Friday, May 12, 2006

Woestyn-ekskursie


Die Blou Stad van Jodhpur van die fort af gesien. Die ou stad is heeltemal ommuur en jy gaan deur 'n paar ou stadspoorte daar in. Nogal soos Jerusalem se Ou Stad. Dis waar ek gebly het.


Straattoneel in die ou stad. Ek het ure lank in hierdie nou straatjies rondgeloop, op en af met trappies en deur allerhande stegies. Elke nou en dan het 'n spul kinders saamgeloop.

Jodhpur is 'n ongelooflike plek - 'n pragtige Moghul-dorp in die woestyn. Een van my gunstelingplekke in Indie. Maar, dit moes een of ander tyd gebeur - al die maande se vlugte, busse, treine - dat ek 'n tyd en datum verkeerd kry. Kom so ewe op Jaipur se treinstasie aan, soek my trein (na Jodhpur) se platform-nommer op die vertrekbord (Indiese stasies is omtrent so besig soos 'n besige lughawe, die hele tyd treine wat kom en gaan). Maar die trein se nommer is nie daar nie. Kyk na die kaartjie. Tog die regte plek. Kyk weer - oeps, die trein het gister al gery. Ek's 'n dag te laat. En oor tien minute ry die trein. Hardloop besprekingskantoor toe, maar daar's nie 'n kans op hierdie aarde dat ek betyds voor in die ry gaan kom nie. Okay, dalk 'n bus? Dis nou al so sesuur in die aand. Dan kom ek eers omtrent die volgende oggend in Jodhpur aan. En ek het net een dag in Jodhpur, want ek wil voor die naweek terugwees in Delhi sodat ek saam met Willem kan kuier. Dus, laaste uitweg, 'n kar en bestuurder. Nooit weer in my lewe ry ek in die aand op 'n Indiese pad nie. Eers is alles wonderlik, ses-baan-snelweg, verkeer vloei mooi. Toe word die pad enkel. En Indiese rygewoontes skop in. Ry in die middel van die pad. Sit jou brights aan as daar aankomende verkeer is. As daar 'n ander kar voor jou in die middel van die pad ry, gaan jy verby, al kom daar 'n swaarvragmotor van voor af. As dit dan moet, ry jy maar langs die pad, of die trok moet uitswaai. Jaag tot reg op die motor voor jou se agterkant en dan ruk jy die kar na regs om verby te jaag. Raak so af en toe amper aan die slaap sodat die kar byna van die pad afloop, net dat jy weer wakker geskud word om verder te kan jaag. En as jy voor aankomende verkeer in moet regs draai, dan draai jy onmiddellik, of hulle nou kom of nie. Hulle moet wag of uitswaai. Dit was 'n baie lang rit, en toe die drywer eindelik in Jodhpur stop, was ek so opgewerk ek kon byna glad nie slaap daai aand nie.
Maar, Jodhpur was al die moeite werd, dis wonderlik. Die ou deel van die stad is blou geverf, dis die Blou Stad, soos Jaipur die Pienk Stad is. Jodhur voel soos 'n regte Arabiese woestyndorp, my baie aan Israel laat dink. En die atmosfeer is net heerlik, dis vriendelike mense en vars woestynlug. Ek sou langer wou bly, maar my reisbegroting raak nou baie knap en daar's nog 'n paar ander plekke wat ek ook wil sien. Jodhpur toe kom ek egter beslis terug.
Die rit terug na Delhi was netso wonderlik, met die trein, omtrent twaalf uur lank, nie vreeslik lank nie, maar Indiese nagtreine is heerlik! Daar's die hele tyd koffie en tee, en hulle bedien die wonderlikste vegetariese aandete. Dis alles nog vreeslik Brits-koloniaal dink ek. En die treine is werklik gemaklik, ek het maat tweedeklas gery, maar daar's niks mee fout nie.

No comments: