Friday, September 01, 2006

Dis my geheim

Ek wil drie geheimpies met my lesers deel oor Dubai-lughawe. Ek vlieg graag met Emirates omdat hulle baie billik is, en na my mening die naasbeste lugdiens van die (sowat) 29 lugdienste is waarmee ek al gevlieg het (ja, ek spog!) en natuurlik omdat ek Voyager-myle op hulle verdien. Dus aanvaar ek soms die effense ongerief om in Dubai oor te stap na 'n volgende vliegtuig en soms daar te wag vir 'n paar uur. Maar hier is die geheimpies, eksklusief hier op rondloper! Diegene wat al op Dubai se lughawe was, weet die plek het nou al te klein geword vir al die mense, want Emirates het so baie vlugte en hulle is amper altyd propvol, dus is daar letterlik duisende mense op een slag wat meeding om 'n plekkie in die son. Daar is glad nie meer genoeg toilette nie. Behalwe by die lughawehotel se koffiekroeg, en byna niemand weet blykbaar daarvan nie. Die pryse is dieselfde as by enige van die ander eetplekke op die lughawe, MAAR jy het plek vir jouself. Daar is byna nooit mense nie, en jy kan selfs heerlik op die rusbanke slaap totdat die son opkom, maar as die son opkom maak hulle jou wakker. En jy kry vyfsterdiens in teenstelling met die gewone restaurante onder waar die gepeupel uithang, waar jy net 'n nommer is. Jy hoef nie in die hotel te bly nie, maar jy kan die koffiekroeg/lounge gebruik. Dis binne in die lughawe, waar al die oorstap-passasiers so 'n entjie ondertoe vuisslaan om 'n sitplekkie. Alles nog in die 'transit'-gebied. Volg net die bordjies na die 'Transit Hotel'. Dis waar ek vanoggend gerus het na my vlug van Johannesburg. Dit was geheim nommer een. Geheim nommer twee hou daarmee verband. In dieselfde omgewing, daar by die hotel, is 'n sauna en storte, en 'n GROOT borrelbad, ook oop vir enigiemand. Jy betaal wel 'n paar dollar, maar dis baie min. My oorstaptyd was hierdie keer te kort om dit te gebruik, maar die terugtog kom nog. Net reg om jouself te lawe tussen vlugte. En geheim nommer drie, as jy langer as drie uur moet wag vir jou volgende vlug (op Emirates) kry jy 'n gratis ete (groot en lekker) in die Emirates Transit Lounge. Wys net jou boarding pass. Dankie, Andre, volgende keer gaan ons oorsese reise met Emirates soveel lekkerder wees! Wel, die van ons wat soos gewone aardlinge in ekonomiese klas vlieg en nie deur ons maatskappye geborg word nie. Maar selfs vir ons is daar vreugdes!

3 comments:

Natasja said...

Dankie vir die fantastiese tips! Ek sal dit beslis in gedagte hou wanneer ek weer S.A. toe vlieg. Ek hou ook van Emirates maar was bietjie afgesit deur die hope mense op Dubai lughawe - maar nou nie meer nie - danksy jou geheimpies.

Anonymous said...

Weet nie of dit nog so is nie, maar toe ek laas daar was, kon jy gratis henna-tattoos kry iewers op die onderste vlak.

Anonymous said...

Willem...nie almal is so gelukkig soos jy om die wereld vol te vlieg in besigheidsklas nie. Emirates boek jou net in 'n hotel as jy besigheids of eerste klas vlieg en jy is in transit. Wanneer jy ekonomies vlieg is dit maar survival of the fittest.