Tuesday, April 25, 2006

Vir oulaas

Hier's nog so 'n laaste paar foto's van Tibet. My volgende Tibettaanse foto's sal binne so twee weke of wat volg, wanneer ek in Dharamsalla in Indie is. A luta continua! Ek het 'n paar besonderse besige reisdae agter die rug, ek is poegaai! Die 20ste het ek die oggend van Lhasa gevlieg na Chengdu, daar 'n aansluitingsvlug gekry na Shenzhen naby Hongkong, maar die vlug was ure lank vertraag, toe amper eers middernag in HK aangekom, een dag daar gebly, toe per boot na Macau, gevlieg na Kuala Lumpur (vlug was ook ure vertraag, omtrent twee-uur die oggend eers in KL aangekom), een dag daar, toe per trein na Singapoer, waar ek nou is en waarskynlik vir meer as 'n week gaan wees. Ek vertrek hiervandaan na Willem in Indie, sodra ek my Indiese visum gekry het. Singapoer is altyd lekker om bietjie asem te skep, dis so civilized en rustig hier (soms grens dit aan saai, maar darem nie). Maar Kuala Lumpur, waarvandaan ek nou kom, is wraggies elke keer wat ek daar kom vir my lekkerder. Dis net sulke nice mense daar. Mense maak grappies as jy in hulle taxi klim, of iets by die 7/11 koop - dit voel net so anders as byvoorbeeld China, of selfs Hongkong. En ek het Saterdagaand met my aankoms daar baie goeie geselskap gehad, sommer so by 'n straatkafee . . .


Groenteverkopers naby die Jokhang-tempel in Lhasa. Die laaste dag in Lhasa was regtig yskoud, daar het vars sneeu op al die berge om die stad gele^.


Al die monnikke met hul rooi jassies is vir my tog te oulik. Die twee staar na 'n kreupel man wat verby gekruip het (nie op die foto nie).


En as jy mooi kyk, heel onder op die prentjie staan 'n man en urineer teen die Potala-paleis, die Dalai Lama se heilige woning!

No comments: