
Dit is van die kleure van die grond in Rotorua se 'Termiese Wonderwereld' - die toerismemense se benaming. Wai-O-Tapu is 'n park in die reusekrater van 'n vulkaan, net buite Rotorua. Daar is vuurwarm magma net so 'n entjie onder die grond na vele vulkaniese uitbarstings die laaste jare, met die gevolg dat daar oral vreemde minerale na die oppervlak styg en die water kook letterlik. Die minerale veroorsaak al die kleure.

Klippe langs die rivier, hier is die water sommer groen. Oral borrel modderpoele van die hitte, kyk na die twee klein poeletjies voor in die foto.

Net 'n bewys dat ek op 'n ander planeet was. Waar kry jy op die Aarde 'n reuse-poel met water wat hierdie kleur is?

'n Uitsig oor die park. Ongelukkig wys my foto nie die kragstasie ('n Nieu-Seelandse toeriste-attraksie) in die verte nie.

Oral waar jy loop lewe die Aarde om jou. Daar is baie plekke waar die stoom soos hier uit die water styg, of soms sommer net uit 'n gat in 'n rots. Die plek sal snags 'n wonderlike spookhuis wees.

Dan is daar plekke waar die modder aanhoudend borrel, omdat dit so warm is. Die temperature wissel tussen 80 grade en 200 grade (Celsius). Volgens die gids. Maar 200 klink vir my bietjie baie. Anyway, dit borrel en suis.

En dan 'n laaste blik oor die 'Sjampanjepoel' - die kern van die park. Ek dink dat Nasa ook van sy foto's om te bewys dat hy in die ruimte was, hier geneem het, afgesien nou van die foto's wat hy buite Sutherland geneem het om te bewys hy was op die maan.
No comments:
Post a Comment