
Die uitsig vanaf die antieke tempels by Dambulla. Dis nou wel Dambulla hierdie, maar sulke tonele is volop oor die hele eiland.

Die reisdamme langs die treinspoor. Absoluut kenmerkend van Sri Lanka. Waar jy gaan, sien jy dit, met mense in kleurolle kleredrag en waterbuffels wat in die lande werk. Die foto is uit die 'sneltrein' tussen Kandy en Colombo geneem, dus effe geblur.

Dan, vir my persoonlik nogal wonderlik, die hele land drup van oud-koloniale nostalgie. Ek het myself begin ondervra oor hoekom ek so hou van die konsep van vervloe glorie, in hierdie geval die Britte se instellings wat so geleidelik toegelaat word om net te swem in die glorie van die verlede. Kyk nou net na hierdie winkelstraat in Kandy. My antwoord was omdat dit spreek van nostalgie, en ek hou van nostalgie, ek hou daarvan om herinner te word aan tye wat wonderlik was, al is dit nou effens verlep. Maar die herinnering is daar, soos die vervloe Britse glorie.

'n Kroeg in Kandy. Lyk dit nie wonderlik nie? Ek is seker dit lyk nog net soos dit gelyk het toe die Engelse tee-boere dekades gelede van die hooglande afgekom het dorp toe vir 'n dop.

Die rotstempel by Dambulla. Hierdie is natuurlik die nuwe gebou wat voor die tempel gebou is om dit te beskerm.

Maar binne-in is 'n hele reeks grotte wat dateer uit 'n eeu of wat voor Christus! Ja, voor Christus. Met muurskilderye wat skrik vir niks. Soos hier. Die beelde is natuurlik nuwer, maar dis die oorspronklike tweeduisendjaar-oue skilderye! (Effens herstel natuurlik.) En daar's 'n klomp grotte wat so lyk.

Dan is daar ook die rotsvesting by Sigiriya. Dit dateer uit die vyfde eeu na Christus, was een van die drie belangrikste vestings van die Sinhala-konings. Hierdie mure is meer as 1500 jaar oud. Wat op sigself nie so skouspelagtig is nie, maar . . .

Dis gebou bo-op hierdie berg. Soos die Masada van Sri Lanka dink ek. Bo-op die berg is paleise en tuine en selfs 'n dam, en doer onder is reusagtige koninklike tuine.

En op pad boontoe is Sri Lanka se weergawe van San-rotsprente soos hierdie. Eenduisendvyfhonderd jaar oud. Daar is meer as twintig van hierdie nimfe.

Dis die leeu se voet by die begin van die trappe na bo. Dis al wat oorgebly het van die beeld, dit was 'n hele leeu. Soos die sfinks. Agter is die trappe wat jy moet klim om bo by die bergvesting te kom - hierdie is egter klaar halfpad op. Hoogtevrees of te not, ek het geklim!