Friday, September 01, 2006

Dit raak net beter


Die uitsig van my hotelkamer oor die Chao Praya-rivier. Dis moesontyd en die donker wolke voorspel swaar reen.


En as jy reguit af kyk, kan jy na al die mense in die swembad kyk. Daai terrassie wat so oor die rivier hang, is 'n plekkie waar mens kan gaan eet. Bo links is die hotel se riviertaxi op pad om vas te meer.

Ek voel, aangesien ek nou al op vorige geleenthede so tekere gegaan het oor Bangkok, moet ek nou maar vir die tweede keer erken ek was dalk verkeerd. My eerste twee besoeke hier het die plek my glad nie aangestaan nie. Wat my mening meestal beinvloed het, was die aaklige, bruin besoedelingswolk wat soms oor die stad hang, op straat voel jy of jy nie kan asemhaal nie. Maar met al my besoeke daarna (vandag is die derde of vierde keer) was (is) die lug skoon, helderblou. En die stad voel net vir my al nicer. Ek is te moeg om vandag rond te loop en foto's te neem, maar hierbo is twee sommer so van my hotelkamer se venster. Ek het hierdie keer op 'n ander hotel besluit (ek bly deesdae altyd eerder in hotelle of gastehuise nadat ek uitgevind het as jy op die internet bespreek, kos dit dikwels regtig nie veel meer as 'n enkelkamer in die sogenaamde backpackers-plekke waar jy net die mees basiese geriewe kry nie.) Hierdie keer is my hotel langs die Chao Praya-rivier, wat deur Bangkok kronkel en wemel van lewe. Ek het 'n uitsig op die rivier. Wonderlik. En as ek iewers heen wil gaan, gebruik ek die hotel se gratis riviertaxi om na die Skytrain se stasie of ander plekke te vaar. Ja, Bangkok, is eintlik lekker. Nie mooi nie, maar baie interessant en vol lewe. Dit wys jou net, mens kan nie eintlik 'n mening oor 'n plek vorm as jy net een keer daar was en die eerste keer dalk nie so lekker was nie. Ek bly twee dae hier oor voordat ek Kambodja toe gaan.

No comments: