Sunday, March 05, 2006

Eerste lig


Op die lughawe van Tonga in die Stille Oseaan. Die plek wat elke dag die eerste daglig in die hele wereld sien. (Samoa is die plek wat die laaste daglig sien.)


Sydney se hawebrug en die operahuis (dit steek net-net regs van die brug uit) uit die vliegtuig afgeneem.

Ek het eergister in Kuala Lumpur aangekom nadat ek (oudergewoonte) 'n marathonvlug hierheen gehad het. Het Woensdagoggend twee-uur opgestaan vir my vlug vyfuur van Samoa af na Auckland. Was met Air New Zealand (vermy hulle maar), die vlug was ses uur lank, want ons het onderweg eers in Tonga, 'n nog kleiner en nog minder bekende eiland in die Stille Oseaan geland. Maar dit beteken ek het nog 'n vreemde land gesien wat ek by my lysie kan voeg! (Hoewel dit streng gesproke seker nie tel nie, maar ons het van die vliegtuig afgeklim, dus het ek op Tongaanse grondgebied rondgeloop, en bo-oor die hele eiland gevlieg, wat ek alles uit die lug kon sien, dis plat, plat, plat met baie kokosneutbome.) Dit was een uur na die opstyg in Samoa, maar omdat ek weer oor die internasionale datumlyn gevlieg het, was dit toe skielik Donderdag in Tonga. Tonga is die eerste land in die wereld wat die nuwe millenium gesien het. Daarna was daar 'n vlug na Auckland en toe 'n paar uur se wag, toe na Sydney, waar ek ook 'n uur lank moes afklim en lekker Australiese koffie op die lughawe gedrink het (nog 'n land!), toe na Bangkok, hele paar uur gewag, en toe eindelik na KL. Was poegaai toe ek hier aankom. Wanneer ek terug is in SA, gaan ek nie sommer gou weer op 'n vliegtuig klim nie. Genoeg is genoeg. KL was amper asof ek by die huis kom omdat ek laasjaar hier was, en dit net so heerlik is om in 'n bekende plek rond te loop.

1 comment:

Anonymous said...

moenie te gou gatvol raak nie. jy het skaars begin