Friday, May 05, 2006

Oorweldigende verwondering


Die Lodi-tuin is net so 'n paar minute se stap van Willem se huis af. Daar is iets ongeloofliks daaraan om sommer so reg langs skouspelagtige middeleeuse grafkelders en moskees te bly. Die tuin is vol monumente, soos hierdie moskee. Alles so tussen 1434 en 1518 gebou. Delhi is al lank bewoon en die stad wemel van antieke monumente.


Dit is die grafkelder van Sikander Lodi (1517). Van buite na binne. Aan die oorkantste kant het 'n couple gestaan en vry.


'n Motorfietsbestuurder uit my tuk-tuk afgeneem. Daar is geen plek in die wereld waar jy so met jou lewe dobbel as in die strate van Delhi nie. Dis anargie, glo my. En derduisende motorfietse - baie die beeld wat ek in my kop gehad het.


Die Ba'hai-tempel in Delhi, dis in die vorm van 'n Lotusblom. Die Ba'hai's glo alle gelowe het dieselfde basis en lei na dieselfde uiteinde - wonderlik eintlik. (Dis erg vereenvoudig hierdie verduideliking). Die tempel is baie eenvoudig, binne is dit tjoepstil en daar is geen versierings nie. Die gebou is bekroon as een van die treffendse betongeboue in die wereld. Daar is net sewe Ba'hai-tempels in die wereld, ek was al by twee, ek was ook by die een in Samoa. En by die Ba'hai-hoofkantoor in Israel waar hul grootste heilige begrawe is.


Wat my onmiddellik opgeval het in Delhi is al die kleur. Kyk nou maar net hier na die vroue se klere. Al is die stad self valerig en stowwerig, daar is orals spatsels blomme en mooi klere. Hierdie is voor die Ba'hai-tempel en almal loop so mooi in 'n ry, want ons is kaalvoet (vir die tempel) en daar is 'n smal matjie waarop almal loop. Die temperatuur is 40 grade Celsius en jy kan nie eens met jou kleintoontjie se punt aan die klip langs die mat raak nie.

Soos ek mos nou al 'n gewoonte gemaak het daarvan om selfs die eenvoudigste vlug in 'n sending na die ruimte te omskep, het ek gister van Singapoer na Delhi gevlieg, en dertien uur later eers aangekom. (Dis eintlik net so vier uur weg). Maar ek soek mos altyd die goedkoopste kaartjies en as dit dan met 'n ompad moes wees, so be it. Die ompad in hierdie geval was met Sri Lankan Airlines via Colombo. Wat natuurlik ook beteken dat op pad terug gaan ek in Sri Lanka afklim vir so 'n week of wat, daar's baie wat ek wil sien. En baie Ceylon-tee om te drink.
Dus, Sri Lanka was toe my eerste kennismaking met wat die Engelse die subcontinent noem, en dit was vir my die eienaardigste gevoel, toe ek van die vliegtuig afklim in Colombo, toe is daar so 'n onmiskenbare atmosfeer van Afrika in die lug. Nie die mense of die plek nie, die land, die aarde self. Daar is selfs kremetartbome in Sri Lanka.
En dieselfde in Delhi, toe ek afklim toe is daar regtig iets van Afrika in die lug. (Natuurlik het Willem Breytenbach my op die lughawe gekry, maar dit was nie dit nie!) As ek dit nie mis het nie, was Indie mos deel van Gondwanaland (Afrika, Suid-Amerika en Australie nou) toe die kontinente begin vorm het? Indie het afgebreek en teen Asie gebots, dis hoe die Himalajas ontstaan het. Die aarde hier is vir my onmiskenbaar anders as ander plekke in Asie, dis nogal ongelooflik.
Ek is nog net twee dae in Delhi, eerste indrukke is dis redelik chaoties op plekke, maar ook redelik georden, en eintlik heeltemal anders as wat ek verwag het. En baie meer bekend as wat ek ooit sou kon dink. En regtig verstommend al die wonders wat 'n mens hier kan sien.

4 comments:

renklem said...

ek is sommer jaloers. Dit klink en lyk ongelooflik.

Anonymous said...

oppas wat jy eet en vra vir willem of sy uitnodiging nog staan

rondloper said...

En 'n mens kan nie vir 'n beter gasheer vra as Willem nie, dis soos vyfster-verblyf hier in Delhi!

Anonymous said...

Ek weet niks van die Ba'hai-geloof af nie maar hoekom is hul grootste heilige in Israel begrawe?