Thursday, June 15, 2006

Jou geldsake


Enigiemand wat belangstel om volgende jaar saam met my 'n besigheid in Kambodja te begin? Dit gaan die nuwe Thailand wees. Ek geniet hierdie plek nogal baie. Hier is dinge wat jou aan die hart ruk, soos die Killing Fields (meer daaroor later), maar hier is 'n optimisme wat skrik vir niks.
Dit vat net so 'n paar minute om gewoond te raak aan die geldeenheid. Hulle gebruik die dollar en die riel gesamentlik. Een dollar is gelyk aan vierduisend riel. Met die vreemde gevolg dat jy byvoorbeeld $2 vir 'n ete met 'n $10-noot betaal, en dan kleingeld van drie $1-dollar-note en 20000 riel ontvang, in allerhande klein kombinasies. Eerste keer het dit my kwaai verwar.
Ek sukkel om my foto's gelaai te kry, ek sal later vandag weer probeer. Het hartroerende foto's van een van die Killing Fields buite Phnom Penh.
'n Eienaardigheid in Kambodja is dat hier bykans nie iets soos 'n wettige mark bestaan nie, omtrent alles is fake en oop en bloot. Ek het nog geen DVD-winkel of CD-winkel gekry met originals nie, en hier is selfs 'n plek, die Boom Boom Room, waar jy vir $1 per album enige musiek op jou ipod opf mp3-speler kan laai.
En een aand het die moto-bestuurder nie geweet waar my gastehuis is nie, toe vra ek hy moet my na die Boom Boom Room neem (dis byna langs my gastehuis en redelik bekend.) Sy antwoord was, 'You want lady, you want man?' Dis ook Kambodja.

3 comments:

lolla said...

Is dit nie merkwaardig dat die mense so opreg vriendelik is na al daardie aaklige dinge wat hulle moes deurmaak met Pol Pot in beheer nie? Ek neem aan jy's nou in Siem Reap. Ek was 'n jaar gelede daar en ek kan nie dink dat die paaie so vinnig 'n makeover kon kry nie. Wanneer jy die tempels besoek, moet jy nie die Banteay Srey tempel misloop nie, dis een van die bestes. Dan kan jy ook verder gaan na Kbal Spean waar hulle figure uit die rivierklippe gebeitel het. Daar's ook nog landmyne so mens moet mooi loop. Net die stof/modderpad soontoe deur die platteland is al die moeite werd.

Do Kwang said...

Die Burger soek 'n redakteur vir Jou Geldsake. Dalk is dit eerder die loopbaangeleentheid wat jy soek.

rondloper said...

Lorette, miskien dink jy aan die pad tussen Thailand en Siem Reap, want die pad tussen Phnom Penh en hier is pragtig, goeie, gladde teerpad die hele ent. Maar baie kan in 'n paar jaar gebeur. Siem Reap is regtig 'n nice plek, dink jy nie? Hierdie wonderlike ou straatjies vol straatkafees, heerlik! Johannes, dankie vir die voorstel, maar, uhm, nee wat.