Friday, June 09, 2006

Klarifikasie


Dis een van my argieffoto's van KL. Naby Bukit Bintang, die naglewestraat, met een van die Twee Torings agter en heerlik common neonbeligte bome.

Na aanleiding van 'n vraag deur maksideem oor die rede waarom ek so baie van Kuala Lumpur (KL) hou, plaas ek hier bietjie meer klarifikasie. Ook omdat die hele ganse internet-straat in Chiangmai, al vyf internetwinkels, my nie toelaat om vars foto's op te laai van Thailand nie en ek dus nie in hierdie stadium enigiets kan wys oor my wonderlike tyd hier nie. Dit kom nog die naweek. Vandag byvoorbeeld op bamboesvlotte in die rivier afgedryf en op olifante gery . . .
Maar kom ons skryf oor die verlede en oor KL: Dis geheel en al 'n persoonlike kwessie, en dis bloot hipoteties 'n stad waar ek baie lekker sou kon bly as ek die keuse kry. Ek dink party plekke in die wereld werk net vir party mense. Jy voel om een of ander rede baie gemaklik en baie tuis daar, al weet jy nie regtig wat die rede is nie. Vir my gaan dit oor 'n paar dinge in KL. Dis 'n heerlike mengsel van kulture, iets wat die stad 'n wonderlike atmosfeer gee. Dit is nie heeltemal so 'steriel' soos Singapoer of Switserland nie, maar ook nie heeltemal in die afgrond in soos party plekke in Indie of Midde-Afrika nie. Ek hou van 'n bietjie eksotika, dis hoekom Europa of Nieu-Seeland nie vir my werk nie, maar daar moet darem ook tekens van 'n werkende stad wees. KL bied my meer as SA in die opsig dat dit veel meer van 'n wereldstad is - die Borders-boekwinkel daar is die grootste ter wereld. En musiekwinkels, klerewinkels, elektronika, alles is beskikbaar en soveel goedkoper as tuis. Maar die stad is vir my mooi ook, die Twin Towers is na my mening die grootste argitektoniese meesterstuk ter wereld. En die stad is vriendelik. Selfs die smouse in Chinatown lag net as jy verbyloop en se^ jy stel nie belang nie. Anders as die kwalik bedekte aggressie wat ek in ander plekke beleef het. En dan, 'n hoogtepunt in KL, as jy saans wanneer die son sak saam met goeie vriende by een van die straatrestaurante gaan sit en eet, en borde en borde heerlike kos word aangedra terwyl die aandluggie ietwat koeler raak - dis vir my net onbeskryflik heerlik. Met die Twee Torings wat in die verte begin blink. Ja, daar is ander meer opwindende plekke, maar vir my persoonlik, alles in ag genome wat ek nodig het in 'n stad, werk KL baie goed.

No comments: