Thursday, June 22, 2006

Lyste en lyste!


Toneel in Beijing.

Die volgende paar weke kan my lesers hulle maar regmaak vir nostalgiese herinnerings en lyste. En allerhande foto's wat nog nie voorheen gepubliseer is nie (wanneer ek by die huis my eie rekenaar kan gebruik om al die duisende foto's wat ek geneem het rustig oop te maak en te bestudeer). Maar vandag begin ek met my eerste twee lyste, my gunsteling vyf groot stede in die wereld, en die vyf swakste lugdienste in die wereld waarmee ek al gevlieg het. Die volgende aflewerings sal lyste van die vyf beste klein dorpe ter wereld wees, en die vyf dinge wat ek reken mens moet sien of doen voordat jy doodgaan.
My vyf beste stede ter wereld (maar oor 'n maand verander ek dalk my mening). Ek het gewik en geweeg of ek Kaapstad moet insluit, dis die voor-die-handliggende eerste keuse, maar omdat ek daar woon, sluit ek dit nie in nie. Daar is net een plek soos die Kaap, al het hy, soos elke plek, sy foute.
Dus:
1. Kuala Lumpur.
Geen verrassing hier nie. Ek het voorheen al wyd geblog oor die rede hiervoor, maar in kort dink ek KL is een van die vriendelikste, lewendigste stede waar ek al was, en dit het al die opwinding van die sogenaamde 'Derde Wereld' maar met al die sofistikasie van die 'n moderne wereldstad. En dis boonop goedkoop ook.
2. Lhasa, Tibet.
Dis eenvoudig 'n magiese plek wat mens nie regtig in woorde kan beskryf nie. Die reuke in die lug, die baie, baie dun atmosfeer wat kleure vreeslik intens laat vertoon, die duisende pelgrims wat voortdurende deur die strate stroom, die dreunsang van die monnikke saans, die son wat oor die Himalajas sak, stadig, stadig sodat dit voel asof skemer baie lank duur. Wonderlik!
3. Jerusalem.
Baie dieselfde redes geld hier as vir Lhasa. Dis 'n wonderlike mistieke plek, seker logies, dis die middelpunt van soveel gelowe. Dis meer toeganklik vir my, omdat ek myself meer met die Westerse geloofstradisie kan vereenselwig. En Jerusalem is natuurlik ook doodeenvoudig pragtig. Die Ou Stad met al sy wonderlike inkopiestrate, en as jy iewers op 'n hoe" plek kan staan om te kyk hoe die son oor die Ou Stad se kleurryke dakke sak - nader aan die hemel kom mens nie.
4. Beijing.
'n Groot, groot stad met soveel mense en dinge, aanvanklik was dit vir my oorweldigend. Maar dis 'n ongelooflike statige plek, die vreeslike bree strate, deftige geboue, ouwereldse moltreine en moltreinstasies, en natuurlik die ongelooflike ou geskiedenis met antieke Chinese kultuur letterlik oral om jou, maak dit 'n besonderse plek. En dan so 'n sweempie sosialistiese vrees-inboesemings-argitektuur met Tiananmen wat so groot is jy kan jou dit nie indink voordat jy dit sien nie.
5. Buenos Aires.
Dis 'n stad wat dikwels die Parys van die suide genoem word, ek was nog nooit in Parys nie en kan dus nie vergelyk nie, maar dis ook een van daai plekke waar mense die lewe geniet. Hulle het hul stad doelbewus geskep om soos Parys te lyk, en dit toe vol Latynse energie geblaas. Baie warmbloedige plek.
En dan 'n stad wat net-net uitval: Macau.
Macau was 'n groot verrassing. Soos ek verwag het, was dit 'n heerlike mengsel van Portugese en Chinese invloede, maar ook met 'n lekker seedy Las Vegas-gevoel, allerhande blink, flitsende casino's. Die plek is vol heuwels, wat beteken saans as die liggies begin aankom, is dit 'n skouspel om te sien. En as jy in die strate ronddrentel, verby allerhande wonderlike winkels wat Portugese gebak, Chinese antieke ware, gedroogde vis, ontwerpersklere, alles, verkoop, en elke nou en dan doem nog 'n Portugese katedraal wat honderde jare oud is, voor jou op, dan is dit sommer 'n lekker plek. Of aandete op Coloane-eiland, by Fernando's, dis 'n instelling soos high tea in die Mount Nelson.

Nou, die vyf swakste lugdienste waarmee ek al gevlieg het:
1. Air New Zealand.
Daar is geen twyfel hieroor nie, hulle probeer so hard geld bespaar dat die vlug doodeenvoudig onaangenaam is. Op binnelandse vlugte, selfs al is dit byna twee uur lank, kry jy 'n koppie water (een van daai plastiekkoppies met 'n dekseltjie) en 'n pakkie met twee klein koekies. Op my vlug na Samoa (vier uur) het ek ook water gekry, darem die opsie van ander drankies, behalwe dat die vlugkelners almal iewers weggekruip het, en 'n 'soggy' toebroodjie.
2. LAB (Lineas Areas de Bolivia).
Weet nie of hulle meer bestaan nie, dit was baie jare gelede. Ek het gedog ek sterf. Die vlug van La Paz na Tarija in die suide van Bolivie, was op 'n stokou Boeing 707, doodverlep aan die binnekant. Met opstyg het al die passasiers om my die kruissimbool gemaak, toe begin die vliegtuig so wild skud en kraak dat al die suurstofmaksers uitval. Die lugwaardinne het heelwat later doelloos verby gedrentel en die maskers probeer terugdruk in die dak in. En toe het al die passasiers weer die kruissimbool gemaak.
3. Air Zimbabwe.
Al 'n paar keer met hulle gevlieg. Die vliegtuie is nie te sleg nie, maar wat my een keer onkant gevang het, was op 'n vlug van Harare na Masvingo, op 'n Cessna, toe die Air Zimbabwe-personeel op Harare-lughawe nie die vliegtuig kon kry nie. Ons het almal op die aanloopbaan gestaan (met ons bagasie, moes dit self na die vliegtuig dra), terwyl twee beamptes verward rondgehardloop het. Totdat hulle ontdek die klein Cessna staan weggesteek agter 'n groot Boeing. En almal weet deesdae het hulle nie geld om hul vliegtuie te versien nie.
4. Spicejet (Indiese laekoste-lugdiens).
Sardyntjie-blik. En dalk nie die lugdiens se skuld nie, maar die medepassasiers is onbeskof, probeer my sitplek steel (by die venster) met die lugwaardin wat anderkant toe kyk, en dis eenvoudig chaos om jou bagasie te laat inweeg.
5. Air China.
Dit was nou sardyntjie-blik uitgeknip. Dis al. Ek het nog nooit so styf ingeryg gesit nie. Met spoegende passasiers om my (gelukkig spoeg hulle darem in hul servette).

No comments: