Sunday, August 06, 2006

Vrydagaand


Ek het hierdie DVD in Phnom Penh gekoop. Daar is 'n DVD-winkel net so naby die Onafhanklikheidsmonument op 'n groot, besige straat, van buite lyk dit baie indrukwekkend en groot, en above board. Maar die DVD's kos almal net $2 een, en vir elke vyf wat jy koop, kry jy een gratis. So dis seker alles fakes. Maar dis iets vir 'n ander post. Interessant genoeg was daar natuurlik DVD's soos The Killing Fields, hierdie een, en ook baie prominent uitgestal was Hotel Rwanda. As jou eie land 'n volkslagting beleef het, voel jy seker 'n mate van belangstelling of selfs aangerokkenheid tot 'n ander plek waar dit ook gebeur het.
In elk geval, gisteraand begin kyk daarna (ja, as ander mense op Vrydae-aande aan die kuier raak, sit ek by die huis en kyk dokumentere programme. Wel, minstens hierdie naweek, ek is in 'n cocooning-bui). So, die video is ongelooflik intens.
Dis 'n klompie oudsoldate van die Khmer Rouge en twee van hul gevangenes wat oorleef het (net omdat hulle gevange geneem is enkele dae voordat Vietnam Phnom Penh bevry het) en die groepie ontmoet by die Tuol Sleng-tronk (nou 'n museum, alles is letterlik netso gelos deur die Vietnamese, as herinnering aan wat gebeur het) en dan herskep die deelnemers wat daar gebeur het. Vir my wat baie vreemd was, is dat nie een van die oud-Khmersoldate ooit erken hulle was verkeerd nie. En die ironie is dat daar letterlik nog tienduisende van hulle vry in Kambodja rondloop. Logies ook, want almal wat nie Khmer Rouge-ondersteuners was nie, is doodgemaak. Tussen 2 en 3 miljoen van hulle. Ek dink net dit moet verskriklik wees vir 'n nasie om te weet die kans is goed dat die mens wat langs jou op die bus ry, waarskynlik 'n massamoordenaar was. Ek weet hulle beplan hofsake vir van die leiers van die Khmer Rouge wat nog oor is, maar of dit ooit gaan gebeur, sal mens maar moet sien. Ek vra myself die vraag, hoe gebeur dit dat mense skielik in diere verander en hul eie broers en susters (letterlik, of selfs ouers) vermoor ter wille van Die Party. Dis wat daar gebeur het.
Ek dink nie mens sal ooit weet wat in die mense se koppe aangegaan het nie, dit interesseer my baie. Toe ek nog op skool was, het ek een keer 'n roman deur PJ Haasbroek, 'Die Jaar Nul' gelees. Dis gebaseer op Kambodja, dit het my vreeslik geruk al was dit bloot 'n storie (gebaseer op die waarheid). Ek het baie jonger Kambodjane ontmoet wat natuurlik eers na die Khmer Rouge se tyd gebore is, hulle praat nie oor wat gebeur het nie. Ek was saam met 'n Kambodjaan by een van die Killing Fields, hy het ons rondgewys, maar toe later tjoepstil geraak en op pad terug niks gepraat nie. Ek dink dan dat iets soos die WVK wat ons hier gehad het, regtig tog nodig was, en baie goed gedoen het. Mens wil minstens bietjie huil en skreeu oor wat verkeerd was, en die ou wat verkeerd gedoen het hoor erken dat hy verkeerd was, en dan gaan jy aan. Maar in Kambodja is daar bloot stilte. En dit fassineer my.

2 comments:

Anonymous said...

Ek wil leen asseblief.
En mense verander nie in diere as hulle so optree nie. Diere maak slegs dood vir oorlewing (dws om te eet, voort te plan en gebied te beskerm) en nooit meer as wat nodig is nie.
Weet nie wat die antwoord is nie

Lammervanger said...

Dit is so moeilik om in daai lande by iemand uit te kom wat werklik kan/weet hoe om oor die emosies te praat wat hy werklik voel. Ek skat hulle is so gewoond daaraan dat as jy uitstaan of anders dink is dit jou einde... Amper onmoontlik om te glo dat so iets kan slaag daarin om amper te verdwyn.