Friday, January 20, 2006

Terug in die grootstad

Ek het gister van Great Barrier-eiland teruggekom na Auckland. Dit was 'n stormagtige, grys dag en die bootrit van vier uur het vir talle passasiers in 'n nagmerrie ontaard. Mense het in sulke rye op die dek gestaan en oor die relings opgegooi soos die boot op en af en heen en weer oor die golwe geskud het. Ek het sommer heel aan die begin van die vaart my oggendete aan die visse geskenk, toe's ek fine vir die hele res van die reis. Maar glo my, dit was rof.
Die eiland was bloot 'n interessante ondervinding omdat dit so mooi was, maar ek het dit later te alleen gevind. Ek's skaars terug in Auckland of ek het al weer begin om so langs die pad geselskap op te tel. Ek vertrek more na Rotorua, wat NS se vulkaniese hoofstad is - daar is geysers met vuurwarm water wat glo die lug inspuit en ander lekker dinge.
So 'n paar interessante nuusberigte wat in die New Zealand Herald verskyn het terwyl ek op die eiland was (dus alles binne vier dae):
'n Vrou van een of ander klein kusdorpie is uit haar huis uit ontvoer, die bosse ingevat en wreed verkrag. Lees dit hier.
'n Man is helder oordag in Rotorua op straat doodgeskiet na 'n rusie.
'n Maori-kunstenaar is in die hof gevonnis tot gemeenskapsdiens nadat hy 'n Nederlandse toeris met sy kop gestamp het omdat hy gedink het die Nederlander lag vir hom. Die Nederlander se neus is gebreek. Lees alles hier.
Nou ja, daar is seker oral probleme.

No comments: