Saturday, July 22, 2006

Podcast101

Miskien preek ek vir die converted. Dit gaan steeds oor podcasts. Ek was eens op 'n tyd regtig nie 'n groot fan van Apple en die ipod nie, ek het een gekoop en was aanvanklik bietjie teleurgesteld - nou kan ek met skaamte erken dis omdat ek net doodeenvoudig dom was en die ding nie ten volle benut het nie. Ek het selfs toe 'n ander MP3-speler gekoop, wat aanvanklik vir my makliker was om te gebruik, maar nou is ek weer terug by Apple. Dit is darem net regtig so eenvoudig, nadat jy itunes afgelaai het, is daar niks meer om te doen nie, hy laai elke keer self alles wat nuut is.
Maar eintlik wil ek skryf oor Indiefeed, dis een van die podcasts wat jy op itunes kry, dis musiek. Gratis! Jy kan verskeie soorte musiek kies, soos folk, electronic, alternative rock en so aan. Dis nie eintlik mainstream nie, en is waarskynlik juis daaroor wonderlik. Ek laai byna daagliks 'n nuwe folk song af, en as daar genoeg is, kan jy 'n CD maak van al die nuwe liedjies, vir niks geld nie. Die hele doelwit met hierdie spesifieke podcasts is om die kunstenaars aan 'n wyer gehoor bekend te stel, en dit werk soos 'n bom.
Jy kan waarskynlik Indiefeed se podcasts aflaai op ander soorte MP3-spelers ook. Maar as jy 'n tegnofoob is soos sekere mense wat ek ken en nie hier gaan identifiseer nie, is die maklike oplossing om itunes af te laai en dit te gebruik, want die program doen alles vir jou. (Ek weet podcasts is nie eksklusief 'n Apple-ding nie.)
Maar, al het jy nie 'n ipod nie, kan jy steeds itunes aflaai van die internet af (gratis) en dan ook inteken op enige van hulle derduisende podcasts, wat jy op jou rekenaar kan aflaai en kan brand op CD. Ek dink dis ongetwyfeld die maklikste manier. Jy sal dit waarskynlik nie kan aflaai op 'n ander soort MP3 nie, want AAC-files (Apple se musiekfile) kan meestal nie op enige ander speler gespeel word nie. Maar jy kan wel luister op jou rekenaar.
Ek sien daar is nou 'n hofsaak in Frankryk aan die gang, een of ander drukgroep wil Apple dwing om itunes beskikbaar te maak as enige soort musiekfile, dat jy dit dus op enige speler kan speel. Interessante kwessie, want Apple het itunes geskep om 'n eksklusiewe produk te skep wat jy net op die ipod kan speel, dus moet jy die ipod koop en Apple maak geld want itunes is so wonderlik dat almal 'n ipod wil he^. Dis seker die redenasie gewees.
Dit was, moet ek bieg, aanvanklik een ding wat my gepla het van die ipod, jy kan nie eintlik eingiets anders doen met jou musiek behalwe dit op die ipod speel nie. Maar nou het ek uitgevind jy kan wel CD's brand, en jy kan natuurlik dit as jou default-speler op jou rekenaar gebruik, wat tog lekker is, want dis 'n baie gerieflike program.
Dat ek nou so oop en bloot loop en vir Apple adverteer! Mens sou dink ek word betaal daarvoor. Ek sal graag wil weet hoeveel mense is ipod-ondersteuners en hoeveel gebruik ander soorte MP3-spelers (Windows-gebaseer), want jy kan nie eintlik albei gebruik nie - dis net te veel moeite. Watter een is die beste? Kom ons stem!

4 comments:

lolla said...

ek is 'n creative ondersteuner. jy kan enige program gebruik om musiek af te laai, die kwaliteit is uitstekend en baie gebruikersvriendelik. ek het die creative zen vision m en is heel in my noppies daarmee. jy kan ook na radiostasies luister en dit dan direk op jou speler record. ek het nog self nie podcasts ontdek nie, want ek spandeer bittermin tyd voor my rekenaar.

rondloper said...

Ek is self 'n Creative-man. Nadat ek aanvanklik nie tevrede was met my ipod nie, het ek ook 'n Zen Neeon gekoop, baie kleiner en makliker om te gebruik, maar nou het ek weer teruggekeer na ipod - veral vir die podcasts wat vir my makliker werk daarop.

Anonymous said...

Behalwe nou vir die Creative Zen is die keuse tussen iPod en 'n ander mp3 speler meer 'n koste kwessie, dink ek. 'n 256MB speler (wat genoeg is vir 'n dag se luister) kan jy vir onder die R400 kry.

Maar dankie vir die podcasts hint! Het nie geweet iTunes bied hierdie tipe ding aan nie.

rondloper said...

Jy is reg oor die prys, tensy jy dit in die buiteland koop, my Zen Neeon was maar R800 vir 5 gig, gekoop in Singapoer.