Thursday, February 02, 2006

Ice, ice baby!


Dit was ongelooflik, wonderlik, skouspelagtig, elke woord wat jy aan kan dink. Vandag soos 'n wafferse avonturier saam met 'n groepie ander avonturiers (wat almal baie geld betaal het vir die avontuur . . . ) op 'n gletser rondgekerjakker. Dis soos om op 'n ysblok te loop, 'n groot ysblok met los stukkies ys wat daarop ronddryf. Aanvanklik is jy maar bietjie senuweeagtig, want dis erg steil en dit lyk asof jy enige oomblik gaan gly - ver, ver, ver by die yswande af in 'n diep, blou gat waar jy waarskynlik sal sterf. Maar die, ons noem dit maar spykerskoene, wat die avontuurlustige gidse verskaf, kleef behoorlik. Ek was deel van groep 1 - die sterk, fikse, meer avontuurlustige groep - ons het bietjie vinniger en bietjie meer geklim as die twee ander groepe, wat maar 'n klomp sissies was. Vir my as Suid-Afrikaner was dit werklik iets nuuts om 'n hele dag lank op ys rond te loop, nie sneeu nie, ys! Daar is net twee 'subtropiese' (dis wraggies wat hulle hierdie omgewing noem - Franz Josef, Suideiland, Nieu-Seeland, roaring forties!) plekke in die wereld met gletsers, die een is hier en die ander is Argentinie.
Die gletser ontstaan omdat dit so ongelooflike baie reen hier, en sneeu, en die sneeu smelt nie, pak saam en toe word dit 'n gletser van ys - blou op plekke omdat die ys so dig is. Die gletser is ook besig om te groei, en te smelt (so onlogies soos dit klink, maar hy smelt net nou in die somer, 'n bietjie - die groei vind van bo-af plaas). Terwyl ons geloop het, was daar 'n verskriklike donderslag, dit was 'n (baie groot) stuk ys wat afgebreek het. Maar die gids het nie eens geskrik nie. (O, ja, die baie reen hier veroorsaak natuurlik ook dat hier reenwoude is, ja, in Nieu-Seeland, vir die ongelowige Tomas onder julle . . . )


Die groep (Groep Een, beslis nie Groep Twee nie) op die ys. Hierdie is met die terugtog. Daar was 'n Israeliese tweeling in die groep wat baie gekla het.


En hierdie sexy dude was die leier van die trop, hy het die hele tyd reg voor geloop en baie lekker met die Sweedse gids gesels oor bergklim en sulke dinge.


En dit is die sexy kerel se middagete ('n tunabroodjie), en sy (gespierde) kaal bene en spykerskoene op die ys.


Die Sweedse Gids, Petter, kap vir ons groepie 'n paar trappies in die ys skoon sodat ons die ysberg kan klim, en op die onderste foto knoop hy 'n geselsie aan met twee van die Australiese avonturiers op die ekskursie.

3 comments:

rondloper said...

Dis snaaks genoeg nie koud op die ys nie. As jy daaraan vat of op dit sit, ja, dan vries jy, maar andersins is dit heel matig. Seker omdat dit somer is en die son skyn.

Do Kwang said...

Dit laat regtig my kapitalistiese hartjie warm klop om te sien hoe jy daar in Nieu-Seeland rondkerjakker en genoeg geld uitgee om die helfte van Guguletu se armes meer as 'n jaar lank te voed.

rondloper said...

Hierdie debat is nou vir ewig en altyd afgesluit! Of totdat ons mekaar eendag in 'n ander dimensie of op 'n ander planeet raakloop.