Thursday, April 13, 2006

Spoeg en snuif

Aha, ek is in Chengdu, suidweste van China, Sichuan-provinsie. Hier werk Blogger se template vir die opskrifte! Nie een van die verskeie internetkafees wat ek in Beijing gebruik het, het my die opsie gegee om opskrifte te skryf nie. En as oudsub is dit iets wat my vreeslik irriteer. Nou kan ek almal regmaak. Maar, helaas, kan steeds niemand anders se blog, of my eie, oopmaak nie.
Sit vandag hier langs die rivier in Chengdu en ontbyt eet, mooi omgewing, (ysig koud), kleinerige stad in Chinese terme, net 8 miljoen mense in vergelyking met byvoorbeeld Beijing se 20 miljoen. Moet 'n paar dae hier spandeer om te wag vir my Tibet-permit, steeds 'n ope vraag of ek dit gaan kry, want skielik neem dit 5 dae. Maar na 'n bietjie 'onderhandeling' is die belofte nou dat ek dit gouer sal kry, want ek kan nie 5 dae wag nie, my visum gaan uithardloop. Chengdu is 'n heel aangename plek om te wag vir die permit, hier is Pandas in die omgewing (more gaan ek soontoe), en allerhande vreeslike ou geskiedenis.
Maar, soos oral in China: Die toneel, langs die rivier, straatkafees, sambrele, kabbelende water van die rivier, mooi lentebloeisels in die bome, heel deftige ou tannie loop verby. 'Gggwaaaaggh' (roep sy die slym uit die dieptes van haar sufgerookte keel op) en dan 'Pwgaaagh', spoeg die hele straat vol. Oomblikke later, aantreklik jong man loop verby. 'Gggwaaagggh' en 'Pwgaaagh'. Oorkant die pad staan iemand en urineer teen 'n boom. Die straatsmous wat staan en brode verkoop, draai net so EFFENS weg van sy brode en 'Gggwaaaggh', 'Pwgaaagh'. Ietwat onhigienies, die mense hier. Ek wonder of verliefdes mekaar 'n lekker Franse soen gee, met al die spoeg wat die strate vol le^, klink dit vir my nie meer na enigsins 'n baie aangename ondervinding nie. Ek gaan nie foto's van die spoeg plaas nie.


Dis nogal die prentjie wat ek van China gehad het. Pagoda en refleksies in die water. Hierdie is aan die onderkant van Qintai-straat, waar ek bly.


Dis in die Nanjaio-park, waar daar ook allerlei Confucianistiese tempels en grafkelders is.


In dieselfde park - daar is vreeslik baie bonsai-bome, hierdie een het my aandag getrek omdat hy so groot is, ek weet nie watse soort boom dit is nie, maar ek sou raai in werklike lewe word hy reusagtig groot. Steeds baie indrukwekkend, meer indrukwekkend as die gehalte van die foto, maar dis die beste wat ek kon uitkry uit 'n vreemdeling.


Dis ook die straat waar ek bly, aan die bokant daarvan. Let op die fietse en motorfietse wat sommer in alle rigtings ry. Saans verlig hulle natuurlik die hele straat met neon. Dis die 'ou' deel van die dorp, sowat 400 jaar oud.

1 comment:

lolla said...

Ja, jy moet maar net koes vir daai spoegspatsels! Ek lees in vandag se China Post dat Beijing die afgelope week deurgeloop het onder die ergste stofstorms in 6 jaar! G'n wonder dit was so grys toe jy daar was nie.