Monday, October 23, 2006

Een aand in Victoria-Wes

In die ewigdurende soeke na 'n sinvolle nuwe rigting in my lewe (die les, moenie jou werk bedank, jou gastehuis verkoop en dan lank gaan reis as jy nog nie heeltemal besluit het wat jy daarna wil doen nie), wat my nou al geneem het na Kambodja en terug na SA, het ek die naweek besluit om die Karoo in te ry op soek na 'n huis. 'n Goedkoop huis, wat ek bloot wil koop as belegging en moontlik later sal gebruik as blyplek of dalk as gastehuis. Ek het Victoria-Wes (te duur vir my - die Karoo se pryse het skerp gestyg, minder as R300 000 kry jy nie sommer nie, wat baie is vir die Karoo), Britstown en Strydenburg aangedoen. Die Goue Tweehonderdmyl, sal ek dit graag noem. Victoria-Wes is tog te pragtig en fraai, maar reeds ontdek en oorvol. (Ek slaap vanaand in Victoria-Wes in 'n gastehuis wat homself as 'luuks' adverteer, ingerig is soos Biggie Best, en my kamer stink na riool). Britstown is mooi, en toe Strydenburg, godverlate, op die N12 onderweg na Hopetown en dan Kimberley.
Ek dink ek hou van Strydenburg. Baie klein plekkie, daar is al 'n paar huise wat opgekoop is deur 'inkommers' wat die huise al reggemaak het, lyk baie mooi. Maar die hoofstraat is 'n hartseerstorie. 'n Hotel, 'n gastehuis, 'n supermark en (vreemd genoeg) 'n Chinese winkel. En 'n paar geboue wat net leeg staan. O, en 'n meubelmaker.
Daar kan ek 'n baie groot huis in 'n baie goeie toestand, ou Karoo-huis, koop vir min geld. Ek dink nou regtig daaraan, vanaand is die aand wat ek daaroor slaap, en more sal ek besluit. Want ek het met die hele Kambodja-episode besef ek wil wraggies nog baie reis, maar myself nie vasmaak op 'n plek waar ek baie geld gaan spandeer en niks daarvan sien nie. Dan eerder die geld wat ek daar wou gebruik, op 'n huis hier in SA gebruik (hoe's daai vir Proudly South African) en dan weer gaan reis, met die wete dat ek my grond by Teslaarsdal en my huis in die Karoo het. Iets om na terug te keer. Dan kan ek mos weer gaan reis en werk vir peanuts as dit daarop neerkom.
Wat vir my lekker is van Strydenburg, dis diep die Karoo in, die stilte en die oopte wat ek soek, maar dis naby 'n groterige stad, Kimberley (so 200 km), dus nie te ver van die beskawing nie. Veel nader as Sutherland aan groot plekke. En dis op die N12, dus minstens in vakansietyd is daar baie vakansiegangers onderweg tussen die Kaap en Johannesburg wat die N12 eerder as die N1 gebruik.
Anyway, soos ek toe nou al dieper die Karoo inry, toe tref dit my dat daar 'n interessante patroon is. Toe ek wegbreek van die korporatiewe wereld, het ek Sutherland toe gegaan. Toe gaan soek ek iets in Sihanoukville. Toe gaan woon ek in Stellenbosch. Nou gaan soek ek iets in Strydenburg. Toeval? En verder, sover ek kan onthou het ek al baie dikwels in huise of woonstelle met die nommer 13 of 27 gewoon. Roodepoort was 13, Blouberg was 13, my woonstel in Woodstock was 13, my huis in Sutherland was 27, my eerste huis in Parklands was 27, Stellenbosch is 27 . . . Waar's die numeroloe" onder my lesers. Verklaar dit vir my toe. Ek weet nie wat die huis in Strydenburg se nommer is nie.

Saturday, October 21, 2006

Werksoek

In vandag se (Suid-Afrikaanse) Mail and Guardian:
Position: Director of International Model Scouting
Requirements: Applicants must be fluent in English, Russian, Greek and Bulgarian.
Minimum of 4 years experience within the international model industry.
Belangstellende multi-linguistiese mense kan epos stuur na info@3dmodelagency.com.

Thursday, October 19, 2006

Ou woorde

Wanneer laas het iemand die woord 'divan' gehoor?
Soos in: Jy kan vanaand oorslaap, sommer op die divan.
Daar's baie sulke ou woorde wat mens nie meer aldag hoor nie. Wie ken nog?

Monday, October 16, 2006

Gratis en verniet

Ek hou van dinge wat gratis is. Dis hoekoem ek gereeld musiek-podcasts aflaai op itunes, want dis heeltemal wettig en jy kan basies jou eie albums skep deur CD's te sny van die goeters wat jy aflaai. En hierdie maand het ek 'n ander bonus ontdek, as gereelde Insig-leser het ek in my jongste uitgawe van die tydskrif 'n gratis cyber-CD (soos hulle dit noem) ontvang. Dis 'n CD met lekker Afrikaanse musiek wat jy by www.rhythmrecords.co.za kan gaan aflaai. Doen daar 'n search vir 'Insig', dan sal jy by die Insig-album uitkom, en jy kan die hele CD gratis aflaai. Al lees jy nie Insig nie. Dankie, rondloper.

Die wondere van die vrye mark


Is ek die enigste een wat reken Suid-Afrika is party maal 'n baie duur land. Ek dink lankal kos (uiteet) hier by ons is regtig buitensporig duur as jy dit vergelyk met lande soortgelyk aan ons. Ook hotelverblyf, dis sommer net absurd. Maar vandag het ek dit eintlik oor vliegkaartjies. Ek wil die naweek wat kom Knysna toe gaan om by my neef te gaan kuier. Hy werk in die buiteland en ek sien hom baie min, maar ons is groot vriende, dus doen ek moeite as hy terug is hier om hom te sien. Maar van die Kaap na George kos 'n vliegkaartjie omtrent R2200, retoer. Dis nou vir 'n vlug van nie eens 450km nie. (Ek het nie tyd om te ry nie, want ek het baie werk gekry sedert ek terug is, dus het ek net oor die naweek tyd om soontoe te gaan, want my neef vertrek weer volgende Dinsdag).
Vergelykenderwys:
My vlug van Singapoer na Delhi (met 'n gratis stop in Colombo) met Sri Lankan Airlines het basies dieselfde gekos, R2500, retoer. Dis 'n vlug van by die 3000 km. Met volledige diens, nie 'n low cost-vlug nie. Ook nie 'n spesiale afslagkaartjie gewees nie, net 'n gewone ekonomiese klas-kaartjie op die internet bespreek.
My vlug van Auckland na Apia in Samoa, ook so amper 3000 km, was maar omtrent R1800, retoer. Selfde storie, gewone ekonomiese klas, op Air New Zealand (nou wel nie die beste lugdiens wat daar is nie).
Dis net twee voorbeelde van vele. Maar hier in Afrika, jy kry wel goedkoperige kaartjies op die budget-lugdienste (steeds nie die wonderlike pryse wat jy op Air Asia of Easyjet kry nie), maar gewone vlugte is geheel en al buitensporig. Hoekom? Duidelik maak iemand vreeslik baie geld.
Dis net soos die internet service providers. Ek lees nou die dag iewers dat in Engeland kan jy 'n basiese broadband pakket kry teen 'n spoed wat ons nie eens van kan droom in SA nie vir so 10 pond per maand. Ons goedkoopste aanbod is omtrent R500 per maand, en jy moet jouself vasteken vir 24 maande! In Kambodja en Vietnam is openbare broadband (soos in coffee shops) gratis of kos amper niks. Hier kos dit van R15 per uur tot R50 per uur. Hoekom?

Saturday, October 07, 2006

Vol lewe


Ek het pas hierdie boek klaar gelees. Dit het my 'n tydjie gevat, ek het dit inderdaad in Delhi gekoop kort voordat ek Sri Lanka toe is, wat nou al 'n hele paar maande gelede is, maar ek het nog nie daarby uitgekom nie. Ek het dit juis gekoop omdat die skrywer van Sri Lanka is (hy woon nou in Kanada) en ek graag iets oor die land wou lees voordat ek daar kom. Maar eerder laat as nooit, ek het nou terug by die huis tyd gehad hiervoor en wat 'n wonderlike boek. Ek het dit basies in een dag klaar gelees, dis een van daai mooi stories wat jy nie kan neersit nie. Ek lees graag enigiets wat my iets oor myself leer, en as dit dan nog in 'n mooi storie vertel word, soveel beter. En sy verduidelikings van die landskap en stadsomgewing in Sri Lanka is wonderlik, ek kan allerhande dinge voor my geestesoog oproep soos ek die boek lees. Dis 'n 'coming of age'-storie, ek wil nie veel verklap nie indien iemand dalk dit wil lees, maar soos so baie van die boeke waarvan ek hou, gaan dit oor die hoofkarakter, Amrith, se soeke na sy plekkie in die son, en wat hy uiteindelik kry. Miskien was dit nou goed vir my om dit te lees omdat ek juis ietwat tussen die boom en die bas sit. Ek het minstens weer maklik genoeg werk gekry sedert ek terug is (volgende week gaan ek inderwaarheid vir twee weke vas op kantoor sit, sal 'n nuwe ondervinding wees!), en my voorlopige plan is om tot vroeg volgende jaar hier in SA rond te hang, ek gaan einde Desember twee weke Namibie toe en ek wil miskien volgende jaar vroeg Rwanda en Tanzanie toe gaan, en dan in die tweede kwartaal gaan ek weer Asie" toe - ek het nog nie alles gedoen en gesien daar wat ek wil nie. En miskien is ek volgende keer gelukkiger met die gastehuis-soektog daar, of dalk 'n ander geleentheid. In elk geval, dis lekker om terug te wees in Stellenbosch, die dae is mooi en die kaal bome het in net die maand wat ek in Kambodja en Vietnam was blare gekry - die lente is vol lewe en ek ook.