Thursday, January 05, 2006

Op 'n vulkaan


Ek (bo) en Sybrandus (onder) op Salpeterkop. Dit is 'n uitgebrande vulkaan, die laaste een wat in SA aktief was (66 miljoen jaar gelede) en is net buite Sutherland. In al die tyd wat ek daar gewoon het, het ek nog nooit by die vulkaan uitgekom nie, maar dit is werklik ongelooflik. Daar is oral skeure en grotte in die berg van die uitbarsting, die boonste helfte is pikswart en bestaan meestal uit lawarotse, en op een plek is die hele berg met kristalle besaai. Van bo is die uitsig ook skouspelagtig. Daar was egter iets spokerig aan die berg, ek weet nie wat dit was nie, maar as jy stilgebly het, het jy gehoor hoe die wind deur die grotte suis en dit het amper soos stemme geklink wat fluister.



Sybrandus, Janine, Nathan en Sonette konsentreer hard op die boulles-spel.


Sonette-hulle se huis is 'n tipiese ou, Karoo-huis. Hulle werk bietjie aan die stukkende venster in die agtergrond.

Ek het gister en eergister vir oulaas na Sutherland gereis om afskeid te neem van my huis terwyl dit nog myne is, en my kinders. Francois wat die gastehuis oorneem, het baie vriendelik aangebied om na my kinders, Brando en Molly, te kyk terwyl ek gaan reis. Ek het by my vriende Sonette en Nathan op die dorp gaan kuier, waar ons die hele dag lank in baie warm son in die swembad gesit het op plastiekstoele en lekker bier gedrink het (en ook 'n bietjie wodka). Later het ons boulles (Franse rolbal) gespeel, Sonette-hulle is meesters. Ek het vir oulaas in my eie gastehuis geslaap. Dit help nie om hartseer te raak oor iets wat verby is nie, ek sien ook uit na my Teslaarsdal-projek, maar voor dit eers die wye wereld. Waarskuwing: Die volgende post bevat naaktheid en gaan ook oor die Sutherland-besoek!

No comments: