Monday, January 29, 2007

En nou?

Contrary to common perceptions, there has been a steady and consistent decrease in most major crimes, particularly murder, over the past decade, a new study by the Institute of Security Studies (ISS) shows.
The analysis of the crime statistics released last year showed that the national murder rate decreased from 67 murders per 100 000 people in 1994 to 39.5 per 100 000 in 2006, according to Antoinette Louw of the Institute for Security Studies (ISS).
Writing in the latest edition of the ISS's Crime Quarterly, Louw said this was a positive trend because murder statistics were the most accurate on record and also provided a useful indicator of the extent of violence in the country.
Die volledige berig is by http://www.iol.co.za/index.php?set_id=1&click_id=13&art_id=vn20070129031420890C607544
(Ongelukkig kan ek nie op die Safari-browser hier by die werk 'n link insit op Blogger nie.)
Die inligting kom van die gesaghebbende Instituut vit Sekerheidstudies. So wat maak 'n mens daarvan? Hoekom is die land en die media so negatief?
Dan het ek nog 'n vragie, Deon Maas skryf die naweek in Die Burger dat hy nie kan verstaan waarom daar soveel negatiwiteit onder die wit-beheerde (sy woorde) media is oor 2010 en die sokker nie. En hoekom wit belastingbetalers (Groenpunt) alles in hul vermoe doen om die stadion te kelder. Dit nadat die hele land, mense wat nie gewoonlik rugby kyk nie, in 1995 verenig het rondom die rugby-wereldbeker. Wat het intussen verkeerd gegaan? Goeie vraag, dink ek.

Thursday, January 25, 2007

Rus onseker

Ek het so 'n bietjie van 'n bloutjie geloop met Santam (rus onseker) en voel dit my burgerlike plig om die episode hier te deel. Soos gereelde lesers van die blog weet, my geliefde motor is Desember gesteel en hy was verseker by Santam. Hy het 'n ingeboude BMW-immobiliseerder gehad wat onfeilbaar was. Mense het al voorheen die kar probeer steel, maar kon niks regkry nie. Hierdie slag het hulle hom waarskynlik weggesleep of op 'n trok gelaai, daar was geen glasstukke langs die pad nie. Nou goed. die situasie is dat jy moet 'n immobiliseerder he^ vir die versekering, wat ek wel gehad het. Maar eers toe ek eis, na elf jaar as klient van Santam, moet ek hoor die immobiliseerder is nie deur hulle goedgekeur nie en die eis betaal nie uit nie.
Ek het reeds 'n nuwe motor gekoop en ook by Santam verseker. Die verkoopspersoon het gevra of die motor, 'n Hyundai, 'n immobiliseerder het. Hy het een, van die fabriek af. Ek vra toe of dit goedgekeur is deur Santam. Sy antwoord nee. Ek se^ toe maar daar is dan 'n ommobiliseerder. Sy gaan toe net voort met die volgende vraag en 'verseker' die motor. Daar is waar die probleem begin, jy aanvaar dalk dis 'n geval van stilswyende instemming van Santam se kant dat die immobiliseerder wat jy het, tog aanvaar word. En net daar maak jy die fout, eendag nadat Santam tienduisende rande van jou geld gevat het, sal hulle beweer jou immobiliseerder is nie goedgekeur nie en daar is geen uitbetaling nie.
Deels is die skuld myne, ek moes seker self seker maak oor die immobiliseerder, maar ek gee nie eintlik om nie, die kar was min werd en die versekering het darem dinge soos derdeparty al die jare gedek. Maar daar is vir my 'n etiese probleem. Santam gaan rustig voort om jou te 'verseker' sonder dat alles dalk in orde is, goed wetende van hul kant dat al daai geld wat jy dekades lank betaal, net so in die maatskappykoffers beland.
Daarenteen bel ek toe vandag Outsurance. Eerstens is die premie laer, dit sluit ook 'n huurmotor in (wat ek nie by Santam gekry het nie) en reg van die begin af maak HULLE seker jou kar is in orde, jy moet gaan vir 'n vinnige ondersoek by Glassfit, wat ook na die kar se toestand kyk en seker maak die immobiliseerder werk, en dan is die kar werklik verseker. Dis mos reg so. Santam het skielik toe ek eis lang vrae gevra oor die toestand van die kar, alles dinge wat hulle natuurlik sou aftrek by die finale eis. En daar is geen harde bewyse wat die toestand van die kar regtig was nie, dus kan hulle enigiets beweer (en jy ook) en alles eindig in 'n kroekspul.
Ek hou werklik van Outsurance se manier, die versekeraar se agente sien die kar en kan nie later kom met allerhande bewerings nadat hulle al jou geld gevat het nie. Ek dink die blote feit dat Santam jou 'verseker' al weet hulle jou immobiliseerder is nie deur hulle goedgekeur nie, is skelm verby. Hulle vat jou geld en weet dit gaan hulle niks kos nie. Ek is nie meer by Santam verseker nie, al was dit 'n ou familietradisie.

Dis hoe dit is

Ek het nou selfs probeer om te kroek, ek het die survey drie keer ingevul, want ek wil nie die Flash wees nie, ek wil Superman wees, maar dit lyk my ek is die Flash. Want al verander ek my antwoorde effens (sonder om te veel te lieg) bly die antwoord dieselfde. Jy kan seker nie verander wie jy is nie. Gelukkig het my geslag nie verander nie. Soos sekere ander mense op die blogosfeer wat hulself dalk bietjie lamgeskrik is toe hulle hul uitslae sien!

Your results:

You are The Flash
























The Flash
75%
Superman
75%
Supergirl
70%
Robin
65%
Green Lantern
65%
Spider-Man
60%
Iron Man
60%
Hulk
55%
Wonder Woman
50%
Catwoman
40%
Batman
30%
Fast, athletic and flirtatious.


Click here to take the Superhero Personality Quiz

Wednesday, January 24, 2007

Groot veranderings

Daar is 'n paar groot veranderings onderweg in my lewe. Hou hier dop vir meer besonderhede, mettertyd.

Die donker plek

Ek het nou die aand Blood Diamond gekyk en dit was vir my 'n vreemderige ondervinding. Dit gaan oor die burgeroorlog in Sierra Leone en die smokkel van diamante. Dis in SA gemaak (daar is tonele waar hulle teen die berge uitklouter in Sierra Leone, maar jy weet dis eintlik Bolandse fynbos daai!) Hulle praat ook heelwat Afrikaans sonder onderskrifte (die SA huursoldate in die fliek), en selfs die tawwe Leonardo Dicaprio gebruik 'n Afrikaanse woord of twee (en het 'n verstommend goeie SA aksent). Die einste Leo het my nogal verras, ek het gedink hy kan net die rol van sagte, sensitiewe mans speel, maar hy kan duidelik ook 'n tawwe Rhodesiese huursoldaat wees. Die fliek het my laat dink oor die plek waar jy tuis voel, gemaklik voel, want in die fliek is Leo se droom om genoeg geld te maak met die diamante dat hy kan padgee van hierdie chaotiese kontinent af. Maar . . . Ek sal nie die einde vertel nie en kan dus nie heeltemal die volgende stelling verduidelik sonder om iets weg te gee nie. Tog, al was die fliek vol chaos, geweld, bloed, korrupsie, het ek snaaks genoeg daar uitgeloop en gedink, 'Ja, Afrika is 'n goeie plek om te bly, dis maar waar ek vandaan kom'. Hoe bisar is dit?

Thursday, January 18, 2007

Besoeker van ver


So sit ek toe gister, oudergewoonte, op my stoepie by die huis in Stellenbosch toe hierdie skouspelagtige besoeker uit die buitenste ruimte skielik by my verbyvlieg. Dis my eie foto, en dit was werklik ongelooflik, die McNaught-komeet. Hy het meer as 'n halfuur lank so verbygevlieg, totdat hy onder die horison verdwyn het. Vanaand kan mens dit glo nog beter sien.

Thursday, January 11, 2007

Daai lied

Ek sien Maksideem verwys ook hierna. Die 'berugte' De La Rey-lied. In Namibie (te wete Luderitz) is die lied minstens twee keer per aand in die twee plekke waar ek saans uitgehang het, gespeel. Die een plek het ook byvoorbeeld 'Troepie Doepie' (Kom huis toe . . . ) gespeel. En die meeste musiek in albei plekke was Afrikaans, minnerig wat ek in 'n kroeg was waar die musiek Afrikaans is. Nou, die De La Rey-lied puzzle my, dis 'n ongelooflike catchy lied, maar is dit rassisties of nie? Leopold Scholtz het daaroor geskryf en is nie van mening dat dit rassisties is nie. Maar ek het op die internet gesoek vir die woorde, wat ek hieronder plaas, en die enigste plek waar ek dit opgespoor het, was by www.stormfront.org, wie se logo is 'White Pride, World Wide' Daar is selfs 'n Engelse vertaling van die lied op hul webwerf. Die Namibiers met wie ek gesels het, is van mening dat die lied nie rassisties is nie, en dat Namibie verder gevorder het as SA deurdat hulle nie bang is om die lied te speel in die openbaar nie (in SA is dit op die radio verbied as ek dit reg het). Ek weet nie watter kant om te glo nie, daar is baie plekke in Namibie waar 'n mens voel of niks eintlik verander het nie en mens kry dalk die gevoel hulle speel die lied op uitdagende wyse. Ek persoonlik hou amper daarvan (soos Koos Kombuis, mooi warm gevoel in die hart). Miskien het die regses dit gekaap, maar eintlik is daar niks mee fout nie. Verwys die 'kakies' wel na die Engelse, of dalk is dit oop vir regse interpretasie? Dit rym byvoorbeeld met . . .
Hier is die woorde:
De La Rey
Op 'n berg in die nag
lê ons in die donker en wag
in die modder en bloed lê ek koud,
streepsak en reën kleef teen my
en my huis en my plaas tot kole verbrand
sodat hulle ons kan vang,
maar daai vlamme en vuur brand nou diep, diep binne my.
De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.
Oor die Kakies wat lag,
'n handjie van ons teen 'n hele groot mag
en die kranse lê hier teen ons rug,
hulle dink dis verby.
Maar die hart van 'n Boer lê dieper en wyer, hulle gaan dit nog sien.
Op 'n perd kom hy aan, die Leeu van die Wes Transvaal.
De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.
Want my vrou en my kind lê in 'n kamp en vergaan,
en die Kakies se murg loop oor 'n nasie wat weer op sal staan.
De La Rey, De La Rey sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey.
http://www.youtube.com/watch?v=429AUoAWQdY

Brakke se hemel

Ons is nou op pad terug na die Kaap met 'n stop in Hondeklipbaai aan die Noord-Kaapse weskus. Nou kyk, ek was nog nooit in my lewe 'n fan van die weskus nie, ek verstaan dit miskien nie heeltemal nie. Dis vir my grys en vaal en koud en winderig en plat en sonder enige aantrekkingskrag. En Hondeklipbaai is nogal ver van alles (met 'n lang, slegte grondpad) en dis ongelukkig regtig nie vir my nie. Die dorpie word omring deur mynhope, en dan is hier bossies en 'n grys see, en 'n paar bote in die baai. En armoedige huise en mense wat nie werk het nie. En groot, harige vissermanne met karre met CY- of CF-nommers wat in groot, buffelagtige wit bakkies op die strande rondjaag.

En het ek gese^ dis vaal en grys. O, en hier is baie rondloperbrakke (vreemd genoeg, maar dis waar.)

Net gesonde mense

Ek het vreeslike mooi dinge in Namibie gesien, soos hierdie sonsondergang oor die Hardap-dam. Die nasionale parke in Namibie is vasgevang in 'n timewarp en voel vir my erg weird. Die omgewing is natuurlik skouspelagtig mooi, maar die verblyfgeriewe is alles so effe verwaarloos en so effe seventies.


By die swembad (en ook by Ai-Ais) is die swembadreels opgeplak in Duits (nogal) en Engels (dis nou al is die lingua franca in Namibie sonder enige twyfel hoegenaamd Afrikaans). Hierdie reels, vermoed ek, kom nog uit die dae toe SWA 'n kolonie van wit SA was. Daar is interessante goed soos jy mag nie 'n infeksie he^ as jy wil swem nie, of enige oop wonde nie.


Maar die bevryde Namibie se Namibia Wildlife Resorts het die reels merkbaar verkort en vereenvoudig. Hulle het egter nie die ou reels verwyder nie.

Monday, January 08, 2007

Luderitz

Luderitz is seker die eienaardigste plekkie op hierdie aardbol. Ek was laasjaar ook hier en nou weer. Ons het dit hierdie slag op die reis ingesluit omdat ek daarop aangedring het, nie omdat dit so onmisbaar is nie, maar omdat dit so koel is. Die binneland van Namibie is 'n sauna op die oomblik en hier is dit minstens koel (al waai die wind erger as in die Kaap, elke dag, en die woestynsand vorm so 'n stoflagie op alles). Die plek is 125 km van die naaste ander gehuggie (Aus), en, wel, hier is eintlik niks. Mooi, ou Duitse argitektuur, stof, sand, wind en allerhande interessante karakters. Soos diamantduikers wat ons in die kroeg raakgekuier het. En vreemde Duitse toeriste met safariklere. En Portugese vlugtelinge uit Angola wat hier beland het. Dit voel asof jy letterlik aan die einde van die wereld aangekom het, dis onherbergsaam en verlate, en vreeslik nostalgies omdat die plek eintlik pragtig behoort te wees, maar die wind en sand het alles verinneweer. Hier kan jy kom wegkruip as jy wil. Die koerante daag ook eers 'n dag later op.

Een van die mooi huise en die Lutherse kerk (op rots gebou.)


Hierdie vriendelike mense was die Duitse inwoners van Luderitz in die 1930's. Let op die vlag en in die middel is 'n foto van 'n Duitse soldaat (Nazi?)

Kolmanskop, die bekende spookdorp hier naby. Die toer was in Duits (95% van die mense) en Engels (vyf mense). Jy kan net op 'n toer gaan, want dis deel van die spergebied en hulle is bang jy tel dalk diamante in die woestyn op. Die spyskaarte in die hotels en koffiewinkels op Luderitz is in Duits. Ek dink nie veel het verander sedert die dae van Duitswes nie.

Droog en dors

Jammer dat ek nou eers weer post, die internet het nog nie eintlik veel byval gevind hier in Namibie nie. Om die waarheid te se^, die moderne tyd het nog nie hier aangekom nie. Soveel van verlatenheid en afgesonderdheid het jy lanklaas ervaar, ek dink nie enigiets het die afgelope vyftig dekades hier verander nie. Die afgesonderdheid is wel ongelooflik, ons ry soms tot 200km per dag sonder om enigiets (letterlik) te sien, nie ander mense nie, nie winkels nie, nie petrol nie. Hierdie is op die pad na Sossusvlei, van Mariental se kant af.

Droog, honger en dors, by Sossusvlei. O, ja, en warm.


My broer en skoonsuster klouter teen die duine uit, by Sossusvlei. Namibie is vol Duitssprekende toeriste met safariklere. En jy kan bier by die Spar of enige kafee koop, enige tyd (selfs Sondae). Maar die meeste winkels is van Saterdagmiddag tot Maandagoggend toe. Hulle verkoop selfs bier by die 1-Stops langs die hoofpaaie. Dalk nie so veilig nie . . .

Wednesday, January 03, 2007

Ons het net gewone koffie

Ek is in Springbok, Noord-Kaap, onderweg na Namibie, suidweste van Afrika. Dit is baie, baie warm, want dit is nou somer, en in die somer is dit baie, baie warm hier rond. Ons het in Springbok aandete genuttig by 'n plek met die naam 'El Dago' wat baie mooi gelyk het van die straat af. Neonliggies en so, hier in Namakwaland. Die spyskaart was vol eksotiese disse, soos 'n bloukaasslaai en Cajun Chicken. My skoonsuster het Cajun Chicken bestel, maar dit was ietwat flou, want miskien het hulle vergeet om die Cajun-speserye by te voeg. Ek het die vegetariese bord bestel, wat heel lekker was, hoewel hulle gese^ het dit bevat groenboontjies (groot gunsteling van my) en soetwortels. Dit het soetpampoen en gewone wortels bevat. Die kelnerin was nie heeltemal daar nie, sy het vergeet om die messe en vurke te bring, sy het ook vergeet om die plekmatjies te bring, asook die sout en peper, en die slaaisous, en die ys vir ons drankies. Sy het ook vergeet om die tafel af te dek. Die tafel was naderhand baie vol. Sy het darem heel aan die einde van die ete kom vra of alles reg is en toe een bord weggedra. Daarna het sy teruggekom en nog een bord weggedra. Die lee" wynglase, koeldrankblikkies en bierbottels het sy net daar gelos, hoewel ons dit na die kant van die tafel geskuif het om dit vir haar makliker te maak. Toe ek vra of die plek filterkoffie aanbied, het sy geantwoord (gefluister, eintlik) 'Ek weet nie.' Sy het toe geloop, en (heelwat) later teruggekom met die woorde: 'Ons het net gewone koffie.' Een van die ander kelnerinne het toe vir my verduidelik hulle het net Ciro-koffie in 'n blik. Ek was steeds onseker en het toe nie koffie bestel nie. Springbok is beslis 'n gewilde plek, want al die ander reisigers hier praat Duits. Miskien kom hulle van Namibie.

Dis vir my altyd wonderlik om in 'n plattelandse hotel in een van die warmste dele van die wereld te bly en dan prentjies van koue Switserse bergtonele teen die mure te sien.


En die donker gange met interessante meubels dra by tot die plattelandsehotelgevoel.


Daar was vanaand 'n baie mooi maansopkoms in Springbok.


Hierdie is nie die hotel waar ek bly nie, maar dis vir my 'n mooi voorbeeld van Art Deco argitektuur in die Karoo. Mens sien dit so dikwels en waardeer dit nie. (Verwys na my artikel in Die Burger oor Art Deco.)

Tuesday, January 02, 2007

Voorspoed vir 2007!

Mag almal 'n fantastiese 2007 geniet! Ek het myne by 'n pragtige huis buite Rawsonville tussen die wingerde begin, waar ons aan 'n 'Murder Mystery'-aand deelgeneem het. Ek was nie die moordenaar nie. Hierbo is ek saam met Hugo, die 'fotograaf' vir die aand, en ek in ons outfits - my naam was Willie Glitter die juwelier.

Kort voor middernag het ek en Hugo hierdie maan tussen die boomtakke raakgesien. Mens ry so deur Rawsonville en dan draai jy weg van Worcester se kant om uit te kom by die huis waar ons was. Dis baie interessant, daar is meestal wingerde, maar dan is daar een kol met so 'n paar huise tussen die wingerde, amper soos 'n dorpie, maar nie eintlik nie. Ek weet nie eens of die plek 'n naam het nie. Natuurlik word jy heeltemal omring deur die pragtige berge van Worcester oral om jou. Lekker plek om te bly . . .


En oppad terug na die Kaap, naby Worcester. Ek vertrek nou (Dinsdag) na Namibie, waar ek twee weke saam met my familie gaan toer, onder meer na Sossusvlei, Luderitz en die Visrivier-canyon. Waar ek in die woestyn ontvangs het, sal ek probeer post.