Thursday, August 31, 2006

Waar kom jy vandaan


Wie was jou oupa?

Ek is soms graag 'n toeris in my eie land. Ek was nou 'n paar dae in Roodepoort, vlieg more na Bangkok. Toe ek nog 'n klein seuntjie was en met verwondering in my oe" gedroom het oor al die verre lande, het baie mense my erg kwaad gevra of ek darem my eie land ken. Ek is baie trots om te erken dat ek waarskynlik al meer van my eie land gesien het as die meeste mense. Die noorde van KwaZulu-Natal is omtrent die grootste uitsondering, verder was ek al van Thohoyandou tot Hermanus, Kokstad tot Springbok, Matatiele tot Uniondale en so gaan dit aan.
Vandag het ek Maropeng, die nuwe besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom, net buite Krugersdorp, besoek. Dit is ook die deel van die land waar ek grootgeword het.
En wat 'n wonderlike ervaring was dit nie. Daar is geen plek op hierdie hele aardbol wat kan spog dat hy die beginpunt van die mens soos ons hom vandag ken, was nie, behalwe hier net buite my grootword-plek. Omtrent 200 000 jaar gelede het die eerste moderne mense hier gewoon. Dis die plek met die meeste geskiedenis ter wereld.
Ek was al baie in die Sterkfontein-grot (Mev. Ples se huis), en ook by Kromdraai se Wondergrot, waar nog fossielvondste gedoen is. Maar Maropeng is nuut. Die Wieg van die Mensdom is 'n Werelderfenisgebied (in my skooldae was daai die omgewing waar die maplotters gewoon en mekaar gedonner het as hulle lus kry, maar dinge verander . . . )
Nou (die maplotters is nog daar, so effentjies) is daar 'n skouspelagtige nuwe besoekersentrum op die rand van die Magaliesberge. Toe ons vandag soontoe ry, was die gras vaal en die lug vol stof, tipiese Hoeveldse wintersdag, maar allerhande ou herinneringe het vir my teruggekom. Daar is darem net iets spesiaal aan hierdie soort dae. Ek het sommer weer gedink aan al die drome van 'n jong seun, wat daarvan waar geword het en waaroor ek steeds droom, dit alles danksy die skerp wintersluggie en die stof wat oor die berge gewaai het.
En toe kom ons by Maropeng, wat 'n meesterstuk van SA argitektuur is. Van ver lyk dit soos niks, 'n vaal grasheuwel, maar die sentrum is so gebou dat dit inpas by die omgewing, grotendeels ondergronds en wat bogronds is, pas goed in. Binne is wonderlike uitstallings oor evolusie, wat jy bereik deur met 'n bootjie op 'n ondergrondse meer te vaar, met donderweer wat klap en bliksemstrale wat blits. Alles baie opwindend.
My ma was bietjie ontsteld oor die hele evolusie-ding, want waar pas die Bybel dan in, wou sy weet. Ek het nie lus gehad vir 'n lang, filosofiese gesprek daaroor nie, maar my verduideliking was bloot dat selfs die Big Bang gesien kan word as die skepping, en vandaar het ons as mense ontwikkel. Soos toe die Hemel en Aarde geskei is, vra sy toe. Netso! Sy was tevrede daarmee.


Die Maropeng-sentrum se ingang. Dit lyk asof dit net 'n grasheuwel is. Die mure van die koepel daar voor is inderdaad met gras beplant.


En wanneer jy al die ondergrondse tonnels bekyk het, dan kom jy hier uit, met 'n uitsig van die Magaliesberge voor jou en hierdie baie aardse gebou agter jou. Dis mos slim, relevante bouwerk hierdie, g'n Toskaanse twak nie.


Die agterkant van die sentrum kyk uit oor die Magaliesberge, daar is 'n restaurant, skemerkelk-kroeg en ontspannings-'lounge' waarvandaan jy oor die berge kan tuur. En die hele gebou smelt saam met die omgewing.

1 comment:

PienkZuit said...

Klink vreeslik interessant. Ek sal moet gaan, volgende keer wat ek daar bo is.