Sunday, May 07, 2006

Fatehpur Sikri

Ek hoef nie 'n catchy opskrif vir hierdie post uit te dink nie, want die plek se naam is catchy genoeg. Dis net so 'n entjie buite Agra, waar die Taj Mahal is (lees verder ondertoe daaroor), maar dit neem nogal 'n rukkie om daar te kom, Indiese paaie het plek vir kamele, dansende bere, apies, koeie, motorfietse, fietse, busse, trokke, mense, karre, honde en padwerke. Fatehpur Sikri was nog 'n keiser se handewerk, dit was die Mughal-keiserryk se hoofstad van 1571 tot 1585. Dis geboue ter ere van 'n Sufi-mistikus. Dis die hoofrede hoekom ek soontoe gegaan het, want die Sufi-man, Salim Chischti, se graf is daar en jy kan 'n strikkie daar vasbind en wens vir iets.


Maar eers so bietjie National Geographic, 'n straattoneel van die lewe in Indie. 'n Mens kan jou soms so verkyk aan die plek se wonderwerke dat jy vergeet om te wys hoe lyk die lewe op straat. Ek is een van daai soort reisigers wat soms meer vreugde daaruit put om net te kyk na die mense, al sien jy soms dinge wat jou aan die hart ruk. Hier is regtig desperate arm mense en soms is plekke maar vervalle.


Aan die binnekant van die moskee by Fatehpur Sikri.


Die Sufi-mistikus se grafkelder. Hier brand wierook en die atmosfeer is heerlik gedemp en nogal heilig.


Ek bind my strikkie vas en wens vir allerhande wonderlike dinge.


Aan die buitekant van die moskee, 'n uitsig oor die woestynvlaktes van Uttar Pradesh.


Dis my gids gewees, Chand. Dit maak nie saak hoe hard jy probeer keer nie, iemand kom altyd na jou toe, kleef omtrent aan jou vas en lei jou deur die plekke, al se^ jy jy gaan nie betaal nie. Soms praat hulle goed Engels en gesels lekker, en dan is dit die paar rand werd. En eintlik wil ek ook maar nie te hard wees nie, want in baie gevalle is dit hul enigste inkomste.

6 comments:

maeree said...

Het jy geweet mens kan dieselfde in en om Kaapstad doen? Nie die Taj Mahal besoek nie, uiteraard. Maar daar's oral grafte van heiliges en altare waarheen jy kan gaan met jou behoeftes. Mense los gewoonlik suikerklontjies of lekkers of vrugte.

rondloper said...

Hulle het inderdaad nie. Maar dit beteken ek sal moet terugkom eendag, my wens kan lank vat om waar te word.

rondloper said...

Ek moet bieg, ek het nie geweet van die grafte van die heiliges om Kaapstad nie. Regtige heiliges? Nie bygelowigheid nie?

maeree said...

Uhm... is dit 'n strikvraag? Wie bepaal wie regtig heilig is? En wanneer is so iets nie bygeloof nie? Maar ek moet ook bieg, ek weet nie. Ek was op 'n toer waar ons al die plekke besoek het, maar het skandelik nie aandag gegee nie.

rondloper said...

Ek weet nogal nie. Ek dink vir die Katolieke verklaar die Pous iemand heilig, ek weet nie hoe werk dit met byvoorbeeld die Moslems nie. Ek weet net daar is party plekke in die wereld wat vir Moslems heilig is, soos die grafte van baie besonderse mense - die man wat ek in my post genoem het, is een. Maar ek weet nie wie besluit of byvoorbeeld die grafte om die Kaap heilig is nie. Miskien kan saligerus ons hier help.

Do Kwang said...

Kannie, jammer. Dalk praat julle van die krematte???