Thursday, June 22, 2006

Sirkels

Die sirkel is voltooi. Ek het die Asiatiese komponent van my reis in Bangkok begin, ek is weer terug hier vir twee dae voor my vlug huis toe. Dis gepas om die reis hier te begin en eindig, dit was verlede jaar een van die eerste plekke wat ek in Asie gesien het, en het, saam met Malesie en Singapoer, waarskynlik 'n rol gespeel in my besluit om vanjaar hierdie lang reis aan te pak. Ek het intussen my mening oor Bangkok heelwat verander.
Ek het nooit baie hiervan gehou nie, dit was vir my 'n nes van besoedeling en onderduimsheid. Maar ek het agtergekom dit is nie eintlik waaroor Bangkok gaan nie. Ek was so tien dae gelede hier onderweg na Phnom Penh, dit was toe pragtig. Die lug was helderblou en skoon. En die stad het toe sommer mooi gelyk. Vandag is die besoedeling terug, nie so erg soos laasjaar nie (daar hang letterlik so 'n bruin waas in die strate), maar dis hanteerbaar.
Ek sit met 'n kop vol soveel ondervindings, ek dink ek het so baie geleer hierdie laaste ses maande. Ek het op hierdie reis vertrek juis omdat ek iets gesoek het (mens soek tog seker altyd iets as jy gaan reis, indien nie dieper insigte nie minstens net nuwe dinge). Ek was in 'n situasie waar ek SA kon agterlaat en kon gaan verken op soek na iets wat ek graag wil doen. En miskien het ek dit gekry.
Ek het Asie regtig geniet. Miskien het dit na my kop toe gegaan dat mense my aanhoudend vra of ek Chinese bloed het! As ek R1 het vir elke keer wat daardie vraag gevra is, kon ek teen die tyd vir my 'n nuwe kar gekoop het! Maar daar's natuurlik werklike redes. Ek geniet die opwinding, die andersheid, die mense. Dalk waai dit oor.
Ek kom Sondag terug in Johannesburg. Aan die een kant is ek nogal opgewonde om terug te gaan, aan die ander kant weet ek voor my siel ek sal weer terugkom hierheen. Ek het al die inligting wat nodig is, en ek weet ek kan 'n gastehuis kom oopmaak in Kambodja. Ek droom behoorlik daarvan.
Die interessante ding sal wees wanneer ek terug is by die huis, of die planne gaan bly of gaan verdwyn. Gaan ek dalk so bekoor wees deur my eie land dat ek nie weer wil reis nie? Of gaan ek deursettingsvermoe he^ om hierdie nuwe uitdaging te kom aanpak? Nie dadelik nie, maar mettertyd.

5 comments:

lolla said...

Jinne, jy't omtrent Asiƫ platgereis, maar ongelukkig die Regegade Province misgetrap. Ek kan verstaan dat jy seker nie lus was vir visa nonsens nie. Kan ek 'n kelnerin wees by jou gastehuis in Kambodje? Ek sal my Frans mooi oefen.

rondloper said...

Enige tyd! Moenie eens worrie oor die Frans nie, ek dink hulle het dit heeltemal opsygeskuif ten gunste van Engels - meer mense praat deesdae Engels in Kambodja as in Thailand. Ongelooflik eintlik.

rondloper said...

Ek was nog nie in Laos nie, sal daar 'n draai gaan maak wanneer ek terugkom. Ek oorweeg Kambodja veral omdat dit so maklik is daar. Weet nie wat die regulasies in Laos is nie. Ek het al baie gehoor van Luang Prabang, sal dit graag wil sien.

Anonymous said...

Welkom terug. Dit was lekker om so vicariously deur jou Asiƫ te ervaar, want ek dink nie ek het moed om self so 'n reis aan te pak nie. Sal beslis jou gastehuis in Kambodja kom besoek! Hopelik sien ek jou wanneer jy weer in die Kaap land.

rondloper said...

Thanks Abigail. Ons sal mekaar beslis sien, en ja, ek dink Kambodja gaan tog 'n werklikheid word, sal wonderlik wees as julle van my eerste gaste is! Angkor Wat is regtig 'n wonderwerk.