posbus te kry: betaal NOU jou SABC-lisensie of ons sit ons prokureurs op jou en jy beland op 'n swartlys. Stomend van woede bel ek toe hulle 'hulplyn', twee keer, twee keer hou ek byna tien minute aan, geen antwoord. Skryf toe maar e-pos (in sterk taal), waarop ek ook geen antwoord kry nie. Want my gevoel is, ek het die lisensie gekanselleer, ek het die bewys dat ek die faks gestuur het, iewers het iemand nie hulle werk gedoen nie en dit was nie ek nie.
Bel toe 'n derde keer, kry wonder bo wonder antwoord, nee meneer, dis geen probleem nie, ons het jou kansellasiebrief gister (dis nou 30 Junie, ses maande nadat ek dit gefaks het!) ontvang. Moenie worrie nie.
Nie 'n week later nie word ek gebel deur die SABC se prokureurs en gedreig om NOU te betaal. Toe is ek darem kwaad. Baklei eers met die vrou, maar sy bied toe vreemd genoeg aan om te help, want sy kan ook insien die SABC is verkeerd. Ek faks toe maar vir haar die bewys van my kansellasie, en sedertdien is almal stil. Hopelik nou uitgesorteer. Maar ek dink dis 'n groot skande, die SAUK skroom nie om jou te laat sleg voel as jy nie jou TV-lisensie betaal nie, maar as jy dit heel legitiem kanselleer, soek hulle blykbaar in elk geval steeds jou geld. Dis 'n skande.

Wat gaan aan?


Die groot vraag is, is die man op die linkerkant (dis nou Ricky Martin as jy nie weet nie) meer aangetrokke tot mense van sy eie geslag? Of nie? Die foto (een van 'n hele reeks) laat my, en baie ander soos People magazine, nogal wonder.

Friday, July 07, 2006

Verskonings, verskonings

Jammer ek was die laaste paar dae bietjie stil. Eerstens was ek besig om te trek na my nuwe huis in Stellenbosch, 'n plek waar ek nog nooit gewoon het nie en dit is inderdaad pragtig. En verder was die geluksduiwel aan my kant en ek is hierdie week oorval met vreeslik baie vryskutweerk. Maar hou moed, ek post binnekort weer. Nog nostalgiese terugblikke en ietsie oor my nuwe dorp volg.