Friday, January 13, 2006

The Terminal

Ek het agt uur lank op Dubai-lughawe gewag vir my aansluitingsvlug na Auckland (wat nog 'n storie is), en het aanvanklik doelloos op die lughawe rondgedwaal, want dit was nie asof ek iewers rustig kon gaan sit en rus nie. Mense wat al daar was, sal dalk verstaan, maar die lughawe lyk soos Canal Walk voor Kersfees, ek het nog nooit so 'n besige, deurmekaar plek gesien nie. Daar was regtig baie mense. Toe gaan soek ek die lughawe-hotel (alles nog steeds binne-in die lughawe, ek het nie uitgegaan nie), wat belaglik duur was. Maar! Wonder bo wonder, daar is 'n lekker kroegie, rusbanke en 'n stil, stemmige atmosfeer (want die plebs daaronder weet nie van hierdie versteekte juweel nie). Daar ontmoet ek toe vir Clyde Borj van Malta - hy lyk soos Tom Hanks van The Terminal (dit was sy eie vergelyking, nie myne nie), en hy IS soos Tom Hanks in The Terminal al dae lank in die lughawe vasgekeer. Dit gebeur werklik. Hy het werk gekry op 'n seiljag as kok, waar jy vir onder andere die prins van Katar sou kook, maar toe hy in Dubai aankom besef hy en sy agente hy het 'n visum nodig gehad vir die kort rit van die lughawe na die hawe. En die visum kan hy nie nou kry nie, want hy is reeds op die lughawe. Daar sit hy toe, maak nie saak wie bel hulle nie. Dubai wil hom nie laat inkom nie. En toe ek daar aankom, het hy al drie dae en drie nagte gesit, op bankies geslaap, gratis geeet (as jy langer as vier uur op Dubai se lughawe wag vir 'n vlug en met Emirates vlieg, gee hulle vir jou gratis kos), en gewag vir plek op 'n vliegtuig terug na Malta. Ek weet nie of hy nou al terug is nie. Interessant genoeg, terwyl ons toe so sit, kom nog iemand daar aan, Alexandre Omasse, 'n VN-amptenaar van Kameroen wat in Pretoria werk. Hy was op dieselfde vlug as ek en was oppad om eiendom te koop in Dubai. En toe het hy dieselfde probleem. Hy reis die hele wereld vol op sy VN-paspoort sonder visums, maar Dubai vereis toe 'n visum. Sy avontuur in die lughawe het maar begin, ek neem aan Clyde s'n is al verby. (Ek het foto's van hulle op my selfoon, maar soms laat tegnologie 'n mens in die steek). En ek is kort daarna weg na Auckland.

1 comment:

Anonymous said...

Hi Andre

Ek is mal oor jou stories en hoop jy gaan nog baie opsit! Ek skryf later meer.
Gerda