Wednesday, March 22, 2006
Reis
Na aanleiding van my vorige skrywe oor die fliek Capote, wat ek in Nieu-Seeland gesien het en my baie ontstel het - oor die wese van kuns en die skeppers daarvan, is hulle eintlik boos soos Capote was, net ter wille van 'n goeie boek en 'fame' (of gee dit 'n mooi naam as jy wil), het ek hierdie skrywe van Gerda Grobler ontvang. Sy haal aan uit 'n stuk wat DJ Opperman geskryf het oor die wese van kuns en die kunstenaar. Dis stof tot nadenke. Dit laat my baie diep dink. (Ja, ek kan diep dink.) Sy verwys nie self daarna nie, maar Brandaan se reis gaan ook oor die mens se geestelike reis, hoe moeilik jy jou eie geestelike pad vind. Opperman verwys (soos ek Gerda se brief lees) nie na die geestelike aspek nie, maar bring dit in verband met kuns.
Sy skryf: Ek dink Opperman, as 'n groot digter en kunstenaar is maar alte goed bewus daarvan wat dit soms vat om 'n 'groot kunswerk' te skep, soos jy sal sien. Hy skryf die duiwel is die kunstenaar se drinkeboer! Eintlik sê hy dat goeie, voorbeeldige karakters/(kuns) vervelig en voorspelbaar is en dat 'n bose karakter wat feilbaar is, meer vleis om die lyf het. Hy vertel die storie van Brandaan:
"...die ernstige leser wat die kunswerk as iets boos sien en in die vuur wil werp... kry (ons) by alle volke en in alle tye, en die mooiste uitbeelding van sy vertwyfeling, vooroordele en uiteindelike bekering vind 'n mens in die ou Ierse legende oor Brandaan. Brandaan, 'n heilige, lees beskrywings in 'n boek oor ongelooflike voorvalle en verskynsels: ... Brandaan vererg hom oor hierdie fantastiese beskrywings (reusevis, mensekop ens. - lees die volle verhaal hier), hy glo nie die inhoud nie en met 'n verwensing in woede gooi hy die boek in die vuur. Skielik verskyn daar 'n engel - dit kon ook sy gewete gewees het - en beskuldig hom van 'n misdaad: die waarheid is nou verlore. Die Here gebied dus dat hy die beskermde mure van die klooster moet verlaat en self vasstel wat 'waarheid' en wat 'leuens' is, hy moet uitvaar en die wêreld, die werklikheid self leer ken ... Brandaan vertrek en 'n dagboek word aangehou waarin sy ondervindinge aangeteken word ... As hy na 'n lang swerftog terugkom, het ons as wins min of meer die boek wat hy verbrand het. Die boek is dus weer uit die vuur gehaal. Brandaan vind ons in Afrikaans en in allle tale en plekke en tye ... maar meestal sonder die bekering ... Tog kan Brandaan die kunstenaar self ook wees, die wese agter en in die boek.
... ons kry ook by die kunstenaar gedurende die hele skeppingsproses die spanning van 'n Brandaan ..., wanneer hy selfs sy skepping as iets boos uit 'n 'fantastiese' wêreld beskou en dit wil vernietig. In die tweede plek wil ek juis daarop wys dat die bose inherent aan die boustof en vormgewing van die kunswerk is.
Tennyson skryf in sy In Memoriam:
I sometimes hold it half a sin
To put in words the grief I feel;
For words, like Nature, half reveal
And half conceal the Soul within...
Opperman skryf dat die gevoeligste kunstenaars 'n spanning voel, 'n spanning tussen 'reveal' en 'conceal', 'n spannning tussen kunstenaarwees en menswees ... Onderwyl die mens ly, liefhet, haat ... fluister die kunstenaar aan hom: 'reveal', dis mos interessante en goeie boustof vir 'n gedig! Die mens verset hom: nee moenie, 'conceal', anders gee dit aan my ondervinding, aan my diepste gevoelens iets onegs, iets vals en 'n doel buite die ervaring - en dan sal ek sondig teen my menswees. So 'n spanning moes Totius byvoorbeeld geken het ...
Die buitestaander sal vra: Maar as die kunstenaar dan van hierdie boosheid bewus is, hoekom gaan hy nog met sy skepping voort? ... Opperman antwoord: Dit stil die pyn ... of anders gestel dit bring vreugde. Maar dit is nog nie eens die volle waarheid nie.
Die kunstenaar buit die mens uit, hy aas op hom, por hom aan tot belydenis ... (dan skryf Opperman 'n langs stuk oor belydenisgedigte soos Wordsworth s'n en Keats) En dan:
'Die aaslustige element van die kunstenaar is nie tevrede met die ondervindings wat sy menswees toevallig opdoen nie; hy word astranter (en miskien met die jare wanhopiger). Dit por die mens doelbewus aan tot nuwe onderwindings ter wille van die kuns, want as daar een ding is wat die kunstenaar vrees, is dit die digterlike woestyndood, die Kalahari-wit papier. Dit word soms 'n siekte om die kuns te bedryf, of eerder 'n noodsaaklike middel wat die digter nodig het om hom teen homself te red. Daar is oor Hooft in verband met sy liefdesgedigte gesê dat hy ter wille van die kuns verlief geraak het. Die mens kan uit 'n innerlike noodsaak gedryf word van persoon tot persoon, opvatting tot opvatting, van -isme tot -isme, geloof tot geloof, van bekering tot bekering, maar by die kunstenaar kan hierdie soeke 'n sekere 'egtheid' verloor waar dit 'n soeke na nuwe boustof word.' (Opperman noem hier Rilke en Yeats as voorbeelde)
'Die kunstenaar verbruik gelowe en bygelowe, vriende en verhoudings, selfs sy eie menswees en liggaam in die bose en selfvernietigende soeke na ondervindings, na nuwe en unieke sensasies vir sy kuns.' (Ek dink dit is waar die kunstenaar soos Capote en ander op hul mees koelbloedigste en vernietigendste uitkom ... ek glo nie alle kunstenaars is so nie, maar dat sommige selfs ook selfvernietigend optree ... dis in elk geval die swartste prentjie wat Opperman van hulle skilder. En hy behoort te weet aangesien hy 'n alkoholis was wat by die dood omgedraai het om daarna Komas uit 'n Bamboesstok te skryf.) Hy skryf dan: 'Kortom, in enige gevoelige kunstenaar is daar voortdurend 'n stryd tussen sy menswees en sy kunstenaarwees: Brandaan dreig altyd om die kunswerk in die vlamme te gooi; die kunstenaar wil telkens van sy kunstenaarskap afskeid neem.'
As Opperman skryf oor die boustof wat kunstenaars gebruik dan tref hy die onderskeid tussen engelagtige en duiwelagtige wesens. Die engelagtige wesens is passief met 'engelagtige eienskappe van berusting, beskeidenheid, en teruggetrokkenheid', maar vir die kunstenaar eintlik nutteloos ... 'hoogstens toneelpilare waarop niks rus nie'. Daarenteen sit die duiwels altyd vir die kunstenaar tot model wanneer hy 'vir ons die diepste werk bring, hom dikwels met die uitbeelding van lae, bose gedagtes, hartstogte en karakters bemoei ... die slegste produkte van menswees na die sondeval. Vir die kuns was die sondeval noodsaaklik. Die kunstenaar se drinkeboer is die duiwel.'
Dan vervolg Opperman dat selfs in die vormgewing van 'n kunswerk is daar iets boos in die sin dat die kunstenaar nooit kant kies nie: 'In sy wese is hy eintlik wesenloos, soos mis of water vloei hy van holte tot holte.' Dus in die politiek, kerk, gemeenskap en volk kies hy nie kant nie en word hy daarom dikwels as verraaier uitgekryt - 'hy is sowel protagonis as antagonis, hy is ewe partydig vir almal ... aan die een kant is hy die kuise Josef, aan die nader kant met 'n ewe groot noodsaak die wellustige vrou van Potifar.'
Opperman se gevolgtrekking: 'Die bose is so inherent aan die hele aard van die kunswerk en kunstenaarskap dat dit die kunstenaar sy volste vryheid en ruimste moontlikhede bied om 'n groot kunswerk te skep.' En daarby is die kunstenaar 'n 'joiner' wie se simpatieë altyd by die vyand lê, al is hy in sy menswees getrou aan sy bepaalde herkoms.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
2 comments:
Waar't jy die mooi prentjie gekry van die monikke op die vis?
Die vis-prentjie is van Wikipedia gesteel . . .
Post a Comment