Saturday, August 19, 2006

Nuwe buurman


In my laaste jaar of wat by Die Burger was ek die sterreman, ek het allerhande artikels geskryf oor die sterre en planete, meer uit belangstelling as noodwendig indiepte kennis, maar ek het dit vreeslik geniet en gevolglik ook 'n gesonde, voortdurende belangstelling in die diepste buitenste ruimte opgetel. (My belangstelling het natuurlik voortgevloei uit my gastehuis op Sutherland, ek moes darem my gaste beindruk met my kennis, en my teleskoop soortvan kon gebruik). In elk geval, nou lees ek die laaste paar dae in die koerante daar gaan moontlik binnekort twaalf planete (in ons Melkweg) wees, en nie net nege nie.
Fassinerend, dink ek. Ek wonder hoe die skrywers van die sterre voorspel dit gaan hanteer?
Ek het destyds by die koerant baie graag Nasa se webwerf hier en die Europese Suidelike Sterrewag se webwerf hier besoek, veral die ESO se webwerf is wonderlik, daar is pragtige foto's van dinge wat mens nie aldag sien nie. Ek sien ook vandeesweek SALT (die Sutherlandse groot teleskoop) het 'n groot ontdekking gemaak, maar daar is geen foto's op SALT se webwerf nie! Vir wat nie? SALT is veronderstel om netso goed of beter as die ESO se groot teleskoop te wees, dan moet hulle dit mos wys op hul webwerf dink ek.
Vir diegene wat kinders op skool het en nie die koerantartikels naby het nie, hier is die twaalf nuwe planete, van naaste aan die son tot verste: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Ceres, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus, Pluto, Charon en 2003 UB313 (miskien sal hulle die laaste een Xena noem). Dis nog nie amptelik nie, teen 26 Augustus sal ons weet of ons nou nog 'n buurman gekry het, net anderkant Mars (dit sal Ceres wees). Die ander nuwe planete is te ver weg om te dink aan kuiertjies daar.

3 comments:

maeree said...

ek kan verstaan dat ons nou eers hoor van charon en ub313... maar ceres? waar het sy die hele tyd weggekruip?
die astrolo"e het nou 'n verskoning vir elke verkeerde voorspelling!

rondloper said...

Jy's heeltemal reg oor Ceres - val omtrent letterlik skielik uit die lug.

Anonymous said...

Ja en nou is die obskure Pluto ook ontneem van sy titel. Hoe gaan die rympie..? Meneer Van As My Jas Sal U Nie Pas. Wonder hoe ons nou al die planete in volgorde gaan onthou. Totsiens Pluto...