Ek is jammer om sommige van my lesers teleur te stel, maar ek moes my afspraak met mnr. Arthur C. Clarke uitstel tot my volgende besoek. Ek het eenvoudig nie tyd gehad nie. Ek het, om eerlik te wees, nie eens gebel vir die afspraak nie, maar ek weet mos nou dis moontlik. Ek het gisteraand laat eers teruggekom in Colombo (eintlik Negombo, net noord van Colombo en langs die lughawe) en moes vandag kies tussen 'n uitnodiging om die gewone lewe te sien of die wereldbekende man se lewe. Want vanaand vlieg ek weer. En, verrassing, ek het die gewone lewe gekies. Ek is genooi om per fiets na 'n nuwe vriend se huis te ry, baie ver weggesteek in 'n stil, armoedige straatjie, waar ek toe behoorlik onthaal is deur sy ma, videospeletjies gespeel het saam met sy jong broertjie, tradisionele kos geeet het en soos 'n koning behandel is. Hulle is baie, baie arm, maar dit was vir my nogal 'n ondervinding. Ek het mos maar 'n swak plekkie vir die armes. Dit was ook aan die einde van die dag 'n keuse tussen geloof in iets moois of ateisme (Arthur is die wereld se grootste ateis). Die familie is diep-katoliek, en deel van my toer was 'n besoek aan hul plaaslike gemeente. 'n Rooms-Katolieke kerk tussen die palmbome wat net-net regkom met geld vermoed ek, waar ek die mooiste stasies van die kruis (jammer ek vertaal liederlik letterlik, ek kan nie die behoorlike Afrikaanse term onthou nie), uitgekap in hout, gesien het. En mense wat soveel hoop plaas op hulle Liewe Here Jesus Christus en die Heilige Moeder Maria. Dit was 'n baie, baie mooi dag. Daar was een eienaardigheid, die familie het vir my middagete aangebied, nou ek weet in Sri Lanka eet die mense met hul hande, maar toe ek weer sien, voer my nuwe vriend my letterlik met sy hand. Ek het net een hap gevat en toe verder met my eie hand geeet (nie maklik nie, my ryskorrels het die hele vloer vol geval), ek hoop nie dit het aanstoot gegee nie.
Chamara bid in 'n Katolieke kerk buite Negombo. Negombo se bynaam in Sri Lanka is Klein Rome.
En al dink julle nie so nie, eintlik is ek baie spiritueel en baie lief vir die Christelike/Joodse tradisie. Want glo moet ons. Dis ingeprent deur duisende jare se tradisies. En die Boeddhisme is vir my net te volksvreemd. Die Dalai Lama is immers op rekord dat hy gese^ het mense moet maar bly by die geloof waarmee hulle grootgeword het. Soms besoek ek wel die kerk. Hier saam met Chamara.
Thursday, June 01, 2006
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment