Monday, April 17, 2006

Saam met die pelgrims

Die Jokhang-tempel in Lhasa is die kern van die Tibettaanse Boeddhisme. Dit is Tibet se heiligste plek van aanbidding. Die pelgrims, van oral oor Tibet, met allerhande verskillende soorte klere, loop kloksgewys in die straatjies om die tempel, en dan gaan hulle in waar hulle Jak-botter offer. Dis ongelooflik om net so saam met die mensemassa saamgesleur te word, my kop is maar steeds duiselig van die hoogte, maar dit maak nie saak nie. Ek het net saamgeloop. Die tempel is 1300 jaar oud. Dit is langs die Barkhor-plein, waar die pelgrims saamdrom en daar is honderde stalletjies met allerhande goeters te koop. Die kommuniste het baie van die godsdienstige artefakte in die tempel tydens die kulturele revolusie verwoes, maar so 70% het wel oorgebly.


'n Mens mag nie foto's binne-in die tempel neem nie, maar hierdie is die ingang na die binnekant. Binne sit monnikke op rooi kussings en mediteer of chant, daar is oral kerse wat brand, en daar hang 'n reuk van botter in die lug van al die Jak-botter wat ge-offer word.


Kerse brand in een van die buitenste gange van die tempel met Boeddha-prente agter teen die muur geverf.


Die laatmiddagson val op die gebdedsklokke wat al om die buitenste gang van die tempel loop.


'n Paar monnikke ontspan op die dak met die Himalajas in die agtergrond en die dakke van Lhasa voor.


'n Tipiese nou straatjie in Lhasa, langs die pelgrimsroete.


Pelgrims loop verby 'n brandende pot in die agtergrond. Weet iemand wat daai brandende ding is? Miskien vir wierook, maar ek het nie wierook geruik nie.


Kleurvolle toneel langs die Barkhor-pelgrimsroete.

No comments: