Friday, May 26, 2006

Spesery-eiland


Dis so kitsch dis pragtig. 'n Muurskildery in Negombo, 'n uur noord van Colombo.


Die Nederlanders het honderde kilometers se kanale gebou, wat steeds gebruik word. Ook Negombo.


Die Galle Face Hotel in Colombo se terras langs die Indiese Oseaan met die son wat sak. Die Galle Face is Colombo se Mount Nelson of Raffles, dis vol verweerde koloniale grasie. Dis regtig nogal spesiaal, my kamer was so groot soos 'n hele huisie in SA. Die hysbak het nog van daardie konsertina-staaldeure. Statige houttrappe. En die Indiese Oseaan reg langsaan. Dit was weer my maandelikse treat vir myself.

Sri Lanka, die spesery-eiland, die plek waarheen Adam (volgens plaaslike oorlewering) verban is toe hy uit die Paradys geskop is, die plek waar omtrent al die koloniale moondhede hul merk gemaak het (met die wonderlike gevolg dat hier so 'n interessante mengsel van kulture is), die plek wat spog met van die vriendelikste mense wat ek nog teengekom het. Deur Marco Polo beskryf as een van die wonderlikste eilande waar hy was. Ook besoek deur Sinbad. Wonderlik hier! Dis ook nogal 'n ontdekking, want ek dink nie Sri Lanka verskyn op baie mense se reisplanne nie. 'n Jammerte, hulle sukkel nog na die tsoenami, en met die oorlog wat weer voortwoed gaan dit ook nie te goed nie. Maar die meeste plekke is heeltemal veilig, jy raak sommer gou gewoond aan al die soldate en sandsakke langs die paaie. Sri Lanka voel baie soos Indie, dis net skoner.

No comments: