Friday, April 28, 2006

Weerbaarheid


Singapoer is bekend vir sy reels. Dis nie meer so erg nie, jy mag byvoorbeeld nou kougom kou, wat voorheen verbode was. En verkieslik wag jy vir die groen mannetjie voordat jy oor die pad loop, hoewel party mense die pad kruis as die mannetjie rooi is. Maar jy moet egter steeds bedagsaam wees.

Die Armeense kerk


Terwyl ek my nou so beywer vir die besette volke het ek vandag na die Armeense kerk hier in Singapoer gaan kyk. Dis die oudste kerk hier, gebou in 1835. Die Armeense volkslagting het in 1915 gebeur, toe die Turke miljoene Armeniers vermoor het. Dis nie baie bekend nie en die Turke ontken dit steeds. In Jerusalem is daar plakkate van die volkslagting in die Armeense deel van die Ou Stad opgeplak. Dis waar ek die eerste keer daarvan bewus geraak het.


Buite in die tuin is beelde van Jesus wat sy kruis dra. Dis nogal treffend om te sien.


Die kerk hier het niks met die volkslagting te doen nie, dis sakemanne wat dit gebou het. Dis 'n ongelooflike oase van rustigheid, en het my onwillekeurig vreeslik aan die Heilige Stad Jerusalem laat dink.

Thursday, April 27, 2006

Chinatown blink


Ek is jammer as ek dalk bietjie stiller as gewoonlik is, ek voel ek het mos al voorheen oor Singapoer gepost, ek sal weer kwaai begin post as ek nuwe dinge sien. Hier is detail op 'n Indiese tempel in Chinatown, waar ek bly. Dis heeltemal anders as enige ander land se Chinatown, want dis Singapoer. Dis skoon en netjies en georganiseerd en al die geboue is reggemaak.


'n Uitsig oor 'n straatmark in Chinatown. Jy kan elke denkbare soort toeriste-gemors koop vir byna niks geld nie.

Bilaterale verhoudings


Ek lees vandag in die Straits Times hier in Singapoer 'n LANG, maar baie interessante artikel oor China en die onlangse besoek deur die Chinese president aan Amerika. Die besoek was aan die gang terwyl ek daar was, en daar was elke aand op die Chinese staats-TV lang stukke oor die 'vreeslike suksesvolle' besoek en beeldmateriaal van kindertjies met blomme wat Hu omhels, ou mans by fabrieke (die Boeing-fabriek byvoorbeeld) wat Hu omhels, agtergrondstukke in die Chinese koerante oor Hu wat sy 'sagte' kant gewys het ens. ens. Die Amerikaanse media het sonder om te skroom die besoek as 'n mislukking beskryf, geen vooruitgang gemaak is op enige belangrike punte nie. En daar was vele vernederende oomblikke soos betogers wat op Hu geskreeu het, die Taiwannese volkslied wat gespeel is eerder as die Chinese volkslied (dis dinge wat ek eers gehoor het nadat ek China verlaat het). In elk geval, dit laat my maar weer eens glimlag oor die wereld van bilaterale verhoudings en hoe dieselfde prentjie heel anders aangebied word, afhangende van wie praat.
Vir diegene wat regtig belangstel, hierdie artikel, die een wat in die Straits Times was, is besonder interessant. Dis geskryf deur 'n strategiese vooruitskouings-kenner, ek weet nie wie die skrywer is nie, maar die artikel is vol insig. Dit verwys na China wat besig is om al meer 'n buitelandse vyand te soek (tipiese reaksie wanneer 'n land interne probleme ondervind - weens die verskriklike armoede op die platteland raak die Chinese regering al meer bekommerd oor 'n revolusie), en die vyand is Japan. Hier is 'n uittreksel:
The Geopolitics of China
April 25, 2006 21 45 GMT
By George Friedman
Chinese President Hu Jintao visited Washington last week for a meeting that diplomatically might be called "nonproductive" -- or, realistically, "disastrous." Not only was nothing settled, but a series of incidents -- ranging from a reporter shouting insults at Hu and being permitted to continue doing so for three minutes, to an announcement that the national anthem of "The Republic of China" (also known as Taiwan) was being played -- marred the visit, to say the least.
En hier verskyn 'n Chinese weergawe oor die besoek, met 'n uittreksel:
US visit was fruitful, says FM
(China Daily)
Updated: 2006-04-24 15:01
President Hu Jintao's visit to the United States was "fruitful" and a "milestone" in bilateral relations, Foreign Minister Li Zhaoxing said on Saturday.
During the four-day visit, President Hu conveyed the idea that China and the US are "not only stakeholders, but also constructive partners."
Speaking to reporters aboard the special plane which took Hu from the United States to Riyadh, Saudi Arabia, Li said the president's US visit yielded important results.

Tuesday, April 25, 2006

Vir oulaas

Hier's nog so 'n laaste paar foto's van Tibet. My volgende Tibettaanse foto's sal binne so twee weke of wat volg, wanneer ek in Dharamsalla in Indie is. A luta continua! Ek het 'n paar besonderse besige reisdae agter die rug, ek is poegaai! Die 20ste het ek die oggend van Lhasa gevlieg na Chengdu, daar 'n aansluitingsvlug gekry na Shenzhen naby Hongkong, maar die vlug was ure lank vertraag, toe amper eers middernag in HK aangekom, een dag daar gebly, toe per boot na Macau, gevlieg na Kuala Lumpur (vlug was ook ure vertraag, omtrent twee-uur die oggend eers in KL aangekom), een dag daar, toe per trein na Singapoer, waar ek nou is en waarskynlik vir meer as 'n week gaan wees. Ek vertrek hiervandaan na Willem in Indie, sodra ek my Indiese visum gekry het. Singapoer is altyd lekker om bietjie asem te skep, dis so civilized en rustig hier (soms grens dit aan saai, maar darem nie). Maar Kuala Lumpur, waarvandaan ek nou kom, is wraggies elke keer wat ek daar kom vir my lekkerder. Dis net sulke nice mense daar. Mense maak grappies as jy in hulle taxi klim, of iets by die 7/11 koop - dit voel net so anders as byvoorbeeld China, of selfs Hongkong. En ek het Saterdagaand met my aankoms daar baie goeie geselskap gehad, sommer so by 'n straatkafee . . .


Groenteverkopers naby die Jokhang-tempel in Lhasa. Die laaste dag in Lhasa was regtig yskoud, daar het vars sneeu op al die berge om die stad gele^.


Al die monnikke met hul rooi jassies is vir my tog te oulik. Die twee staar na 'n kreupel man wat verby gekruip het (nie op die foto nie).


En as jy mooi kyk, heel onder op die prentjie staan 'n man en urineer teen die Potala-paleis, die Dalai Lama se heilige woning!

Sunday, April 23, 2006

Nuusblad

Ek lees in die jongste uitgawe van National Geographic dat die wetlike ouderdom vir meisies om te trou in SA tussen 12 en 14 jaar is? Dit kan tog nie waar wees nie? Dis in die Mei-uitgawe.
Ek het eintlik die tydskrif gekoop vir hulle storie oor die Evangelie van Judas, die storie van die eeu. Diegene wat nog nie hieroor gelees het nie, kan gerus Johannes se berigte gaan lees, hier en hier. Dis die storie van die eeu dink ek, en Johannes se berigte het veel meer om die lyf as wat in die National Geographic staan.

Friday, April 21, 2006

Free Tibet

Ek het nou in 'n aktivis vir Tibet ontaard. Gaan lees gerus Free Tibet. Ek raak bietjie gedemotiveerd om my blog aan die gang te hou, want klaarblyklik is die belangstelling maar min. Maar nou ja, dis immers vir myself om te onthou wat ek doen. Ek het tog gehoop om dit te gebruik as manier om te kommunikeer met my vriende in SA en elders, maar dit werk blykbaar nie. As ek so van plek tot plek rondflenter, partymaal wil ek regtig net ietsie van die huis af hoor. Enigiets.

Wednesday, April 19, 2006

Oor Tibet


'n Pelgrim voor die Jokhang-tempel in Lhasa. Ek het uitgevind hoekom dit die heiligste plek in Tibet is - daar is 'n afbeelding van die Boeddha binne wat glo deur die Boeddha self geseen is voordat dit daar neergesit is.

Ek het my tot dusver weerhou van enige politieke kommentaar oor Tibet, net omdat ek nie eintlik enigiets geweet het van wat hier aangaan nie, maar nou gaan ek 'n paar dinge se^. Dis more my laaste dag in Tibet, die Chinese geheime polisie lees in elk geval seker nie my blog nie. Ek het voorheen geen idee gehad van wat regtig hier aan die gebeur is nie. Dis algemene kennis dat Tibet 'n besette land is, hier is geen politieke vryheid nie (selfs minder as in China, dis tog moontlik), en die mense leef in vrees om enigsins in die openbaar hul afkeer in die Chinese besetting uit te spreek.
Ek het gisteraand in 'n redelik boheemse kuierplekkie gaan sit, almal daar was Tibettane wat later nie meer bang was om te praat nie. (Seker ook maar die bier wat gehelp het.) In kort, hulle weet hulle kan nie enigiets doen teen China nie, hulle weet as hulle in die openbaar kla, gaan hulle waarskynlik verdwyn. Die een ou het gese^ hy het 'n vrou en kind, hy is verantwoordelik vir hulle. Al maak dit hom hartseer, is daar niks wat hy kan doen nie. Hy't gese^ hy het nie 'n probleem met die Chinese wat hier woon nie, maar wel met die Chinese regering. Hy het gese^ mense wil almal maar net 'n lewe maak, dis hoekom baie Chinese hierheen kom.
Maar die Chinese is besig om Lhasa te verinneweer. Oral word blink nuwe winkelsentrums gebou, die ou deel van die stad, die oorspronklike Tibettaanse deel, kom al meer in die spervuur en wie weet hoe lank dit nog sal bly staan.
Die Chinese bou en bou, dit pas nie eens in in Lhasa nie. Maar dis natuurlik deel van die besettingsplan, hoe meer Chinese hier bly, hoe groter die Chinese invloed, hoe minder is die kans dat Tibet ooit sy vryheid sal kry.
Die westelike deel van Lhasa is al uit en uit 'n Chinese stad. Daar is niks eg Tibettaans daaraan nie. Volgens die mense van gisteraand (ek noem doelbewus nie hul name nie) het hulle nie al die Chinese geboue en dinge nodig nie. En veral nie die nuwe trein nie. Dis net nog 'n poging om China se houvas te versterk.
'n Ander ou gisteraand het vir 'n Chinese reisagentskap gewerk, maar hulle het hom later laat gaan, glo omdat hy voorheen 'n uitgewekene in Indie was en die nuwe baas hom nie vertrou het nie. China laat net 'groepe' toe om Tibet te besoek (daar is maniere, dis hoe ek op my eie hier uitgekom het) en die groepe kom onder die vaandel van die Chinese amptelike reisagentskap hier aan, en sien dus alles deur die Chinese bril. Kyk hoe goed is ons vir hulle . . .
Nou wat my persoonlik nogal pla, is die feit dat die hele ganse wereld oor hul voete val om in China te bele^. Om te kom geld maak hier. Die Chinese regering en sy amptenare ry net met Audi A8's rond (mens sien dit nogal, oral ry pikswart Audi's met donker vensters rond). Ook Volkswagen is oral te sien. My vraag is, is dit moreel regverdigbaar. Is daar enigsins nog moraliteit in die wereld oor. Tibet is nie die enigste klag teen China nie, almal weet hier word elke jaar meer as 10 000 mense doodgeskiet (tereggestel), sommige meen dis meer as 20 000. Dikwels sommer op die eerste dag van die hofsitting, sommer dadelik daarna. Politieke andersdenkendes word aangehou en gemartel, die Falun Gong-mense word gemartel, tereggesteldes se organe word gebruik vir oorplantings op ryk Japannese toeriste . . . En dan is maatskappye soos Google heeltemal gewillig om homself te sensor sodat hy darem in China kan sake doen. Dis vir my 'n hartseer saak, die wereld gee nie eintlik om vir enigeen nie of enigiets nie, solank hulle net geld maak.

Water is lewe


Hierdie kereltjie is een van die honderde bedelaars op straat in Lhasa. As hulle 'n Westerling sien, storm hulle. In sy geval het hy aan my arm kom trek en trek totdat ek agtergekom het eintlik wil hy net my waterbottel he^. Hy was bloot dors.

Die paleis


Dis waar 'n mens die Potala-paleis binnegaan, nadat jy teen 'n baie steil bult opgeloop het en byna uitsem is. Onthou, Lhasa is 3700m bo seevlak, dis omtrent 700m meer as SA se hoogste berg. En die suurstof is maar min. Lyk suitably mysterious . . .


Daar's is nie 'n manier om te beskryf hoe groot en ongelooflik die paleis is nie. Hierdie is voor die ingang na die wit paleis. Daar's 'n wit paleis en 'n rooi paleis. Binne mag mens nie foto's neem nie, maar daar is artefakte van honderde jare oud (goud net waar jy kyk) en grafkelders van verskeie van die Dalai Lamas, ook oorgetrek in goud. Die atmosfeer is gedemp en donker, en oral hang donker lappe en gordyne, daar is byna geen natuurlike lig nie. Net kerse wat brand. En hier en daar hoor jy monnikke wat chant.


Op pad uit kan 'n mens effens 'n idee kry van die skaal van die plek. Daar is meer as duisend kamers binne.


En ek moet darem wys hier staan ek in Lhasa by die Potala-paleis.


Op die steil pad terug na die stad is daar oral sulke inskripsies op klip en kliptorings.


Net buite die hoofingang, en op verskeie plekke teen die muur wat reg om die paleis loop, is sulke figure in die muur uitgekerf, honderde jare oud en roekelooslik byna toegeverf.

Monday, April 17, 2006

Mense van Tibet


Drie monnikke sit langs die Potala-paleis en bedel.


Snotneus-seuntjie wat saam met sy ma rondloop en bedel. Baie armes hier. En kreupeles.


Ek is nou nie 'n mens van Tibet nie, maar ek dra een van hul hoedens. Die son is skerp en die lug is droog.


'n Pelgrim op die Barkhor-roete. Sy't nogal anderster klere as baie van die ander aan.

Saam met die pelgrims

Die Jokhang-tempel in Lhasa is die kern van die Tibettaanse Boeddhisme. Dit is Tibet se heiligste plek van aanbidding. Die pelgrims, van oral oor Tibet, met allerhande verskillende soorte klere, loop kloksgewys in die straatjies om die tempel, en dan gaan hulle in waar hulle Jak-botter offer. Dis ongelooflik om net so saam met die mensemassa saamgesleur te word, my kop is maar steeds duiselig van die hoogte, maar dit maak nie saak nie. Ek het net saamgeloop. Die tempel is 1300 jaar oud. Dit is langs die Barkhor-plein, waar die pelgrims saamdrom en daar is honderde stalletjies met allerhande goeters te koop. Die kommuniste het baie van die godsdienstige artefakte in die tempel tydens die kulturele revolusie verwoes, maar so 70% het wel oorgebly.


'n Mens mag nie foto's binne-in die tempel neem nie, maar hierdie is die ingang na die binnekant. Binne sit monnikke op rooi kussings en mediteer of chant, daar is oral kerse wat brand, en daar hang 'n reuk van botter in die lug van al die Jak-botter wat ge-offer word.


Kerse brand in een van die buitenste gange van die tempel met Boeddha-prente agter teen die muur geverf.


Die laatmiddagson val op die gebdedsklokke wat al om die buitenste gang van die tempel loop.


'n Paar monnikke ontspan op die dak met die Himalajas in die agtergrond en die dakke van Lhasa voor.


'n Tipiese nou straatjie in Lhasa, langs die pelgrimsroete.


Pelgrims loop verby 'n brandende pot in die agtergrond. Weet iemand wat daai brandende ding is? Miskien vir wierook, maar ek het nie wierook geruik nie.


Kleurvolle toneel langs die Barkhor-pelgrimsroete.

My eerste foto-uitstalling

Hierdie werke deur die wereldbekende fotograaf Andre Gouws word van volgende week in die Hong Kong Cultural Centre in Kowloon tentoongestel . . . Dis alles geneem rondom die Potala-paleis in Lhasa, Tibet. Die tema van die uitstalling is Lhasa/Lasa.




Sunday, April 16, 2006

Die dak van die wereld


Die Himalajas onderweg na Lhasa, vanuit my Air China-vliegtuig. Hulle lyk so naby, want hulle is so naby.


Die lughawe van Lhasa, wat eintlik 90km van die stad af is. Mens kan mooi uit die vliegtuig die verlate aanloopbaan tussen die berge sien.


'n Tibettaanse huis op die hoofpap na Lhasa. Let op die Chinese vlag! Die Chinese geheime polisie hier is glo meestal Tibettane. Bo teen die berg hang gebedsvlaggies, maar dis nie so duidelik op die foto nie.


En dan seker die bekendse simbool - voorheen die Dalai Lama se woning en die setel van die Tibettaanse regering, die Potala-paleis in Lhasa. Daar is meer as duisend vertrekke. Hiervan sal nog baie foto's volg!

Verskoon my corny opskrif, ek weet ek steel nou die mees bekende toeriste-frase vir Tibet, maar daar is nie 'n ander manier om dit te beskryf nie. Ek het vanoggend hier aangekom en is vol wonder oor alles wat ek sien. Die lug is blou, blou en helder, die omgewing is bar en droog, Lhasa is net so vol misterie as wat ek gedink het. Ek het vandag nie veel gedoen nie, ek is bang vir hoogtesiekte (party mense sal onthou van vorige geselse dat ek vreeslik siek was in La Paz en Cuzco in Peru van die hoogtesiekte, die hoogte daar is 3800m, hier is dit 3700m.) Sover verloop dit goed, die mediese literatuur beveel aan dat mens op die eerste dag net rus en stadig loop, dit is dus wat ek gedoen het, sodat my longe gewoond kan raak aan die dun lug. Baie mense is al dood weens hoogtesiekte as jy roekeloos raak. Dus wys ek net 'n paar aptytwekker-foto's, more volg meer.

Friday, April 14, 2006

Kettings

Ek is besig om die mees ongelooflike boek te lees. Ek sou dit nie gelees het as ek nie Samoa toe gegaan het nie, maar so ontdek ek toe W. Somerset Maugham. Hy is 'n Engelsman, het Of Human Bondage (and the Strength of the Emtions, om die boek sy volle titel te gee) geskryf in 1915. Wat weet hierdie outydse Engelsman nou, dink ons slimkoppe in die moderne wereld. Baie meer as wat ek weet, kom ek agter. Het lanklaas soveel geleer uit 'n boek. Hy skryf oor passie, elke moontlike inkarnasie daarvan, dis bloot ongelooflik. Is meer as 650 bladsye lank, maar lees vinnig. Ons (of ek) is te geneig om te dink hierdie ou manne het niks geweet nie - hulle weet meer as wat ons nou weet. Ek leer meer persoonlik uit hierdie boek as uit baie, baie meer ander almal saam. Het enigiemand dit al gelees? Ons moenie onsself so belangrik hou dat ons die, noem dit nou maar klassieke, skrywers minag nie. Hy skryf oor godsdiens, liefde, die sin van die lewe. Alles. Ek's nou so by bladsy 450 rond, nog omtrent 200 oor, maar dis wonderlik. Wemel natuurlik van politieke onkorrektheid (dis 100 jaar oud!), maar dis my volgende boek van die maand.

Tibet se deur is oop


Dit, my liewe vriende is die veelbesproke permit wat my toelaat om as een van die min Westerlinge wat dit tot nog toe gedoen het, Tibet te besoek! Dit het vandag deurgekom. En hier onder is die 'toergroep'-lys (amptelik mag jy Tibet net as lid van 'n 'toergroep' besoek, in hierdie geval is ek die enigste lid van die mitiese groep) en my vliegkaartjie na Lhasa vir Sondagoggend 07:40.

Pandafeite


Hulle trek vir jou 'n rokkie aan sodat die Panda nie jou broek bemors nie. Dis 'n rooipanda of klein Panda.


Life as a Panda. Bestaan uit vreet bamboes en slaap.


As jy naby genoeg staan, kan jy hoor hoe snork hulle. Dit klink soos Molly as sy slaap of gelukkig is.


Portretstudie van 'n Panda. Chengdu. China.

Ek het vandag vir my 'n troetelpanda gekoop wat ek op my plasie in Teslaarsdal gaan aanhou. Hier is 'n wildreservaat net buite Chengdu waar mens die Pandas kan sien (hulle word daar geteel - dis amper soos De Wildt met sy luiperds buite Brits, nie heeltemal wild nie, maar ook nie heeltemal 'n dieretuin nie). Geniet maar die foto's en beny my!
Twee interessante Pandafeite:
Een van die redes waarom daar so min Pandas in die wereld is (afgesien daarvan dat hulle afgemaai is deur jagters) is dat manlike Pandas vreeslik erg onderbedeeld is (hulle is imeers Chinees), en dit maak voortplanting ietwat moeilik en soms onmoontlik.
Die eerste Panda wat in aanhouding gebore is (op natuurlike wyse) is op 9 September 1963 gebore, agt jaar op die dag voor my.

Thursday, April 13, 2006

Antieke en klassieke kultuur


Hierdie meneer is meer as 2000 jaar oud en hy sit sommer so nonchalant in 'n museum sonder noemenswaardige sekerheid in Chengdu. Hy is so 200 jaar voor Christus geskep in die Qin-keiserryk se tyd. Ek het die foto onwettig geneem (maar sonder 'n flits, ek het nie kosbare oudhede beskadig nie!)


Dit is 'n muur uit die tydperk van dieselfde keiserryk met antieke geskrifte op. En 'n selfportret. Hoekom weet ons so min in SA van antieke Chinese kultuur?


Die oulike dingetjie (beertjie met 'n bal?) sit voor 'n tempel toegewy aan Zhuge Liang, Chinese Shakespeare wat so 1000 jaar voor Shakespeare geleef het.


Voor dieselfde tempel, van die ander kant af.


En die kerel met wie ek nie sou sukkel nie, het in die jaar 200 se koers geleef, hy was 'n groot krygsheer. Hy's ook in die tempel.

Chengdu is (nog een) van daai plekke in China wat spog met 'n geskiedenis wat strek oor duisende jare. Die stad is so 300 jaar voor Christus gestig. Of dalk selfs nog langer voor dit. Sekerlik die soort plek wat vol interessanthede sal wees vir byvoorbeeld 'n meestersgraadstudent in antieke en klassieke kultuur. En vir gewone mense soos ek, is dit net eenvoudig verstommend. In 'n museum vandag het ek kleibeelde gesien wat min of meer 2000 jaar oud is, gemaak in die tyd toe Jesus op Aarde geloop het, en dit lyk asof dit gister gemaak is. En die hele museum is vol van sulke dinge, soos baie plekke in China. Interessant van Chengdu is dat hier onlangs (letterlik 'n paar weke gelede) tydens bouwerk aan 'n nuwe pad grafkelders ontdek is wat veel ouer as 2000 jaar is - gisteraand op TV was daar 'n berig daaroor. Die argeoloe weet nog nie regtig wie se grafkelders dit was nie - daar is byvoorbeeld hope en hope ivoor (volledige stelle olifanttande) opgegrawe wat niemand weet waar dit vandaan kom nie. Hier was nooit olifante nie. Of was hier? En net buite Chengdu is 'n kanaalsisteem wat gebou is tweehonderd jaar voordat die Romeine hul eerste kanaalsisteme begin bou het. Maar die Romeine s'n word algemeen aanvaar as die eerste beheerde kanaalsisteem in die wereld (om byvoorbeeld vloede te keer en watervoorsiening te reguleer). Verstommende plek, hierdie China, en ietwat afgeskeep in die Westerse geskiedenisboeke.
Hier is die oorspronklike artikel van die nuutste Chengdu-vonds, maar die olifanttande is eers later gevind. Die Chinese TV-program gisteraand het beweer van die grafkelders is veel ouer as wat in hierdie artikel gemeen word, oor byvoorbeeld die olifanttande en ander dinge wat sedertdien gekry is, wat nie heeltemal verklaar kan word nie.
CHENGDU, China (UPI) -- Chinese archaeologists have discovered a group of 24 ancient tombs from three dynasties, the oldest being nearly 2,000 years old.
The find was made at a construction site in Chengdu, the capital of southwest China`s Sichuan province, the state Xinhua news agency reported Wednesday.
Sixteen of the tombs were from the Eastern Han Dynasty and the earliest one was believed to be built in 74 A.D. as indicated by the date on the bricks. Eight of the tombs were built in the Tang Dynasty, between 618-906 and the Song Dynasty, between 960-1279.
The archaeologists have so far carried out excavation on 11 of the 24 ancient tombs and have unearthed a large number of historical relics.
'We expect to find more articles as none of the tombs have been robbed,' said Li Guo, of the county`s archaeological research institute.
Copyright 2006 by United Press International

Spoeg en snuif

Aha, ek is in Chengdu, suidweste van China, Sichuan-provinsie. Hier werk Blogger se template vir die opskrifte! Nie een van die verskeie internetkafees wat ek in Beijing gebruik het, het my die opsie gegee om opskrifte te skryf nie. En as oudsub is dit iets wat my vreeslik irriteer. Nou kan ek almal regmaak. Maar, helaas, kan steeds niemand anders se blog, of my eie, oopmaak nie.
Sit vandag hier langs die rivier in Chengdu en ontbyt eet, mooi omgewing, (ysig koud), kleinerige stad in Chinese terme, net 8 miljoen mense in vergelyking met byvoorbeeld Beijing se 20 miljoen. Moet 'n paar dae hier spandeer om te wag vir my Tibet-permit, steeds 'n ope vraag of ek dit gaan kry, want skielik neem dit 5 dae. Maar na 'n bietjie 'onderhandeling' is die belofte nou dat ek dit gouer sal kry, want ek kan nie 5 dae wag nie, my visum gaan uithardloop. Chengdu is 'n heel aangename plek om te wag vir die permit, hier is Pandas in die omgewing (more gaan ek soontoe), en allerhande vreeslike ou geskiedenis.
Maar, soos oral in China: Die toneel, langs die rivier, straatkafees, sambrele, kabbelende water van die rivier, mooi lentebloeisels in die bome, heel deftige ou tannie loop verby. 'Gggwaaaaggh' (roep sy die slym uit die dieptes van haar sufgerookte keel op) en dan 'Pwgaaagh', spoeg die hele straat vol. Oomblikke later, aantreklik jong man loop verby. 'Gggwaaagggh' en 'Pwgaaagh'. Oorkant die pad staan iemand en urineer teen 'n boom. Die straatsmous wat staan en brode verkoop, draai net so EFFENS weg van sy brode en 'Gggwaaaggh', 'Pwgaaagh'. Ietwat onhigienies, die mense hier. Ek wonder of verliefdes mekaar 'n lekker Franse soen gee, met al die spoeg wat die strate vol le^, klink dit vir my nie meer na enigsins 'n baie aangename ondervinding nie. Ek gaan nie foto's van die spoeg plaas nie.


Dis nogal die prentjie wat ek van China gehad het. Pagoda en refleksies in die water. Hierdie is aan die onderkant van Qintai-straat, waar ek bly.


Dis in die Nanjaio-park, waar daar ook allerlei Confucianistiese tempels en grafkelders is.


In dieselfde park - daar is vreeslik baie bonsai-bome, hierdie een het my aandag getrek omdat hy so groot is, ek weet nie watse soort boom dit is nie, maar ek sou raai in werklike lewe word hy reusagtig groot. Steeds baie indrukwekkend, meer indrukwekkend as die gehalte van die foto, maar dis die beste wat ek kon uitkry uit 'n vreemdeling.


Dis ook die straat waar ek bly, aan die bokant daarvan. Let op die fietse en motorfietse wat sommer in alle rigtings ry. Saans verlig hulle natuurlik die hele straat met neon. Dis die 'ou' deel van die dorp, sowat 400 jaar oud.