Sunday, September 03, 2006

Terug



Ek het vanoggend vroeg in Phnom Penh aangekom. Hoe anders as die vorige keer. Toe was dit uit die lug 'n klein stadjie in 'n groot, droe" vlakte, hierdie keer is dit 'n klein stadjie wat net so hier en daar uitsteek in 'n massiewe dam water. Dis nou moesontyd en uit die vliegtuig was daar net water so ver soos die oog kan sien, paaie toe onder die water en selfs hier en daar huise wat lyk asof hulle op hul eie klein eilandjie staan. Nogal baie indrukwekkend uit die lug uit. Dit lyk asof die stad skielik verswelg is deur al die water, maar natuurlik is dit nie so nie. Ek dink dit lyk elke jaar so. En die stad is vir my selfs meer eksoties as voorheen, ek staan weer verstom deur die vermenging van die Franse/Khmer- en selfs bietjie Indiese invloede. Daar is ook hierdie keer veel meer reuke van blomme, iets wat ruik soos frangipani's, in die lug. Die luggie is effe koeler as laas, daar is so 'n ligte briesie wat waai en dit is net te wonderlik, luilekker tropiese atmosfeer. En die derduisende motorfietsryers sonder helmets jaag steeds in elke denkbare rigting sonder om te stop vir enigiemand. Maar dit werk, lyk nie of enigiemand mekaar raakry nie. Ek het vanmiddag langs die Mekongrivier, in 'n Franse restaurantjie, iets gaan eet - cafe latte en 'n baguette. Vanaand sal ek weer Khmer kos probeer. O, ja, dis net so goedkoop soos ek onthou, 'n pakkie sigarette was 50c (Amerikaans), dus omtrent R3,50? Sekerlik vervals, soos baie dinge hier. Maar die ongekende optimisme en lewenslus hier is wat ek onthou, en is hoekom ek graag wou terugkom.

No comments: