Tuesday, February 28, 2006

Paradise Found


Hier sit ons op die dek by Virgin Cove en wag vir aandete. Hierdie groepie verteenwoordig van links Kalifornie, Engeland, SA, en Duitsland. Hulle het my Mr Jeopardy genoem toe ons Trivial Pursuit gespeel het.


Dit is die 'string band' wat ons saans 'geserenade' het. Dit was heerlik, hulle het goeters soos Elvis Presley se Always on my Mind in Samoaans gesing.


Hierdie was vir 'n week lank my woning. Dis heeltemal oop, daar is nie mure nie, net bamboesskerms as jy privaatheid soek. En jy slaap op die vloer. En die see is net oorkant.


Net oorkant my strandhut het ek hierdie uitsig gehad.


Dit is die voetpad deur die reenwoud na die 'badkamergeriewe'


'n Lekker Afrika-styl longdrop met 'n uitsig.


Die kleinste spinnekop in die hele wereld woon in Samoa. Hier is hy. Kyk regs onder op my hand, net onder die are, is 'n swart spikkel. Dis hy.

Ek is terug! Jammer vir die langerige stilte hier, ek was die grootste deel van laasweek by 'n plek genaamd Virgin Cove aan die suidkus van Samoa, sowat 'n uur van Apia, sonder internet of enige moderne geriewe. Dit was die paradys! Jy ry eers oor 'n berg, verby reusagtige banyan-bome (hulle lyk soos kremetartbome, net groen), deur reusagtige kokosneutplantasies, verby tradisionele Samoaanse huise en dan oor 'n baie slegte grondpad tot by die plek. Daar het ek vir vyf dae in 'n houthut reg op die strand gebly, in die Samoaanse styl. Daar is geen mure nie, net skerms van bamboes wat jy kan aftrek as jy wil - saans. Maar dis ook nie regtig nodig nie, want dis soos natuurlike lugreeling, as jy die skerms ooplos, dan is die hut lekker koel. Daar was net 'n paar mense, maar dit was heerlik, dis die soort plek waar jy net kan verdwyn as jy wil. Hulle het elke aand 'n groot bankettafel gedek, en dan het almal saam geeet en gekuier. Ek het wonderlike mense daar ontmoet en die dae het net so stadig verbygedraal. Ons het op 'n kano rondgevaar, elke dag 'n paar keer in die soel water gaan swem, gesit en boeklees en gekoes vir die kokosneute. Dis nou die tyd van die jaar wanneer die kokosneute vanself uit die bome val as hulle nie gepluk word nie, en so 'n kokosneut kan jou doodval. Daar was ook elke aand 'n Samoaanse 'band' wat kitaarmusiek gespeel het terwyl ons geeet het.
Ek het drie dinge daar geleer:
1. Die Swede dink hulle land is kommunisties.
2. Ek kan nou die verskil tussen die Amerikaanse en Kanadese aksent herken.
3. Die paradys is in Samoa en die lewe is wonderlik.

No comments: