Thursday, September 14, 2006

Parys van die Ooste

Ek het 'n nuwe gunstelingplek in die wereld: Saigon. Vandag hier aangekom op 'n baie gemaklike en vinnige bustrippie van Phnom Penh af, en wat 'n wonderlike, wonderlike stad! Verskoon asseblief die cliche, maar reisboeke praat van Saigon as die Parys van Asie". Nou ek was nog nooit in die Parys van Europa nie, wel in die Parys van Suid-Amerika - en ek dink al is dit so 'n groot cliche is die vergelyking wel waar. Die stad is pragtig, blombakke wat hang op gekartelde ysterbalkonne, bree" boulevards, chic staartkafee's en modewinkels, statige, ou geboue, en baie, baie bome. Ek het vandag 1 000 000 (een miljoen) dong (die plaaslike geld) by die bankmasjien getrek, ek moes kies tussen opsies tussen 100 000 en 2 miljoen. Toe kies ek maar 1 miljoen, wat ek later uitwerk so R500 is. Nog 'n plek waar mens gewoond moet raak aan baie nulle by die pryse. Wat, mag ek byvoeg, baie laag is. Dis 'n heerlike verligting om hier te wees, ek het begin mismoedig raak in Kambodja omdat my planne nie wil uitwerk nie. Maar dit maak nie meer saak nie. 'n Interessante waarneming, Vietnam is teoreties 'sosialisties', hoewel hy maar soos China die kapitalisme met ope arms aangegryp het en die Kommunistiese Party nou net die politiek beheer. (Vietnam was voorheen 'n vriend van Rusland, en die hamer en sekelvlag hang op baie plekke, hier is ook baie propagandaborde langs die paaie.) Maar die Vietnamese, lees ek, is 'n nasie wat al die beste van alles uit hulle geskiedenis vat en saamvoeg tot iets wat vir hulle werk. Die politieke beheer hou die land aan die werk en die infrastruktuur besonder goed - die regering bou en breek soos in China om te moderniseer, dus is die paaie goed, die strate skoon, die sypaadjies nie vol gate nie, 'n algehele kontras tot Kambodja se chaos en vuilheid. Jy raak later maar gewoond aan die vuilheid. Maar as jy in Saigon aankom is dit regtig verfrissend, skoon en netjies, met die gewone chaos van Asiatiese paaie (duisende motorfietse en fietse) wel daar. O, wat ek eintlik wil se^, die kommuniste hier het tog 'n goeie job daarvan gemaak om die plek te ontwikkel, as mens dit vergelyk met byvoorbeeld Kambodja (wat nou maar eers die laaste vyftien jaar 'vry' is, maar dit lyk nie of Kambodja, wat infrastruktuur betref, te veel vooruit gaan nie, terwyl Vietnam met 'n sterk, sentrale regering naas China een van die vinnigs groeiende lande ter we^reld is.)


Die Notre Dame-katedraal is in 1877 gebou. Vietnam se bevolking is sowat 10% Katoliek, oor die Franse invloed. Die katedraal is op 'n eiland tussen 'n klomp BAIE besige strate, jy kyk nogal op na die kruis voordat jy die verkeer aandurf.


Die museum van Ho Chi Minh-stad (Saigon se 'nuwe' naam, maar almal praat van Saigon.) Dit was die Franse goewerneur se paleis.


Binne is 'n wonderlike kontras. Anti-imperialistiese (lees: anti-Amerikaanse) propaganda en kommunistiese slagspreuke, uitgestal in die mooiste, mooiste koloniale paleis. Hierdie is Ho Chi Minh, die byskrif by die beeld lees: 'Ho Chi Minh verlaat Saigon om die ware beginsels van die revolusie in die platteland te gaan leer.'


Buitekant staan vliegtuie, karre, 'n tenk en 'n helikopter wat in die Vietnam-oorlog gebruik is. Maar Coke is ook hier.


Sulke lang gange met hortjies wat oopmaak op die tropiese tuine. Ek kan sien dat die Franse goewerneur heerlik hier gebly het.


Hierdie is die Hotel Metropole. Cafe, monsieur?


Om oor die straat te stap, is moeilikerig. Die Lonely Planet skryf jy moet net loop, moenie stop nie. Al is daar verkeer. Want hulle verwag jou en ontwyk jou, as jy stop, verwar jy hulle. Vandag, tot dusver, het Lonely Planet se raad (snaaks genoeg!) gewerk.

1 comment:

rondloper said...

Roelie, ek ken toevallig die Vaal-Parys baie goed, as kind het ons elke jaar drie of vier keer per jaar daardeur gery op pad na die familieplaas in die Vrystaat. En soms foto's geneem by die Eiffeltoring. Ja, BA word soms die Parys van Suid-Amerika genoem. Ek sal baie graag volgende keer Hanoi toe gaan, hierdie slag het ek net vyf dae en gaan net in Saigon en omgewing bly.