Tuesday, February 28, 2006
Capote en die maan
Ek wou al lankal iets hieroor skryf: Ek het die laaste dag in Auckland die fliek Capote gaan kyk. Dit het my vreeslik ontstel. En toe hier in Samoa het ek The Moon and Sixpence van W. Somerset Maugham gelees - hy het baie van sy werke hier op Polinesiese eilande laat afspeel en ek het gedink dit sal interessant wees. Albei die werke gaan oor kunstenaars en wat hulle doen om iets te skep, wat hulle doen in hul soeke na die beste/mooiste werk. Capote het my ontstel, want volgens die fliek (en ek het ook 'n koerantartikel daaroor gelees en blykbaar is dit grotendeels op die waarheid gebaseer) was hy 'n koue manipuleerder wat letterlik op die laaste sy hulp aan die moordenaar, wat hy so bevriend het, teruggehou het sodat die ou gehang word dat hy sy boek kan klaar skryf en vreeslik beroemd raak. Is dit nodig om so harteloos te wees om kuns te skep? In Maugham se boek (wat wonderlik was, ek is bly ek het hom ontdek) is dit soortgelyk - die hoofkarakter (gebaseer op Gauguin) maar genaamd Strickland, los sy vrou en kinders ewe skielik sonder geld of enigiets, om te gaan skilder. Hy is koud en harteloos en sonder gevoel, maar tog het hy gevoel. Dis 'n baie dieper weergawe van die mens se stryd om te skep en bloot te leef waar jy gelukkig is as Capote en was iets wat my meer laat dink het as Capote wat my bloot ontstel het.
Ek het ook met die baie tyd tot my beskikking gelees: Treasure Island van Robert Louis Stephenson, bloot omdat sy huis hier op Samoa is en ek darem iets van hom wou lees voordat ek na die huis gaan kyk. Dit was sommer net 'n lekker avontuurverhaal, niks spesiaal nie. En dan het ek Midnight Cowboy gelees, dit was nogal goed, gaan oor die mens se alewige soeke na, noem dit nou maar 'liefde', maar eintlik net aanvaarding.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment