Saturday, March 11, 2006

The Lost Tribe


Indiana Jones oefen hoe om 'n blaaspyp te gebruik. Hy het met die eerste probeerslag die teiken getref (met 'n nie-giftige pyl), maar dit was nie 'n bull's eye nie. Dit was eintlik baie ver van 'n bull's eye af.


Die orang asli-kinders staan en wag vir die buitelanders wat vir hulle lekkergoed bring. Bietjie vreemd . . .


Die stamleier wys vir ons hoe werk sy neusfluit (Kyk mooi, hy blaas deur sy neus). En daarna kan jy die fluit koop as jy wil.


So lyk die huise van bamboes waar die orang asli woon. Dis eienaardig as jy ingaan, want die vloer is net van bamboes en dit voel asof dit gaan breek.


Die landrover waarmee ons die verlore stam van Maleisie gaan soek het.

Soos Indiana Jones het ek 'n verlore stam in die oerwoude van Maleisie gaan soek. Hoe oorspronklik die toer was, weet ek nie eintlik nie - of dit regtig so moeilik is om daar uit te kom en of dit maar net praatjies was - maar dit was in elk geval interessant. En dit was 'n redelik uitmergelende rit deur die oerwoud soontoe. Hier bly 'n stam genaamd orang asli, dit beteken oorspronklike mense (orang beteken mens) en hulle woon al tienduisende jare hier. Hulle woon steeds in hul tradisionele bamboeshutte in die oerwoude, maar leef al meer en meer westers - dra byvoorbeeld westerse klere en party van die dorpies het krag. Mens kan (na bewering) net soontoe gaan in vierwiel-voertuie op toere. Langs die pad stop die landrover by 'n winkel sodat ons kon lekkergoed koop vir die kinders, wat in 'n ry kom staan het toe ons by die dorpie aankom en bakhand gewag het vir hul lekkers. Dit was nogal vreemd. Die rit soontoe was skouspelagtig, deur die reenwoud. Die oerwoud is nooit stil nie, daar is aanhoudend voels, apies en ander gediertes wat skreeu en raas. En soos ons ry het ek die hele tyd reusagtige spinnekoppe - so groot soos my hand en groter - op hul spinnerakke tussen die bome langs die paadjie gesien. Die dorpie waar ons was, was in die berge rondom die Cameron-hoogland.

No comments: