Friday, January 13, 2006

Deur die wolke

My vlug na Auckland was bitter lank, ek het Woensdagoggend agtuur op Dubai opgestyg, agt uur later eers in Singapoer geland (halfuur lank op die lughawe rondgeloop), toe terug op die vliegtuig, sewe uur later in Brisbane geland (uur lank op die lughawe rondgeloop, soontoe - Brisbane, nie die lughawe nie - sal ek graag wil teruggaan), toe amper vier uur na Auckland. Toe was ek poegaai, al waarvoor ek krag gehad het op my eerste aand hier was om TV te kyk en die minibar in die hotelkamer te benut. Ja, die eerste paar aande slaap ek soos 'n rykman in 'n hotel, ek het besluit ek gaan myself eers laat rus na die lang vlug, dan begin die backpackers-plekke. In elk geval, hier is 'n paar waarnemings oor NZTV, dis eintlik nog al wat ek van Nieu-Seeland ervaar het.
Op die nuus: Die vlieenier van 'n ligte vliegtuig van die private lugdiens Christian Airlines, besit deur die Brown-familie, is positief getoets vir dagga in sy bloed na 'n ongeluk waarin hy en twee passasiers gesterf het. Sy pa ontken (natuurlik) dat sy seun dagga gebruik het.
Advertensie: Moeder Kersfees, wat lyk soos Barbara Wodehouse en praat soos die Queen, nooi mense om NOU reeds te begin spaar vir 'n Christmas-hamper met kos en drank, sodat Kersfees nie weer onverwags op mense afkom nie.
Advertensie: 'n Man gooi 'n muntstuk in 'n poeletjie en wens hy is onweerstaanbaar vir vroue. Boem! Daar word hy 'n oulike klein brakkie. Beeldskone model tel hom op en begin hom kielie. Ja, jou vat ek saam huis toe, se^ sy, maar eers moet ons jou laat regmaak. Dan kom 'n stem wat se^ pasop wat jy met jou kleingeld doen, gee dit eerder vir die armes. (Dis nogal 'n cool ad, dink ek).
En dan, soos in goeie ou SA, laataand word allerhande Police File en realiteits-polisieprogramme gewys.

No comments: