Friday, March 17, 2006

Daar was 'n trein


Onderweg na Sodom en Gomorra.


Ek het op die trein van Penang na Bangkok die eerste keer in meer as twee maande wat ek nou reis, ander Suid-Afrikaners ontmoet. Hulle het vreeslik gehuiwer voordat hulle op die trein geklim het, en toe ek in Afrikaans se^ ons kan maar opklim, het die twee vroue histeries begin lag. Dis Groshaan en sy vrou, ek het ongelukkig haar naam vergeet. Hulle kom van Maitland.


En dis Waleed en sy vrou, wie se naam ek ook ongelukkig vergeet het. Die seuntjie is Groshaan s'n, hy is Ziad.


En die bestemming. Die uitsig uit my hotelkamer, die beste plek om te wees in Bangkok.

Ek het gister met die trein van Penang na Bangkok gery, nie omdat ek wou nie, maar omdat ek moes. (Die treintrippie was egter wonderlik, dit wou ek al laasjaar gedoen het toe ek hier was, dit sou lekkerder gewees het as die bestemming iets anders as Bangkok was.) Ek het my reis in die Ooste ongelukkig gedeeltelik so beplan dat Bangkok ietwat van 'n basis is en ek redelik gereeld deur hierdie plek moet reis - bloot omdat dit 'n gerieflike en goedkoop aanknopingspunt is vir vlugte en ander vervoer na al die buurlande. Ek gaan nog 'n paar keer hierheen kom. Maar ek probeer altyd om so min as moontlik tyd in Bangkok te spandeer, ek dink dit is min of meer hoe dit in die hel sou voel. Ek daag enigiemand uit om vir my redes te gee waarom Bangkok 'n lekker plek is. Ja, feit, dis goedkoop, feit, 'anything goes' en party soorte hou daarvan, maar dan - dis so besoedel ek sukkel om asem te haal, die verkeer is iets afgryslik (jy neem elke dag jou lewe in jou eie hande deur net oor die straat te probeer loop), daar is restaurante met haaivinsop op die spyskaart en gister het ek wraggies verby 'n vistenk geloop met twee klein haatjies in wat skaars kon asemhaal so klein was die tenk. Dit is wat met die wereld gebeur wanneer jy enige begrip vir moraliteit verloor en die oorlewingstryd/(geldmaakstryd?) so erg raak dat jy nie meer enige waardes het nie. Die snaakse ding is dat ek waarskynlik wanneer ek terug is in SA 'n winkeltjie met luukse goedere uit die Ooste gaan oopmaak, en na alle waarskynlik baie gereeld Bangkok toe gaan kom, want dis wel 'n inkopieparadys. Gelukkig het ek hierdie slag 'n heel aangename hotel ontdek wat baie goedkoop is en BBC het waarna ek kan kyk terwyl ek my verbeel ek is in Penang. (Ek weier volsterk om hier in 'n Backpackers-plek te bly sonder lugreeling, dis soos 'n doodsvonnis.) Dan gee ek ook onmiddellik toe ek ken nog nie die res van Thailand nie, ek hoor dit is glo wonderlik. More is ek in China. Die outonome, selfregerende gebied van Hongkong. Klink soos 'n tuisland in ou SA.
ADDENDUM: So loop ek tou nou bietjie vroegaand deur die strate van Bangkok wat gewoonlik voel soos 'n koolsuurgas-sauna, maar daar het vanmiddag 'n sterk wind opgesteek en die lug is amper vars. En toe voel ek sommer skielik baie sleg omdat ek Bangkok hierbo so sleg gemaak het. Elke plek het seker sy goeie punte, en ek dink nie ek kan oordeel as mense haaivinsop verkoop as dit deel van 'n oorlewingstryd is nie. Daar is oral goeie mense en baie mense hier het seker geen ander uitweg nie. Dis net jammer dis soms so bar en in your face. En die stad het nogal 'n bruisende energie. Ek het by 'n stalletjie langs die pad gekyk na sigaretaanstekers (Zippo's), eintlik net vir kyk, maar toe was die vrou so adamant, sy het gese^ ek is haar eerste klient vir die aand. Nou ek weet daar is 'n bygeloof as die eerste klient se aankoop misluk, is dit sleg vir die hele aand, en sy was so bekommerd, ek het toe maar toegegee en die ding gekoop. Mens moet seker die plaaslike gewoontes in ag neem.

5 comments:

lolla said...

Redes hoekom Bangkok lekker is?
Die lug is skoner as Hsinchu(regtig).
Dis altyd somer.
Jy kan klere koop wat pas.
Jy kan lees wat jy bestel en nie net wys na 'n prentjie nie.
Chatuchak mark.
Voet massages.
Die kamerastraat (waar jy lekker ou kameras en lense kan koop vir amper niks).
Dis net 'n paar uur van idilliese bestemmings af.
Die gerestoureerde Vespas.
Jy kan nie daar werk nie, dus is jy altyd op vakansie.
Die vervalsde grade, perskaarte, studentekaarte, paspoorte, huweliksertifikate en bestuurderslisensies wat jy binne 'n japtrap kan kry indien jy belangstel.

Maar dit klink vir my dat jy "One Night in Bangkok" heeltemal te ernstig opneem. Ek moet bieg dat haaivinsop een van die lekkerste disse is wat ek al ooit geëet het. Dit word tradisioneel op Chinese troues aan die gaste gegee. Ek is geen voorstaander van die makabere wyse waarop haaie se vinne in die sop beland nie, maar ek weet ook 'n haai gaan geen morele kwessie hê om my te eet as ek voor hom opgedis word nie.

rondloper said...

Alles wat jy se^ is waar - ek hoop jy het ook my addendum tot my oorspronklike post gelees! Dis my tweede keer in Bangkok gewees, en ek moet bieg na 'n rukkie het ek meer daarvan begin hou. Maar dit bly vir my erg besoedel (die lug, ek sukkel om asem te haal) en soms te oorweldigend, maar dit raak beter. Het ook te doen met watse soort vriende mens daar maak dink ek . . . Oor die haaivinsop se^ ek liewer niks. Gaan lees Peta se website!

Anonymous said...

Waarom vergeet jy elke keer die vrou se naam, ANDRE?
Ek is diep teleurgesteld en het jou reeds by Powa aangegee

rondloper said...

Ek kan nie help as die vroue hulself stil hou en ek nie kans kry om in gesprekke hul name te herhaal nie! Dis tog al hoe mens nuwe mense se name onthou . . .

Anonymous said...

Hierdie woorde is van Hollandse oorkoms. Maleis het 5000 woorde wat van Nederlands afstam. Voorbeeld: asbak, koelkas etc.