Tuesday, June 06, 2006

Daar en hier


Daar is 'n interessante gesprek aan die gang op Maeree en Pienkzuit oor teruggaan na SA nadat jy lank in die buiteland was. Ek was nie eens so lank weg nie, wanneer ek einde vandeesmaand terugkeer sal dit maar ses maande wees. Ek gaan nie nou hier 'n lang relaas skryf nie, maar soos Maeree het ek die laaste paar dae baie gedink oor teruggaan. Ek het geen twyfel in my kop dat SA is waar ek tuishoort nie, maar my reis was op sommige vlakke so intens, dit was ses maande van regtig nie dink aan enigiets anders behalwe nuwe plekke, mense en dinge nie. Daar was plekke wat my besonder sterk geraak het (Tibet, Sri Lanka en Kuala Lumpur veral, elk om verskillende redes). Ek is nou vir oulaas in Kuala Lumpur, more-oggend baie vroeg vertrek ek na Thailand en dan Kambodja. Vandag was ek besonder melankolies oor KL. Ek het die afgelope maande 'n paar keer hier deurgereis, elke keer voel ek my meer en meer tuis, en vandag was een groot geskarrel om vir oulaas bietjie te shop en afskeid te neem. Dit voel soos 'n plek waar ek sou kon bly, met alles wat ek in SA het, en veel meer. Nou is dit ook verby, vir eers. Miskien, miskien volgende jaar Augustus kom ek hier swot. Sal kyk wat gebeur met my planne in SA, maar ek weet nou my hart is in twee gedeel - tussen hier en daar. Maeree en Pienkzuit vra nogal vrae oor wat jy gaan beteken vir SA wanneer jy terug is. Ek dink dis baie mooi om so te dink, maar ek weet nie of mens regtig so edel is dat jy teruggaan om iets vir die land te beteken nie. Jy doen wat vir jou werk, wat dit ookal mag wees. Ek voel op die oomblik dat dit nie saak maak waar ek is nie, jy beteken in elk geval iets vir mense, ons is mos sosiale diere en kom oral in aanraking met mense, daar is nie regtig 'n dwingende rede hoekom dit in SA moet wees nie. Maar tog gaan ek terug, dis waar ek hoort, vir nou.

5 comments:

Voetstoots van Tonder said...

ek stem saam met jou sentiment dat meeste mense nie so edel is om regtig 'n bydrae te wil gaan maak nie ens...vraag is egter: hoekom gaan jy dan enigsins terug? - jy klink nie rerig oortuig dat jy dit hoegenaamd behoort te doen nie?

rondloper said...

Goeie vraag. Eintlik gaan dit maar net oor geld, ek werk nie op die oomblik nie en moet soos enige verantwoordelike Suid-Afrikaner teruggaan en vir myself 'n besigheid aan die gang kry sodat ek daarna weer kan reis. Of minstens net die waarde van my eiendom bietjie gaan verhoog dat ek met 'n geruste hart elders kan gaan verder swot. Ek het nog tot die volgende akademiese jaar in Maleisie, dis nog 'n hele jaar om voor te berei (en dalk van plan te verander . . . )

Anonymous said...

En die Kaap is leeg sonder jou...

lolla said...

Sjoe, ja, jy moet die 12 ure busrit in 'n oorlaaide minibus op 'n pad vol dongas ervaar. Anders sien jy net Siem Reap soos wat die 5 ster hotelbewoners dit sien deur hulle groot sonbrille. Dis nogals snaaks dat die paaie mooi geteer is van Angkor en die stukkie tot voor die hotelle met die pretensieuse Franse name. Die res is maar aan hulle modderlot oorgelaat. Eet palmlekkers as jy kan en besoek die landmynmuseum.

Coffee Break said...

http://www.theexpatconfessions.com