Wednesday, September 06, 2006

Huissoek


Ek het vandag verskeie huise bekyk in Sihanoukville. Ek het besluit dis die regte plek vir my gastehuis, dis 'n heerlike strandoord en besig om vinnig naam te maak. (Laat my baie aan Goa dink.) Daar is sover twee goeie kandidaathuise, hierdie een, in 'n stil straat, met ses slaapkamers, vir 'n allemintige $600 per maand. (Ek gebruik in al my Kambodja-posts die VSA-dollar as geldeenheid, dis wat hulle hier gebruik vir byna alle transaksies). Maar hierdie huis is nie in die beste posisie nie. Uitstekende sekerheid en die huis is perfek, byna geen werk nie. Pragtige tuin ook, en wonderlike balkon reg rondom.


Dis die straat voor die huis. Lekker stil, maar net minute per motorfiets na die hoofstraat of die strand. Die motorfiets op die foto staan voor die huis se hek. Die tweede huis het ek nie afgeneem nie, sal more. Dis $100 meer, maar het elf kamers en 'n FANTASTIESE see-uitsig van die dak af, wat 'n heerlike restaurant/lounge bar sal wees. MAAR daar is vreeslik baie werk wat aan die huis gedoen moet word. En dus baie geld wat ingestoot moet word in 'n huureiendom wat ek nie weer sal terugkry nie. Ek het darem baie tyd om te dink.


En dit is hoe die strand in die paradys lyk. Sihanoukville het vyf strande, almal kyk uit op onbewoonde eilande in die baai, en die seewater is louwarm. Hier kom die somer, sing Kerkorrel.

2 comments:

Anonymous said...

Dis baie mooi
Die ander een sal moet uithaal om beter te wees

rondloper said...

Ja, hierdie huis is beslis my gunsteling. Dis vir my dalk net-net te ver van die hoofstraat af. Sihanoukville is klein, dis letterlik seker so 30 sekondes per scooter van die hoofstraat hiernatoe, en so twee/drie minute na die strand. Maar dis nie in die hoofstraat nie, wat tog voordele het, dis stiller as die hoofstraat. Die ander huis is in die backpackers-deel van die dorp, 'n heel ander scene. Ek wil graag net so 'n trappie of wat beter as die gewone backpackersplekke wees. Soos Sutherland.