Monday, June 26, 2006

Terug in Afrika


'n Dhow by Zanzbar. Ek was te hoog om dit te sien, maar die blou, blou see en die koraal was pragtig uit die lug uit.


Die Malawimeer het ek omtrent so uit die lug gesien.


En toe ook die Karibameer. Hierdie drie foto's is nie myne nie.

Ek is terug in Afrika - hierdie is sommer ook 'n aankondiging vir my vriende wat ek nog nie gebel het om te vertel nie. Ek is nou in die koue Johannesburg, gisteraand was dit 0 grade en vandag is dit so 14, ek vrek van die koue! Na maande en maande in temperature van ver oor die dertig kry my tengerige lyfie maklik koud. Ek het 'n wonderlike vlug terug gehad, was met Emirates wat ek reken die naasbeste lugdiens is wat ek ken. (Die beste is Singapore Airways.) Maar ek vlieg graag met Emirates, want ek verdien ook Voyager-myle by hulle, altyd 'n groot bonus. Dit was wel lank, eers van Bangkok na Dubai, amper sewe uur, toe ses uur wag vir die aansluiting en nog so net oor die nege uur na Johannesburg. Emirates is nou wel wonderlik, maar Dubai se lughawe is vir my erg onaangenaam. Die lugdiens is so groot met so baie aansluitings dat die lughawe te klein geraak het, ek het gesien hulle bou nou aan. Daar is net eenvoudig te veel mense, daar was nie eens plek om te sit nie. Baie het sommer op die vloer gesit of gele^. Ek ken gelukkig die koffiekroeg by die lughawehotel, waar daar heerlike, sagte sofas is en niemand kla as jy daar sit en slaap nie. En daar is dit stil, die ander passasiers kom nooit daar uit nie! Met die vlug terug, wat in die dag was, was die lug helderblou en ons het eers oor die Arabiese Skiereiland gevlieg, toe seelangs tot so net by Zanzibar, waar ons toe oorland verder is. Wat beteken ek het pragtige beelde gesien van Zanzibare, die Malawimeer en die Karibameer uit die lug. Wat 'n wonderlike terugverwelkoming in Afrika!

5 comments:

Anonymous said...

Dankie tog jy's terug.
Saterdae was baie vervelig.

renklem said...

Welkom terug na al jou travels. Hoop jy gaan ons steeds entertain met interessante sprokies en mooi fotos.

rondloper said...

Dankie vir die terugverwelkomings! Moenie vrees nie, die blog gaan voort, met stories en foto's! En een van die dae is ek weer in Kambodja.

maeree said...

Welkom terug. Mag die reise in jou hart voortgaan. Was jou terugkoms ook bisar, gevul met kontradiksies, soos wat myne vir my gevoel het?

rondloper said...

Maeree, dis vir my eintlik heel anders. Ek het mos besluit ek gaan beslis terug na Kambodja, waar ek graag 'n klein astehuis wil oopmaak, dus is my terugkeer nie heeltemal 'n terugkeer nie - eintlik voel dit of ek nou in my eie land reis.