Sunday, January 22, 2006

Kiwiland se mense


Dit is Daphne Bush. Sy woon in Auckland en het my een aand geselskap gehou in 'n kuierplek met die naam Family, in Karangahapeweg, die 'naglewe-hoofstad' van Auckland. Dit is 'n straat waar jy letterlik iets van alles kry.


Donald (ek weet nie wat sy van is nie) en 'n onbekende aanstaande bruid in Rotorua. Donald is verloof aan 'n Suid-Afrikaner en hy trou in Maart op Hermanus met haar. Hy het Afrikaans met my geoefen. Hy is half-Maori en half-Pakeha (Europees), en is die afrigter van 'n Maori-rugbyspan wat gister hier op Rotorua aan 'n toernooi deelgeneem het. Ek en Donald het mekaar in die 'rookkamer' leer ken (buite op die stoep, jy mag glad nerens in NS rook nie, wat beteken dat ek sekerlik hier die gewoonte heeltemal sal kan afleer). Die hele rugbyspan het ons later gejoin en Donald het net bier gekoop, vir my en vir sy span. Was sekerlik 'n groot 'Nieu-Seelandse ondervinding' - ek het lekker saam met die tawwe Maori-rugbymanne gesit en kuier totdat die kroeg stiptelik om middernag sy deure gesluit het. Die aanstaande bruid het laataand verbygekom op soek na kondome. Sy moes haar sluier vol kondome hang.

Ek begin al meer gewoond raak aan die stil, rustige lewe hier. Ek kan dit nie help nie, maar Nieu-Seeland is eintlik ietwat saai. Dis omdat hier so min mense woon, dink ek. En die meeste jong mense gee so gou hulle kan pad na Engeland of ander plekke. Dis ongetwyfeld 'n PRAGTIGE land, die mense is regtig baie nice (op die oppervlak), maar dit voel net te veel soos 'n oudmodiese Suid-Afrika (van se^ maar die jare tagtig). Kyk nou maar vandag, en gister, hier op Rotorua is byna al die winkels toe, hulle maak so van tienuur tot eenuur oop, party van hulle, en dan TOE. Dan is die strate verlate, net hier en daar is tourist traps waar jy jou geld kan gaan blaas wat nog oop is. Ek geniet nou die plek bloot vir die rustigheid en die wonderskone natuur. Ek dink Nieu-Seeland is pragtig, maar ek sien uit na my meer avontuurlustige reisie in Asie. (Ja, hier is allerhande avontuur-sportsoorte wat 'n mens hier kan doen, wat baie van die reisigers doen, maar dis meestal dinge wat ek in elk geval veel goedkoper in SA kan doen. Die soort dinge is vreeslik duur hier. Ek gaan wel op die gletsers loop en uit 'n vliegtuig spring.)

No comments: