Thursday, March 09, 2006

Vreemde wereld (deel XXIII)


Die teeplantasies in die Cameron-hoogland. Dis sowat 1600 m hoog, omtrent so hoog soos Johannesburg en heerlik koel. Ek was verras om te hoor hierdie plantasie behoort aan 'n Skotse familie, al sedert die koloniale dae. Al die werkers is buitelanders, want hulle verdien net R1 (in ons geld) per kilogram teeblare wat hulle pluk!


Die (nuwe) woonstelgeboue in Tanah Rata (Cameron-hoogland) word alles in so 'n fake Britse styl gebou. Redelik oulik van ver af, maar van naby af lyk die geboue maar oes - nie te skoon of goed versorg nie.

So neem ek toe soos 'n oudkolonialis my onvlugting na een van die 'hill stations' in Maleisie. (Vir diegene wat nie weet nie, die homesick Britse staatsamptenare en kapitaliste het oral in die tropiese wereld vir hulle stukkies van Engeland herskep hoog in die berge waar dit baie koeler as in die tropiese kookpot daar onder is, en die dorpies gebou sodat dit hulle so veel as moontlik aan die huis herinner). Nou ek het nie eintlik nodig om aan die huis herinner te word nie, maar ek het dit nodig geag om weg te vlug van die hitte. En wat 'n goeie besluit was dit nie - dis heerlik koel en vars hierbo, ek word wakker in die oggend en trek my komberse 'n bietjie stywer vas (en word nie in 'n swembad vol sweet wakker nie), ek loop by my kamer uit en 'n vars oggendluggie begroet my (en my klere kleef nie oombliklik aan my lyf vas nie). Wat die 'koloniale' atmosfeer hier in Cameron Highlands betref - daar het niks van oorgebly nie, die plek lyk meestal soos enige ander dorp in Maleisie (rye en rye Chinese winkels wat alles op aarde verkoop en woonstelgeboue net waar jy kyk, met wasgoed wat oral oor die relings hang). Die omgewing is mooi, teeplantasies en oerwoude.
In elk geval, ek geniet dit so baie hier, ek sit net in die straatkafees en verkyk my aan die wereld wat verbygaan en lees koerante. So hier is oudergewoonte 'n paar interessante dinge wat ek vandag gelees het:
Bigfoot is gekry, hy woon in Maleisie (in die suide) en wetenskaplikes van organisasies met name soos Seekers (wat die paranormale ondersoek) het sy voetspore in die oerwoude by Johor Bahru gekry. Hulle het gips-afbeeldings daravan gemaak en gaan dit nou ontleed. Daar was 'n foto in die koerant van die voetspoor.
'n Regter het die terrein besoek waar 'n sekte met die naam Sky Kingdom tot onlangs sake gedoen het. Die sekte se simbole was reusagtige afbeeldings van 'n teepot en sambreel (albei was twee verdiepings hoog). Hierdie simbole is intussen afgebreek en net die volgelinge se houthuise het agtergebly. Die artikel meld nie wat die simboliek agter die teepot en die sambreel was nie.
Brokeback Mountain is verbied in Maleisie (staan in die koerant), hoewel 'n mens op elke straahoek smokkelweergawes van die DVD kan koop (wat ek self gesien het).

No comments: