Monday, April 10, 2006

Die hemel is in Beijing


Een van vele paaie na die hemel. Die Tempel van die Hemel-kompleks is in die 1400's gebou, dis waar die keiser gaan bid het vir die volk en homself afgesonder het. Dis ongelooflik sereen, al wemel dit op plekke van miljoene (wel, duisende) mense. Die hele plek is nou 'n reusagtige park (ek was die hele dag daar, dis groot!), en al lyk die foto's maar vaal, dis werklik pragtig. Beijing is nou maar vaal in die lente (en herfs, en winter?)


Die muur van eggo's by een van die tempelkomplekse. Daar is allerhande verskillende tempels en geboue op die terrein, ek gaan nie eens probeer maak of ek weet waaroor alles gaan nie. Jy kan aan die een kant van hierdie muur staan en fluister en dan hoor mense jou baie ver daarvandaan aan die ander kant.


Hierdie is die pad na die sentrale tempelgebou (in die verte) waar die keiser gaan bid het. Die marmerpaadjie in die middel was net vir sy voete bedoel, nou loop al wat 'n gepeupel is daarop.


En so hier en daar in die grysheid vang n spatseltjie kleur jou oog. Die kind het eenkant gestaan en speel met balonne. Ek kla nie oor die grysheid nie, ek verduidelik maar net waarom dit so lyk!


En nog kleur. Lentebloeisels en 'n kunstenaar wat dit vasvang. Dis alles nog in die hemelse park.


Die middelpunt van die heelal is in die middel van die foto waar die vrou staan, volgens Chinese tradisie.


Ek het nou vergeet wat noem hulle hierdie kompleks, maar dis waar die middelpunt van die heelal is. Dit lyk vir my nogal vreeslik paganisties.


Hierdie een is waar die keiser homself voor groot gebedsgeleenthede afgesonder het vir 'n paar dae - hy het in hierdie paleis gevas en homself weerhou van seks sodat hy rein was as hy vir die volk se sondes gebid en aan die rituele deelgeneem het.

No comments: