Monday, March 13, 2006

Die perel van die Ooste


Fliekflooie sal miskien hierdie herken (met die blou huis as hulp) - dis waar die fliek Indochine gemaak is. Dis die huis van 'n groot Chinese sakeman (die eerste Chinese kapitalis noem die gids hom) wat in Georgetown gewoon het. Die karretjies is die einstes wat in die fliek gebruik is.


Dit is die Cheong Fatt Tze-huis. Hy was 'n geldmagnaat wat in die laat 1800's hierdie huis gebou het. Dit is skouspelagtig mooi binne, maar mens mag nie foto's neem nie. Daar is room dividers met goue beeldjies in, 220 vensters, 38 kamers, 'n binnehof met 'n dam in die middel wat, as dit reen, die water opvang en 'n miniatuur-maalkolk in die middel skep - die 'energie' van die huis.


Sommer net 'n straattoneel in Georgetown.

Ek is nou al vier dae in Penang (Georgetown), die perel (Paarl?) van die Ooste. Dis wonderlik hier, dis uit en uit 'n Chinese stad, hier woon baie Chinese en wat hulle noem nonyas, 'n gemengde ras bestaande uit Chinese, Maleiers en allerhande ander rasse. Die plek is eenvoudig pragtig, dit was die Britse hoofvesting vir 'n tyd, en hier is geskiedenis om elke hoek en draai. Maar die lekker is om net hier rond te hang, hier's heelwat ander reisigers, maar dis ook lekker om net te kyk na die lewe wat verbygaan. Daar is oral straatjies vol ou geboue, kleremakers op straathoeke, markte, en ek het vandag 'n heel interessante ding gesien - 'n man met 'n baie ou tikmasjien wat in 'n park sit en vir ander mense briewe tik. Ek kan nie se^ dat ek eintlik veel hier doen nie, ek hang net rond. En voel of ek elke nou en dan iets ontdek. Hier is ook allerhande tempels, van Boeddhisties tot Taoisties tot moskees, kerke, katedrale. Saans, as die son sak oor die Straat van Melaka (die see, Penang is 'n eiland), dan hoor 'n mens die oproep om gebed van die moskees af (wat noem mens dit nou weer?) en daar is net so 'n rustigheid wat neerdaal. Hier sou ek lank kon bly. Dit het my 'n rukkie gevat om te besef, maar natuurlik ek kan tog nie verwag dat elke plek wat ek besoek wonderlik sal wees nie - daarom is party plekke maar teleurstellend en dan, as jy 'n goeie plek kry, is dit net eenvoudig magies.

2 comments:

Anonymous said...

Die oproep om gebed is die adhan. My broer - wat vir die afgelope paar jaar geweier het om kerk toe te gaan - het hierdie Sondag in Calvinia opgestaan, aangetrek en (NG)kerk toe gegaan. Hy't na die diens vir die dominee gaan se dat hy hulle bietjie moet kom besoek. Toe nooi die dominee my broer vir middagete saam met sy vrou en vyf kinders.

Anonymous said...

Call to prayer is die Athaan, en die ou wat dit doen word die Muthathien genoem. In die Kaap noem ons dit sommer die Bilal