Monday, August 14, 2006

Sterre en so

My kop werk oortyd na aanleiding van 'n baie interessante gesprek op slapendehonde oor Buck Rogers en toe lei dit tot 'n vraag oor die TV-program Interster. Ek onthou die program baie goed, dit was marionette (baie gevorderd) wat altyd met hul ruimtetuie uit die Kaap vertrek het om mense te gaan red. Maar toe raak ek verward, want daar was ook Redding Internasionaal, wat die Afrikaanse weergawe van die Britse Thunderbirds was. Die twee (Interster en Redding Internasionaal) is amper presies dieselfde wat karakters aanbetref. Ek het onlangs, ek dink dalk in Thailand, 'n paar episodes van Thunderbirds gesien en dit het my heeltemal verwar, want ek het onthou dit speel af in die Kaap, maar Thunderbirds doen nie, en ek het nie dadelik besef dit was twee verskillende programme nie. Nou na aanleiding van die bogenoemde blog-gesprek het ek besluit hierop wil ek 'n antwoord he^.
Na deeglik navorsing, het ek tot die volgende gevolgtrekking gekom. Ek dink Interster was 'n skaamtelose nabootsing van Thunderbirds, omdat die SAUK in daai jare (laat 70's en vroee 80's) skielik nie meer Britse reekse kon bekom oor die Equity-verbod nie.
Dit werk so: Thunderbirds is in die 1960's begin, die SAUK het eers in 1976 met TV-uitsendings begin.
In 1972 en veral in 1976 het die Equity-verbod stewig ingeskop. Nou ek raai dat die SAUK dalk een of twee reekse van Thunderbirds gekoop het voor die verbod, dit vertaal en gewys het, en dit was uiters gewild. Toe raak dinge moeilik, en wat moet hulle nou se^ vir al die Afrikaanse kindertjies wat graag wil sien wat die manne van Redding Internasionaal doen?
Maak 'n nabootsing! En Interster is in die laat 1970's en vroee 1980's uitgesaai, die datums maak vir my sin. Volgens sommige webwerwe 1983.
Ek dink dus dit is wat gebeur het, en toe raak Interster sommer baie gewild, ek is een wat regtig graag daarna gekyk het. En as jongeling was Interster en Redding Internasionaal vir my dieselfde program - die base by die SAUK het daarin geslaag om vir die wit jeug te wys daar is niks fout in die we^reld nie, terwyl Soweto brand en die we^reld al meer sanksies toegepas het, het ons kalm lewens ongestoord voortgegaan. Sommige websites beweer Interster was vol politieke boodskappe, maar ek kan dit nie meer onthou nie.
My inligting kom veral van Wikipedia en allerhande gespreksforums.

3 comments:

Anonymous said...

Al wat ek van Interster kan onthou is Kaptein Borman en die 'fake' ontploffings, soortgelyk aan diƩ wat 'n mens deesdae nog te siene kry in low budget aksie flieks op SABC1. Ai, en hulle het sulke mooi gladde hare gehad.

Anonymous said...

Oeps...Ghorman

rondloper said...

Ghorman of Borman? Snaaks, ek onthou sy naam ook as Borman.