Tuesday, January 31, 2006
Koebaai Wellington
Dis die uitsig oor die Marlborough Sounds vanuit die 33-sitplek vliegtuig waarmee ek vanoggend na Nelson gevlieg het. Langs my het Jenny van Brisbane gesit, sy het elke nou en dan na my gekyk en niks gese^ nie, tot die oomblik toe ons in die lug is, toe se^ sy skielik en baie adamant: I am Jenny. Ek, ietwat uit die veld geslaan, o, haai, ek is Andre. Sy vertel my toe sy werk baie met mense se energievelde in Brisbane, en sy kan myne baie sterk aanvoel. Dit voel vir haar asof my energie geen le^plek kan kry nie en redelik deurmekaar is, maar tog baie gefokus sal wees sodra dit le^plek kry. Wat dit ookal mag beteken.
Lekker lank in Wellington gebly en nou in Nelson, in die noorde van die Suideiland. Na my vorige ondervinding op die veerboot na Great Barrier-eiland, het ek gedink ek gaan hierdie slag liefs nie weer op 'n boot klim nie (en ook maar goed, want die wind het verwoed gewaai vanoggend). Die vlug was in elk geval skouspelagtig en niks duurder as die veerboot nie. Het gister die Te Papa-museum in Wellington besoek, en later die aand by my gereelde aandeteplek die soveelste Nederlander hier ontmoet, wat soos almal wou weet of die 'probleme' in SA darem nou al opgelos is.
Die museum was baie interessant. Interaktief, noem hulle dit. Dit raas daarbinne soos in Ratanga Junction. Daar is simulasies van aardbewings, jy kan bo-op 'n ding spring om te kyk hoe sterk jy is, daar is dieregeluide, voels wat sing en kinders wat op opnames praat oor allerhande dinge, daar is oral videos wat speel en musiek. Baie lewendig. Die uitstalling Made in New Zealand was nogal weird, daar was 'n paar landskap-skilderye, 'n kantoorstoel en 'n Holden (dis soos Ford of Chevrolet, gemaak in Australie), wat iemand heeltemal oorgetrek het in sinkplaat . . .
My goeie vriend Che Guevara in die ingangsportaal van 'n Wellingtonse winkel.
En dit is Nelson, daar is oral blombakke in die middedorp met sulke mooi blommetjies in.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment