Wednesday, May 17, 2006

Goa


Goa is 'n heel ander gesig van Indie - dit was honderde jare Portugees en hier is meer Christene as op enige ander plek in Indie. Maar baie Hindoes aanbid Jesus soos nog een van hul duisende gode, kyk maar na die Hindoe-blomme om die kruis. Onder is Anjuna.


Langs die strand by Anjuna - nog kruise.


Dit is Anjuna, ek bly daar tussen die palmbome.


Dis waar ek gister die hele ganse dag gesit en boeklees het. Op die strand in Vagator, net so entjie noord van Anjuna.

Ek is nou al 'n paar dae in Goa - een van daai plekke wat ek lankal van droom om te besoek. Jammer as ek bietjie lanklaas geblog het - dinge gebeur stadig hier. Goa is bekend vir sy hippies, laid-back leefwyse, vreeslik baie dwelms, Goa trance, Portugese nalatenskap. Dis 'n heerlike plek. Laat my bietjie dink aan Mosambiek. Dit lyk heel anders as ander plekke in Indie, tot 1961 was Goa inderdaad nog 'n Portugese kolonie. Hier is oral verlate Portugese villas wat leegstaan want die erfreg bepaal dat die huise vir ewig aan die afstammelinge van die eienaars behoort - hulle is meestal in Portugal en stel nie meer belang in hul huise hier nie. Verder is hier katedrale op elke heuwel, en natuurlik ook heelwat Hindoe-tempels. Dis nie 'n plek met vreeslike sights nie, bloot die laid-back Portugese atmosfeer en die strande is wat mense hierheen trek. En natuurlik Goa trance. Ek het gisteraand gaan kyk na een van die klubs (mens moet darem sien wat aangaan), en dit was nogal nice. Die plek is bo teen 'n heuwel in Vagator, dit lyk soos 'n moddergebou in die Sahara-woestyn, neon-liggies om die palmbome, die dansvloer is buite en bloot grond, en ver onder is die palmbome en die strande. Met trance-musiek wat speel, iets wat ek nie ken nie, maar ek het 'n lekker aand gehad. Gekuier saam met 'n Jappanese ou, Take, wat al 'n maand lang hier bly. Teen vanoggend vroeg het ons doelloos op sy motorfiets in die strate rondgery en die koel oggendluggie geniet. Sorgvry. Dis wat mense doen hier. Hulle kom pak af en bly maande, gaan dans in die aand, gaan le^ op die strand in die dag. Het ek al gese^ sorgvry? Vir 'n week lank gaan ek ook net chill. Dis waaroor Goa gaan.
Gisteraand in die klub was daar iets wat my aanvanklik baie ontstel het en toe dink ek weer daaroor. Daar was 'n jong egpaar, man en vrou, seker so laat 20's, met drie kinders, aldrie jonger as vyf. Die jongste is nog 'n baba wat pas begin loop het, hy's nog onvas op sy voete. Maar ma en pa sleep hulle saam na die oorverdowende geraas van die klub. En die kinders dans saam, selfs die baba, terwyl ma en pa rook en drink. Wat gaan van daai kinders word - hul lewe is Goa trance, hulle gaan ongetwyfeld soos ma en pa word, dink ek. En is dit noodwendig verkeerd, wonder ek toe. Het pas 'n kortverhaal van Ursula le Guin uit The Birthday of the World gelees, die storie se naam is Paradises Lost. Dit gaan oor aardlinge wat op 'n baie lang reis na 'n nuwe planeet, 'n nuwe aarde is. Later ontstaan 'n sekte op die skip, en die sekte predik dat die reis eintlik die bestemming is, die reis is al die vreugde wat mense nodig het. Wanneer hulle by die planeet aankom, klim net 'n kwart van die mense af, die res kies om vir ewig en altyd op die skip te bly. Want dis wat hulle ken. Soos die kinders in die nagklub. Soos enigeen wat in sekere omstandighede grootword. Dis wat jy ken. Bly jy by wat jy ken, of breek jy ooit weg daarvan? Is dit ooit moontlik? Of is dit klaar bestem wat en wie jy gaan wees bloot op grond van jou omstandighede?

1 comment:

Anonymous said...

Jô! Diep vrae hier aan die einde. Wil liewers nie daaraan dink nie omdat ek nog vasgevang is in my bestaan hier in die Kaap en daar geen manier van escape is nie. Ek sou myself wou troos en dink dat ek so nou en dan wegbreek, maar ek weet ook dat ek op my eie manier maar 'n conformist is en nooit sal wegbreek soos sommige ander mense nie (wink-wink; nudge-nudge).
Geniet Goa!
Abi